Die seënuitsprake van Jesus (11)

Die seënuitsprake van Jesus (11)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseën is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Nou dat ons weet wat sagmoedigheid is, moet ons kyk na sagmoedigheid in die praktyk. Hiervoor gaan ons na vier voorbeelde in die Bybel kyk

 

  1. Moses: sagmoedigheid as jy teengestaan word

 Moses was ‘n uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde (Numeri12:3). Moses was al oud toe God hom geroep het om die Israeliete uit Egipte te lei. Op daardie stadium was hulle al 400 jaar lank slawe in Egipte. Deur God se genade slaag hy daarin.   Dit was Moses wat sy hand oor die see uitgesteek het, en die water het verdeel sodat die Israeliete kon deurbeweeg. Dit is hy wat die stomp op die water by Mara gegooi het en die bitter water het soet geword. ‘n Mens sou verwag dat sy mense dankbaar sou wees vir alles wat hy vir hulle gedoen het, maar hulle kla en Moses is die fokus van hulle klaery. Die volk verwyt Moses: “Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat omkom?’ (Eksodus 17:4). Hulle het dit selfs oorweg om vir Moses dood te maak. In plaas daarvan dat hy sy mense slegsê, reageer hy met sagmoedigheid. Hy bid vir hulle en dien helle. Op een stadium sê hy selfs vir die Here dat hy gewillig was om sy lewe vir hulle af te lê (Eksodus 32;32). Hierdie is sagmoedigheid en nie swakheid nie. Hierdie is krag onder beheer gevorm in Moses deur volledige onderwerping aan God.

 

  1. Dawid: Sagmoedigheid as jy uitgelok word

Dawid moet die optrede van Simeï verduur. Hy was lid van die huis van Saul en het niks goeds oor Dawid te sê gehad nie. Dawid is deur God as koning gesalf en Saul was lank reeds dood. Hy het sover as wat hulle geloop het vir Dawid gevloek en onder die klippe gestaak. Abisai, een van Dawid se manne vra vir Dawid: Waarom vloek hierdie lae hond die koning?  Laat ek sy kop vir hom gaan afkap (2 Samuel16;9). Wat sou jy gesê het as jy in Dawid  se skone gestaan het? Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee. Miskien let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking  (Eksodus 16:11 – 12).

 

Dawid het al die mag van sy lojale manskappe tot sy beskikking gehad. Met ‘n enkele opdrag kon hy Simeï se optrede beëindig het. Maar hy bewys sagmoedigheid ten spyte daarvan dat hy erg uitgelok word. Thomas Watson sê van God: God puts up with us when we dishonor Him. Even when he is provoked, He restrains the judgement that would crush us, that is meekness: controlled strength.

 

  1. Paulus: Sagmoedigheid as jy teleurgesteld is.

Paulus het geswoeg en oral kerke geplant. In die proses het hy baie swaar gekry. Soos almal van ons het hy die gebede, hulp en aanmoediging van ander gelowiges nodig gehad. Hy vra dan ook dikwels vir hulle gebede in sy briewe. Soms was hy ryklik geseën deur die gebede van sy broers en susters in Christus. Soms het hulle hom teleurgestel. Een so ‘n geleeentheid was toe hy gearresteer is. Toe sy saak begin was daar niemand om hom te ondersteun nie. Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie. Almal het my in die steek gelaat (2 Timoteus 4:16). Na alles wat hy gedoen het, was dit redelik om te verwag dat iemand in die hofsaal sou wees om hom te ondersteun. Hy kyk rond vir ‘n vriendelike gesig en sien nie een nie.

 

Teleurstelling lei dikwels tot bitterheid wat in jou soos ‘n kanker kan groei. In plas van bitterheid gee Paulus hier vir ons ‘n goeie voorbeeld van sagmoedigheid. . Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie. Almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie! iets verkeerd is gedoen, en die een aan wie dit gedoen is soek die goeie van diegene war hom teleurgestel het. Dit is sagmoedigheid. (2 Timoteus 4:16).

 

  1. Jesus: sagmoedig as jy ly

Dié voorbeeld van beheerste krag is ons Here Jesus Christus: toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie terug gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel (1 Petrus 2:23).

 

Dink aan die soldate wat Hom gespot het, die manne wat Hom aan die kruis vasgespyker het, die diewe wat Hom beledig het en die skare wat vir Hom gelag het terwyl Hy gely het. Hy kon met oordeel gedreig het. Inteendeel, ons Here sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie (Lukas 23:34). Hoe doen Hy dit? Petrus sê Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra (1 Petrus 2:24). Sagmoedigheid sluit in die dra van ander se sondes. Dit is die enigste hoop wat ons het om die oneindige siklus van vergelding te breek.

 

Ons leef in ‘n land van hofsake. Dit is ook besig om die kerk te infiltreer. Ons moet weer die sagmoedigheid waarvan Jesus gepraat het, ontdek.

 

Die bron van sagmoedigheid

Jy kan nie begin deur te besluit om sagmoedig te wees nie. Daar is ‘n orde en vooruitgang in die seënuitsprake. Jy kan hierdie derde seënuitspraak bereik net deur die eerste twee seënuitsprake. Jy begin as jy besef dat jy nie het wat nodig is nie. Jy kom na God met leë hande. As jy dit sien, is die tweede ring van geestelik te treur binne jou bereik. Sagmoedigheid spruit voor uit geestelike armoede en geestelike treur. As jy jou eie sondes sien, sal dit jou sagmoediger maak teenoor die sondes en foute van ander.