Die Tien Gebooie: Rus verseker (2).

Dietrich Bonhoeffer

Die Tien Gebooie: Rus verseker (2).

Hebreërs 4 help ons met die gebod oor die sabbatdag.  In 3:5 – 6 bevestig die skrywer Christus se voorrang bo Moses.  In 3:12 – 15 en 19 waarsku die skrywer sy gehoor: Broers julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie ..

. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het … Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie. Dit beteken nie die belofte van rus het verval nie: Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie (4:1). Die Israeliete het nie geglo nie en daarom het hulle nie in die rus ingegaan nie: Ons wat glo, gaan wel in die rus in (4:3)

God nooi ons steeds in sy sabbatsrus: Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie (4:8 – 10).

Baie van die praktiese aktiwiteite van die sabbat is steeds vir die gelowige en die kerk belangrik. Hier dink ons aan nadenke, gebed, die Woord en sakramente en gemeenskap. Dit is die dag waarop gelowiges en hulle families fokus op God se woord – hulle herfokus met die oog op die week wat voorlê. Calvyn sê dat met die koms van Christus het die seremoniële deel van die gebod verval. Hy glo dat dit die geleentheid is om:

  • Bymekaar te kom om die Woord van God te hoor, die sakramente te bedien en vir openbare gebede.
  • Om arbeiders vry te stel van werk.

Volgende keer kyk ons na ons verhouding met ons ouers.