Die sonde wat nie vergewe kan word nie

Die sonde wat nie vergewe kan word nie

(Markus 3:28 – 29).

 Hierdie is ‘n stelling van Jesus wat baie Christene pla. Staan hierdie stelling nie in teenstelling met 1 Johannes 1:9 nie? Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. Wat is dan hierdie sonde wat nie vergewe kan word nie?

Lee Strobel (in sy Investigating Faith nuusbrief) het na hierdie vraag gekyk. Hy sê dat as jy bekommerd is dat jy dalk skuldig is aan hierdie sonde, is jy feitlik sekerlik onskuldig. Diegene wat skuldig is, sou nie omgee nie, want dit pla hulle nie – geen berou of jammerte nie.

Jesus praat ook in Matteus 12:31 – 32 oor hierdie sonde. Jesus praat hier nie met sy dissipels of die skare nie. Hy praat hier met die Fariseërs. Hulle het persoonlik gesien hoe Hy kort vantevore ‘n man wat blind en stom was – ‘n man in die mag van ‘n bose gees – volledig en onmiddellik genees het (12:22). In plaas daarvan dat hulle sy goddelike mag erken, beskuldig hulle Hom daarvan dat Hy met die aanvoerder van die bose magte – Beëlsebul – saamwerk.

As jy ‘n Christen is, moet jy jou nie bekommer of jy dalk onwetend hierdie onvergeeflike sonde gedoen het nie. As jy hierdie sonde gedoen het, sou jou gewete jou nie gepla het nie – jy sou jou geensins bekommer het nie.