Die straf oor Babel (47:8-15) – Francois Malan

47:8-11 Babilon word opgeroep om die aanklag teen haar aan te hoor. Sy word aangespreek as ‘jy wat in weelde lewe (1983 in wellus), wat sorgeloos sit en in jou hart sê: Ek (is), en (daar is) niemand buiten (my nie)’ – Ek alleen is die gebiedster van die nasies, niemand kan teen my standhou nie. In 43:11; 45:5,6,21; 46:5,9 het die Here gesê: buiten My is daar geen god nie. Nou eis die Babiloniese ryk dié uniekheid vir homself op, met klem op ‘Ek,’ amper soos die naam  Jahweh, die Ek is.

Die beeld van die jongvrou van vers 5 word vervang met die beeld van ‘n vrou en ‘n moeder.  Die kinders verwys na die bevolking. Weduwee en kinderloosheid was van die grootste rampe wat ‘n vrou kon tref en het  haar weerloos en onbeskermd gelaat.  Arrogant beweer Babel dat sy nooit van haar beskermers en haar bevolking beroof sal word nie.

47:9 Die straf pas by die arrogansie van vers 8. In een oomblik, op dieselfde dag en in volle maat sal sy ‘n weduwee en sonder kinders word – in die gemeenskap waar ‘n vrou totaal afhanklik was van haar man en kinders vir beskerming en versorging, is dit ‘n skrikwekkende beeld. Dit gaan gebeur ten spyte van Babel se menigte toorderye wat hulle veiligheid moes waarborg, en hulle sogenaamde wysheid en kennis waarop hulle vertrou, maar  wat as kragtelose beswerings afgemaak word. Niks gaan hulle geweldige verlies aan mense en goedere verhoed nie, nie hulle godediens, tegnologie of kennis nie. Die Babiloniese ryk wat homself mislei, is totaal magteloos en hulpeloos voor die aanslag van die Here.

47:10 Die oordeel word gevel. Jy het op jou bose dade vertrou – tevergeefs het hulle geglo dat hulle groot mag hulle bose geweld en onderdrukking van mense sal bedek, en dat hulle steeds hulle bestaan op slawe-arbeid kan bou (vgl Eks 14:5).  Hulle sê: niemand sien ons nie, maar vergeet van die alsiende oog van die Here. Babel se vertroue op sy wysheid en kennis, hulle ingebeelde kennis van towery en waarsêery,  het hom mislei sodat hy kon sê: Ek en niemand anders nie (vers 8).

47:11 Die straf oor dit alles is onafwendbaar: ‘n ramp wat hulle toorkunste nie kan voorkom nie; ‘n onheil wat ‘n losprys nie kan keer nie, sy onverwagse ondergang. Babel se wysheid en kennis het hulle tot boosheid gelei, wat ‘n ramp geword het en vernietiging. Die huis van leuens stort op Babel ineen.

47:12 In die krisis weet Babel van geen ander hulp nie, en wend hulle nog steeds tot beswerings en toordery. Hulle word uitgedaag om dit te gebruik (soos Elia die Baälpriesters spottend uitgedaag het, 1 Kon 18:27). Die laaste sin sê tweemaal ‘miskien’ (letterlik: of nie) – miskien mag jy daaruit voordeel trek; miskien sal jy dan kan weerstand bied – maar ons weet beter.

47:13 Jy is moeg gemaak deur jou baie skemas/beraadslagings. Soos Babel ywerig besig was met towery, so was sy ook besig om raad en leiding te soek by sterrewiggelary, wat in Babel sy oorsprong het. Laat dié haar nou red en raad gee wat om nou te doen. Hulle deel die hemel in ‘huise’ van die diereriem/sodiak zooön ‘dier’ – die denkbeeldige gordel van 12 sterrebeelde in die hemelruim (ram/aries, bul/taurus, tweeling/gemini, kreef/cancer, leeu/leo, maagd/virgo, weegskaal/libraque, skerpioen/scorpius, boogskutter/arcitenens, steenbok/caper, waterdraer/amphora, visse/pisces) wat die baan van die maan en die planete bevat en volgens die astroloë groot invloed op die mens en sy handelinge bevat. Die sterrewiggelaars voorspel die toekoms van  elke maand  se gebeure. Daarmee was Babel van sy jeug af besig.  Laat hulle nou die pad aanwys!

47:14-15 Die straf word ingelei met ‘n oproep: Kyk! – hier kom ‘n belangrike aankondiging met twee negatiewe uitsprake: Die geleerde sterrewiggelaars kan hulleself nie help nie – en aan die einde: niemand kan red nie. Die Babiloniese ryk is magteloos om die besluit van die Here te weerstaan of af te wend. Die gedig skilder die ondergang van die ryk met ‘n vernietigende veldbrand, wat nie eers kole laat oorbly om hulleself by warm te maak nie. Babilon is so diep in sy toordery en sterrewiggelary vasgevang met wie sy haar van jongs af inlaat, dat sy nie meer gered kan word nie. Soos die gode geen bron van redding is in hoofstuk 46 nie, so is die politieke organe kragteloos in die teenwoordigheid van die Heilige van Israel, die Here wat aan Israel toegewy is. Babel se baie godsdienstige en bygelowige handelinge wat sy van haar jeug af bedryf, kan hulle nie uit die Here se hand red nie en kan nie die onbeheersde onafhanklikheid om self hulle lot te bepaal, hulle hebsug en die uitbuiting van hulle beleid, bedek nie.

Dit is die vierde maal wat na Babel verwys word en aangespreek word (hoofsukke 13-14,21,39,47). Die Babel van Genesis 11 was ook bekend vir hulle trots en ambisie (47:10 daar is niemand soos ek nie), wat die simbool is van die sonde van die mens, van sy selfmisleiding, sug na mag, sukses en weelde. Die mens se selfmisleiding is jou illusie dat jy ewig en goddelik is (47:7a), sonder insig in die gevolge daarvan (dit kan nie met my gebeur nie, 4747:7b), sonder ‘n gedagte aan rekenskap gee van jou dade (daar is niemand wat my sien nie, v10).

Die kras oordeel oor Babel is bedoel om die ballinge en ander uit Babel opnuut te verseker van die Here se sorg oor dié wat op Hom vertrou, en ‘n waarskuwing aan dié wat nog nie op die Here vertrou nie. Die oorwinning van Kores oor Babel is ook ‘n oorwinning oor alles waarvoor Babel gestaan het.

Hierna spreek die Here sy eie mense aan oor hulle nuwe rol in die nuwe bedeling.

Skrywer:  Prof Francois Malan