Die tempelreiniging (2:13-22)

Die tempelreiniging (2:13-22) – Francois Malan

In die voorhof vir vroue en nie-Jode bied verkopers offerdiere, wat deur die priesters goedgekeur sal word, te koop aan (duiwe vir die armes se offers (Lev 5:7) , skape vir die paaslammers (Eks 11:3-6), beeste vir dankoffers van die rykes (Lev 1:1-9). Die geldwisselaars ruil die Romeinse geld met die keiser se kopbeeld op, vir tempelgeld waarmee die jaarlikse tempelbelasting betaal word.

Jesus se volgelinge sien sy optrede as ‘n vervulling van Ps 69:10 (volgens die Griekse vertaling). Met dié Messiaanse psalm identifiseer hulle Jesus met die verwagte Messias. Jesus kom alles wat die ware aanbidding van God kan verhinder uit die weg ruim. Die dissipels vrees dat Jesus se optrede sy dood sal kos, maar niemand roep die tempelpolisie om Hom te stuit nie.

Die Joodse leiers, Jesus se teenstanders , eis ‘n wonderteken om sy volmag van God vir sy optrede tot hulle bevrediging te bewys. Jesus weier om sy ongelowige teenstanders te bevredig.

Volgens Matteus 26:61 word hierdie antwoord van Jesus as getuienis teen Hom gelewer.

 

Skrywer: Prof Francois Malan