Die tien gebooie (2)

We cannot embrace the doctrines of grace without embracing the disciplines of grace. —Curtis Woods

Die tien gebooie (2)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

In die vorige blog het ons na die gewer van die tien gebooie gekyk. Daaruit volg twee aspekte wat verder bespreek moet word:

  • Die roeping; en
  • God se heiligheid

Daarna gaan ons volgende keer kyk.

 

  • Die roeping

[Eksodus 19:1 – 6]

Sinai sou Moses aan sy eerste ontmoeting met God in die brandende bos herinner het. Terwyl die mense kamp opslaan, klim Moses teen die berg op. God praat met hom en vertel hom wat om vir die volk te sê: Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra het en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat my as priesters dien en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.

 

Hier stel God die voorwaardes vir die verhouding. God roep hulle (en vir ons) om te glo en gehoorsaam te wees. Eers verlos Hy ons; dan gee Hy sy woord aan ons; dan verwag Hy dat ons tot sy heerlikheid sal leef. Diegene wat glo en sy woord gehoorsaam, sal sy eiendom wees. Die hele aarde behoort immers aan My. Daar is net een God op die hele wêreld. Israel moet God as priesters dien en ‘n gewyde nasie wees. Hulle moet die weë van God se koninkryk aan die ander nasies bekend maak.

 

Presies dieselfde geld vir Christene: Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.  Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is … Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig (1 Petrus 2:4 – 6, 9). Ons is priesters; ons kan mense in gebed na God toe neem; ons kan God na mense neem in ons getuienis. Dit is ons roeping.

 

In die volgende blog gaan ons na God se heiligheid kyk.