Die soeke na die diepste antwoord

 

The essence of gospel-humility is not thinking more of myself or thinking less of myself, it is thinking of myself less (Tim Keller).

 

Die soeke na die diepste antwoord

Ons leef in ‘n glodale tydperk. Die globale tyd is ‘n produk van die Weste, net soos die Weste grootliks ‘n produk van die Christelike geloof is. Die Christelike geloof is die wêreld se eerste waarlike globale geloof. Wat is verkeerd met die Christelike kerk in die Weste as die kerk in die Suide en oor die wêreld ontplof, maar in die Weste is dit ontrou en besig om agteruit te gaan? Hoe verklaar ons die geestelik dorre situasie in Wes-Europa, Kanada, Australië en Nieu-Seeland? In die VSA is die kerk numeries steeds sterk, maar is oppervlakkig en lawaaierig. Geen wonder die mense sien neer op die kerk nie.

 

Die grootste uitdaging vir die Westerse kerk kan in drie woorde opgesom word: integriteit, geloofwaardigheid en beleefdheid/vriendelikheid. Die grootste hiervan is integriteit. Ten opsigte van Jesus Christus moet ons weer die integriteit van ons geloof herwin. Ten opsigte van buitestanders moet ons weer die geloofwaardigheid van die kerk herwin. Ten opsigte van mense van ander gelowe moet ons weer die beleefdheid van ons geloof herwin. Dit is die uitdaging as ons getrou aan ons Here wil wees, maar terselfdertyd betrokke by die lewe in hierdie moderne lewe wil wees.

 

Daar is honderde boeke wat vir ons sê dat die kerk probleme het. Min boeke sê egter vir ons hoekom. Wat veroorsaak die probleme in die Westerse kerk? Daar is baie antwoorde – baie van hulle is onvoldoende of verkeerd. Daar moet ‘n dieper, meer omvattende rede wees. Ons het die gees, styl en sisteem van die wêreld aanvaar – ‘n ontrou wat die krag van die kerk tap. Hoe het ons dit gedoen? Ons is ondermyn deur die moderne wêreld wat die Christelike geloof gehelp het om tot stand te bring.

 

Eenvoudig gestel: Die Christelike geloof het beslissend bygedra tot die opkoms van die moderne wêreld, maar dit is beslissend deur hierdie moderne wêreld ondermyn. Die Christelike geloof het sy eie grafgrawer geword.

 

Die vraag vir die volgelinge van Jesus in die Westerse wêreld vandag is: Kan ons die volle integriteit van geloof in Christus herwin terwyl ons ten volle betrokke is by die moderne wêreld?