Die skaapwagters

 

A proud man is always looking down on things and people, and, of course, as long as you’re looking down, you can’t see something that’s above you – C. S. Lewis

 

Die skaapwagters

As jy vandag na Kersfees sou kyk, wat sou jy dink is die doel daarvan? As jy na al die aktiwiteite en voorbereidings kyk, mag jy dalk dink Kersfees gaan oor partytjies, Kersvader, geskenke en versierings. Sou jy vir een oomblik gedink het dit het iets met godsdiens te doen? Waarskynlik nie. Meeste mense weet dat Kersfees ‘n godsdienstige verbintenis het, maar die fokus is op kultutele tradisies en nie die geestelike betekenis van Kersfees nie.

 

Maar wat van ons as gelowiges? Hoeveel tyd spandeer ons om na te dink en bly te wees oor die wonder van God wat na die wêreld gekom het? Kom ons kyk weer na daardie toneel waar die eerste boodskap van Kersfees gegee is (Lukas 2:12 – 20). Dit lyk nou nie vir ons soos wat Kersfees behoort te lyk nie – geen bome en liggies nie. Daar is net ‘n groep skaapwagters wat oor hulle skape die wag gehou het. Hulle was nie belangrik of invloedryk of magtig nie. Die Jode het hulle as vuil en van ‘n laer sosiale klas gesien. Tog kies God juis vir hulle om die belangrikste geboorteaankondiging in die geskiedenis van die wêreld te verkondig. Wat was hierdie boodskap wat die wêreld so radikaal verander het?

 

  1. Dit was ‘n boodskap uit die hemel

Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik (2:9). As God ‘n boodskap vir sy mense gehad het, het Hy gewoonlik ‘n profeet gestuur. Hierdie gebeurtenis was so belangrik dat Hy sy boodskap direk uit die hemel met ‘n engel gestuur het. Die heerlikheid van God was sigbaar – dit het rondom hulle geskyn. Dit is ‘n bewys dat die boodskap uit die hemel uit kom.

 

  1. Die boodskap van die engel was ‘n universele boodskap

Ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (2:10 – 11). [Die King James verwys na all people en nie na die hele volk nie. Die NIV na all the people.] Hierdie is dus goeie nuus vir alle mense van alle tye. Hierdie baba gaan die verlossingspad vir alle mense oopmaak. Let wel die engel gebruik drie titels vir hierdie baba:

  • Verlosser – anders as vorige aanspraakmakers op hierdie titel was Hy werklik die ware Verlosser.
  • Christus – die Gesalfde, die langverwagte Messias. Uiteindelik het Hy gekom.
  • Here – hierdie baba was Goddelik. Die skaapwagter moes die verbinding gemaak het, want die Jode het hierdie titel aan God gegee.

 

  1. Die boodskap van die engel kondig vrede aan

Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het (2:13 – 14). Vanuit ‘n Joodse perspektief sou vrede net moontlik wees as die Messias die Romeine oorwin het. Maar politieke vrede is nie wat die engel in gedagte gehad het nie. Daardie soort vrede kom eers as Jesus Christus weer kom en oor die aarde heers. Daar is drie soorte vrede wat Christus se lewe, dood en opstanding moontlik maak:

  • Omdat ons van God vervreem is deur die sonde bring Jesus se versoenende dood ons terug na vrede met God.
  • As ons Hom deur geloof aanvaar het, gee Hy aan ons die interne vrede. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:70.
  • Deur God se inwonende Gees het ons ook vrede met ander mense. Hierdie vrede is vir almal wat Jesus Christus as Verlosser ontvang, want hulle is die mense in wie Hy ‘n welbehae het.

  1. Hierdie boodskap moet gedeel word

Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het (17 – 18). Hierdie was nie ‘n aankondiging wat hulle vir hulleself kon hou nie – die hoop van die mensdom lê in daardie krip.

 

Dit is vandag steeds waar. Jesus is die enigste Een wat ons kan red. So baie mense moet hoor waarom Hy aarde toe gekom het. Ons wat die boodskap gehoor en aanvaar het, het die verantwoordelikheid om ander daarvan te vertel – daar is geen beter geleentheid as juis op Kersdag nie. Ons kultuur het die ware betekenis van Kersfees vergeet. Daarom is dit die ideale geleentheid om God se Seun in die feesvierings terug te bring.