Die soewereiniteit van God

Die soewereiniteit van God – Francois Malan

Helene vra:

Die Soewereiniteit van God. Wat beteken dit en waar kom ons dit in die Woord teë.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord ‘soewereiniteit’ beteken oppermagtige heerskappy, afgelei van ‘soewerein’ die gebieder of regeerder wat met die hoogste gesag beklee is. Die woord kom nie in die Bybel voor nie, maar die saak wel. Op ‘n klomp plekke praat die Bybel van God  die Almagtige.

In Genesis 17:1 openbaar God Hom self aan Abraham as die Almagtige wat met Abraham ‘n verbond sluit en belowe dat Hy hom die vader van baie nasies maak. Paulus verwys na hierdie belofte in Romeine 4:16-17 wat vervul is omdat almal wat in Christus glo deel uitmaak van die baie nasies van die belofte. In Eksodus 6:2 sê die Here aan Moses dat Hy die Almagtige is wat Israel uit hulle slaweskap in Egipte gaan verlos, en doen Hy dit deur 10 plae oor Egipte te stuur. In Job word God 31 x die Almagtige genoem.

In 2 Korintiërs 6:18 sê die Here die Almagtige dat Hy ons God sal wees wat onder ons

woon en wandel, en ons sal sy volk wees (dit is sy genadeverbond met ons). Daarom moet ons die sonde los en nie saam met die ongelowiges gaan nie. Hy sal vir ons ‘n Vader wees en ons sal sy seuns en sy dogters wees. En in Openbaring word God 8 x die Almagtige genoem.

In Matteus 28:18 sê Jesus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde, en in vers 20 belowe Hy: Kyk Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.

God het die mag om te skep, sy skepping te onderhou en tot sy eindbestemming te lei. Hy het die mag om beloftes te maak en dit te vervul. Hy het die mag om sy Seun na die wêreld te stuur om mens te word om die sonde van die mense weg te neem, en as sy Seun sterwe as offer vir ons sonde, Hom weer op te wek uit die dood, en so ook vir ons uit die dood op te wek. Hy stuur sy Gees om die werk van sy Seun in die lewens van mense toe te pas deur in hulle te kom woon, en van die ou wêreld ‘n nuwe wêreld te maak. Die almag van God is die mag van sy heerskappy wat Hy in wysheid volgens geregtigheid en heiligheid uitvoer.

Ons kan praat van die mag van God se wil, die mag van sy heil/verlossing, die mag van sy liefde, die mag van sy reg.

God wat liefde is (1 Joh.4:8,16), regeer soewerein as die hoogste gesag oor die hele skepping.

1 Korintiërs 15:28 sê: Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Homself onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees in alles.

 

Skrywer: Prof Francois Malan