Die Storie van God

The devil is a better theologian than any of us and is a devil still. —A.W. Tozer

Die Storie van God

Daar is pas ‘n nuwe stel Bybelkommentare met ‘n interessante benadering, bekend gestel: The Story of God Bible Commetary.

Die Woord van God verander nie, maar die kultuur verander wel. So kommunikeer ons vandag hoofsaaklik deur die Internet en e-posse, ons lees die nuus op rekenaars en iPads, ons praat met ons vriende waar hulle ook al is met selfone. Kerke het ook verander. Diegene sonder enige kerkverband neem toe; ateïste verkondig hulle sienings van openbare platforms; huisgodsdiens word ‘n rariteit; leraars preek oor onderwerpe wat geen verband met die Bybel het nie … en so kan ons aangaan.

 

Maar daar is ook vooruitgang.  Kerkbywoning in die Suide en Ooste neem toe; vroue neem hulle regmatige plek in die kerk in; die kerk raak meer betrokke by geregtigheid in ons samelewings. Bybellesers verander ook. Hulle vra ander vrae as in die verlede en uit ander hoeke

Die kultuur skuif, maar die Woord van God bly. Ons moet verstaan wat die Woord sê, maar ook wat dit vir ons vandag beteken. Die Bybel verander nie, maar om dit aan ons kultuur te verbind, verander voortdurend op verskillende maniere en in verskillende kontekste. Elke gedeelte van die Bybel  moet in die lig van die oorkoepelende verhaal van die Bybel verduidelik word.

Daarom moet elke gedeelte in die Bybel vanuit drie hoeke bestudeer word:

  • Luister na die storie. Die Bybel is God wat praat. Daarom moet my houding een van luister wees. Ek moet na elke gedeelte luister in die lig van God se oorkoepelende verhaal soos ek dit in die Bybel kry.
  • Verduidelik die storie in die lig  van die Bybel se oorkoepelende storie.
  • Leef die storie. Om die Bybel te lees, beteken nie net dat ek ontdek wat dit destyds beteken het nie. Ek moet ook bepaal hoe hierdie storie vandag uitgeleef kan word. Hoe verplig die storie van God in die Bybel my om vandag in ons wêreld te leef.

Een van die kommentare in die reeks hanteer die bergrede. Ek sal gereeld interessante aspekte in my blogs hanteer. Ek gaan geensins die hele bergrede hanteer nie.