Die tien gebooie (3)

You can safely assume that you’ve created God in your own image when it turns out that God hates all the same people you do. -Anne Lamott

Die tien gebooie (3)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

In die vorige blog het ons na Israel se roeping gekyk. Ons kyk nou na God se heiligheid.

 

(ii) Die heiligheid van God

[Eksodus 19:7 – 25]

Moses het vir die leiers van die volk alles vertel wat die Here hom beveel het. Die volk antwoord soos een man: Alles wat die Here gesê het, sal ons doen. Ons sal gou agterkom dat hulle hierdie belofte verbreek het. God sê dat Hy in ‘n donderwolk sal kom en dat die volk sal hoor as Hy met Moses praat.

 

Die volk moes hulle eers reinig vir hulle ontmoeting met God. Met dagbreek die derde dag verskyn God met donderslae, weerligte en ‘n donker wolk op die berg. Daar was die klank van ‘n ramshoring en die berg het gebewe. En die mense? Hulle het gebewe. Die mense moes na die voet van die berg toe gaan, maar mag nie aan die berg geraak het nie. Die hele berg was gehul in rook. God het in vuur daarheen afgekom. God roep Moses na die top van die berg. Die volk moes nie na Hom gekyk het nie, want dan sou hulle gesterf het. Ook die priesters moes op ‘n afstand bly. Dan sê God vir Moses om af te gaan en vir Aäron te gaan haal. God is besig om vir hom as hoëpriester voor te berei.

 

In die Nuwe Testament is Moses saam met Elia, drie dissipels en Jesus op die berg van verheerliking. Daar was ook ‘n wolk en daar sê God dat Jesus sy geliefde Seun is en dat hulle na Hom moet luister. Om ons na die heiligste plek te lei, het ons ook ‘n Hoëpriester deur God gekies: Jesus Christus. Ook ons moet in ontsag en eerbied staan voor God se heiligheid. As Nuwe Testamentiese gelowiges kan ons deur Jesus Christus in die teenwoordigheid van God kom. Jesus Christus is die Middelaar van die nuwe verbond. Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur (Hebreërs 12:28 – 29). Deur Christus is ons nou op die berg.

 

Moses is toe af na die volk toe om alles vir hulle te gaan sê. Moses en die volk was nou gereed om die tien gebooie te ontvang. Dink altyd aan die heilige God wat hierdie woorde gespreek het. Hy is ontsagwekkend in sy heiligheid en tog verbasend in sy genade. Hy het in vuur afgekom, maar Hy het ons ook op arendsvlerke gered. Sy gebooie is  ‘n goddelike gawe van ‘n genadige God wat red. Moenie die God wat vir ons die tien gebooie gegee het, miskyk nie. Ons God praat. Sien ons ons behoefte aan Hom en sy woord?

 

In die volgende blogs gaan ons na die gebooie self kyk.