Die teenwoordigheid van mense

 

In proportion as it is a solemn work to preach it is a solemn work to hear. – Charles Spurgeon

 

Die teenwoordigheid van mense

Brother Lawrence het ‘n klassieke boek, The Practice of the Presence of God, geskryf. Daarin skryf hy hoe ‘n mens elke dag van God bewus kan wees. Maar wat van: Die Praktyk van die Teenwoordigheid van Mense? Peter Scazzero (Emotionally Healthy Spirituality) wy een hoofstuk van sy boek  aan: Growing into a mature adult: Learning new skill to love well. Hy praat in hierdie hoofstuk van die geestelike dissipline van die beoefening van die teenwoordigheid van mense.

 

Jean Vannier (die stigter van L’Arche gemeenskappe vir  diegene met ontwikkelingsgestremdhede) skryf: To love someone is to show to them their beauty, their worth, their importance. Lees weer. Ons moet met iemand op so ‘n manier wees dat hulle die skoonheid in hulleself kan ontdek. Dit is ware menseliefde. As ons iemand die koue skouer gee net omdat ons besig is, sê ons vir hulle: “Ek is belangrik; jy nie.” As ons volledig teenwoordig met ‘n ander persoon is, bevestig ons dat hy ons tyd werd is.

 

Scazzero sê dat loving well is the essence of true spirituality.  Maar jy kan nie net vir mense sê om ander lief te hê nie – hulle het tasbare instrumente nodig om hulle te help om hulle interaksie met ander op ‘n emosioneel volwasse vlak te kry. Hy noem dan verskeie moontlike stappe wat ons kan neem. Sy bespreking oor respek is veral insiggewend. Respek word betoon in die manier hoe ons teenoor mekaar optree. Hy noem dan elf regte wat ons in ons gesinslewe moet toepas.

Respek beteken dat ek aan myself en aan ander die reg gee op:

  1. Spasie en privaatheid
  2. Anders te wees.
  3. Te verskil.
  4. Gehoor te word.
  5. Om ernstig opgeneem te word.
  6. Om die voordeel van die twyfel te kry.
  7. Om die waarheid te hoor.
  8. Om gekonsulteer te word.
  9. Om onvolmaak te wees en foute te maak.
  10. Om bedagsaam behandel te word.
  11. Om gerespekteer te word.

 

Om deur hierdie lysie te lees, gaan niks verander nie. Ek moet by elkeen gaan stilstaan en nadink watter verskil sal dit maak in die lewe van my gesin, gemeente en werk as ek dit sou implementeer?

 

Dit sal help as ons hierdie idees ondersoek teen die agtergrond van Paulus se gebed in Efesiërs 3:14 – 21. Paulus kniel in gebed – vir ‘n Jood beteken dit dat die gebed intens was. Daar is drie sleutelversoeke:

  • Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word (vers 16). Die reis na geestelike volwassenheid begin in ons en word deur die Heilige Gees gedoen. Dit gaan nie oor my wat myself probeer sterk maak nie. Dit is ‘n genadegawe.
  • Dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon (vers 17). As ek iemand wil wegstoot of nie ernstig wil opneem nie, moet ek vir myself afvra of die persoon wat in my lewe (Jesus) dit ook wil doen. Ek is nie alleen nie. Om na die stem van Christus wat in my woon, te luister, sal my anders laat optree.
  • Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (vers 19). Hier het ons die sleutel: Omdat ek met die volheid van God vervul is, en omdat Jesus Christus my liefhet, word ek vrygestel om by ander teenwoordig te wees – om hulle onvoorwaardelik lief te hê.

Dalk is dit nou die regte tyd om op te hou gesels oor hierdie dinge en volwasse genoeg te wees om dit te begin doen.