Die Here se verlossingsplan (48:1-13) – Francois Malan

Die hoofstuk het Jesaja se bekende temas: die verheerlikking van die Here; die val van Babel; die bevryding van Israel. Die gedig stel bevestiging en bestraffing teenoor mekaar, want die Here is wonderlik sorgsaam, wat as die enigste heerser ook eise stel. Die woord shema ‘hoor’ word in v1 gebruik as ‘n uitnodiging om te luister (gehoorsaam), in v3 bekendmaak (aangekondig),  in v5 aankondig, in v20  laat hoor (aankondig). Israel se toekoms as ‘n gemeenskap hang af van luister na die beloftes van die Here en ag slaan op die bevele van die Here. Hoor beteken om jou lewe oor te gee aan die goeie heerskappy van die Here en ander lojaliteite prys te gee (vgl. Jesus se boodskap oor die koningskap/koninkryk/koningsheerskappy van God in die drie sinoptiese Evangelies).

48:1 Israel word opgeroep om te hoor, dit is om te luister, te gehoorsaam en te vertrou. Dit plaas Israel in die bevoorregte posisie dat die Here aan hulle aandag gee en oor hulle besorg is. Hulle geskiedens gaan terug tot by hulle voorvader Jakob, hulle roep die Here as getuie by hulle eedswering en aanbid die God van Israel, die verbondsnaam wat die Here aan hulle voorvader gegee het (Gen 32:28). Maar dit word nie in waarheid gebruik en nie in geregtigheid uitgeleef nie. Die profeet wys op Israel se dubbelhartigheid, op hulle inkonsekwente toewyding aan die Here.

48:2 Hulle beskou hulleself nog steeds as burgers van die Godstad Jerusalem, al woon hulle al lank in die vér land,  en hulle steun op die hulp van die Here van die leërskare in hulle ballingskap. Daarom word hulle opgeroep om gehoorsaam te luister na wat die Here, wat die ganse skepping beheer, vir hulle sê.

48:3 ‘Die vorige dinge het Ek vooraf  duidelik vir julle uitgespel, uit my mond het hulle voortgekom, en Ek het hulle laat hoor/aangekondig; plotseling (of: verrassend) het Ek dit uitgevoer, en dit het onverhoeds gebeur.’ Dat dit plotseling gebeur het, bewys dat dit van die Here kom en dat Israel nie daarop voorbereid was nie. Wat die vorige dinge was, is nie so duidelik nie: dit kan die strawwe wees wat in hoofstukke 1-39 in Jesaja se tyd aangekondig is en plotseling gebeur het toe Nebukadneser 120 jaar later Jerusalem ingeneem het, waarby v4 kan aanpas. Of dit kan verwys na hulle verlossing wat reeds in die eerste 39 hoofstukke voorspel is, en met Kores se optrede onverwags vervul word, wat beter by v5 aanpas.

48:4  Die Here het dit voorspel omdat Hy weet dat Israel eiesinnig is met ‘n nek so sterk soos yster wat nie maklik buig onder ‘n juk nie en ‘n voorkop so hard soos brons – Israel luister nie maklik na vermanings nie, wil sy eie kop volg, is dwars en bloos nie maklik van skaamte oor sy gedrag nie.

48:5 Met die vroegtydige aankondiging van Israel se bevryding uit die ballingskap wou die Here vir hulle duidelik bewys dat dit Hy is wat hulle gaan verlos, en nie hulle afgode of afgodsbeelde nie, waarop hulle vertrou het reeds voor hulle in ballingskap gegaan het. Gedurende die ballingskap het baie saam met Babel voortgegaan met hulle dien van die afgode. Daar was slegs ‘n oorblyfsel wat nog op die Here vertrou het, soos in die oertyd met Noag (vgl. Gen 5:9-12;  Eseg 14:20. Hebr 11:7; 2 Petr 2:5) en later in Elia se tyd (1 Kon 19:18).

48:6-8 Die eerste deel van vers 6 verwys na Israel se verlossing (vers 5: wat Ek lank tevore aangekondig het): ‘Jy het gehoor’ – die Here se beloftes van verlossing uit die ballingskap, soos in die eerste deel van die boek, hoofstukke 1-39, uit die tyd van  die profeet Jesaja 120 jaar tevore. ‘Kyk!’ – jy moet kyk na die visioen wat aan hulle oorgedra is deur die profeet. Nou gaan julle dit sien gebeur. Gaan julle dit nie verkondig/aan die groot klok hang nie? (iets hoog en duidelik onmiskenbaar voor iemand plaas).

Die nuwe dinge wat die Here hulle van nou af gaan laat sien is hulle verlossing deur Kores. Dié plan van die Here was vroeër vir hulle verborge en onbekend – die Here het dit vir hulle verberg want so iets het nog nooit voorheen gebeur dat volke vrygelaat is sonder ‘n opstand of ‘n geveg nie, en Israel kan nie sê: ek het geweet die Here gaan so optree nie. Want die Here ken Israel, dat hulle misbruik daarvan sou gemaak het en vir hulleself roem toegeëien het asof húlle dit beplan het; want van die moederskoot af word jy ‘n rebel genoem – in opstand teen die Here en sy groot verlossingsplan. Dit is ‘n nuwe skepping wat die Here beplan het (bara ‘skep’ v7; nou word dit geskep; 1983-vertaling Ek gaan dit nou doen). Die besluit van Kores is in 2 Kronieke 36:22-23 en Esra 1:1-4 opgeteken.

48:9-11 Vers 9 begin met wat die Here doen ter wille van sy Naam en van sy eer (Hy bedwing sy toorn oor Israel en vernietig hulle nie – ten spyte van hulle sonde; die Nuwe Testament noem dit genade, soos in Eks 34:6-7, vgl. Num 14:13-16), en vers 11 sluit af met wat Hy nie toelaat om met sy Naam en sy eer gedoen te word nie (dat sy Naam  onteer word en sy eer aan iemand anders gegee word). Dit is die motief vir die Here se optrede met Israel en met Kores. Die nasies het geweet die Here is die God van Israel. As Hy Israel sou uitwis sou die nasies dink dat Hy nie meer bestaan nie, dat Hy uitgewis is soos die afgode van verslane volke. Nou kan hulle sien die Here het sy volk met die ellende van ‘n  70/200-jarige ballingskap gestraf, en Hy bring hulle weer terug, ná hulle loutering, wat erger is as die loutering van silwer deur vuur (Jeremia 11:4 noem Israel se 400jaar in Egipte die ystersmeltoond; vgl. 1 Petr 1:6-7).

v11 ‘Ter wille van Myself en daarom alleen, doen Ek dit’ – in 45:4 het die Here vir Kores gesê, ter wille van Israel het Hy hom geroep; in 45:6 sodat alle mense kan weet dat daar buiten My geen God is nie.

48:12-13 Soos in 48:1 begin die slotdeel van die hoofstuk ook met ‘n oproep van die Here tot Jakob/Israel om na Hom te luister, na Hom wat met hulle praat, en wat Hy sê: ‘Ek is Hy (41:4 Ek Jahweh Die ‘Ek is’ die persoonlik teenwoordige, van Eks 3:14), Ek is die Eerste (re’sjon, die hoof wat voor alles was en wat alles begin het), Ek is ook die laaste (‘ageron, wat agter alles is en ook die laaste sê het). Met menslike terme verduidelik die Skepper: my hand het die fondamente van die aarde gelê (soos ‘n bouer ‘n huis vir mense bou), en my regterhand het die hemelkoepel uitgesprei (soos ‘n tent as ‘n beskerming vir mens en dier). Die Here roep die aarde en die hemelkoepel op en hulle tree soos twee soldate aan, wat saam vorentoe staan vir diens, op aandag en gereed om sy bevele te gehoorsaam (maar Israel het nie geluister toe die Here hulle voor die ballingskap dikwels opgeroep het nie, 48:18). Hierdie majestieuse Here van die hele skepping noem Jakob/Israel op sy naam en noem hulle ‘my groepenes’ – die mense wat aan Hom behoort ten spyte daarvan dat hulle hulle rug op Hom en sy woord gedraai het.

Skrywer:  Prof Francois Malan