Die tiener en seks – Hermie van Zyl

Vraag
Hoe kan ek uit ‘n Bybelse oogpunt met my tiener praat oor seks, met teksverwysings?

Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Daar is pragtige publikasies by Bybelmedia, Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) en Lux Verbi wat op die man af met tieners praat oor seks vanuit ‘n Bybelse perspektief, in taal wat hulle verstaan. Ek dink hier aan Gretha Wiid se boeke oor die onderwerp wat by Bybelmedia verkrygbaar is:

• Die Seksgesprek met my Tiener
• Lig op Tieners en Seksualiteit
• Lyfslim vir Seuns/Meisies: Oor jou Lyf, Seks en Meisie/Seuns-dinge.

Hierdie en ander boeke oor die onderwerp kan oor die internet bestel word by http://eshop.bybelmedia.org.za/?s=seks&post_type=product. Daar is talle ander boeke ook op die mark, maar mens moet versigtig wees om nie sommer enigiets aan te skaf nie. Nie alle boeke oor dié onderwerp word vanuit ‘n Bybels-Christelike perspektief geskryf nie. Maak dus seker dat jy by ‘n erkende en gerespekteerde Christelike boekhandelaar of webwerf koop. Afgesien van bogenoemde webwerf (Bybelmedia), kan CUM en Lux Verbi se webwerwe ook besoek word by die volgende adresse: http://www.cumuitgewers.co.za en http://luxverbi.co.za. Soek dan op hierdie werwe vir spesifieke boeke oor die onderwerp.

Die rede waarom ek liewer boeke as “tekste uit die Bybel” noem, is tweërlei: Eerstens is die Bybel nie ‘n handboek of ensiklopedie oor (tiener)seks waar mens gou ‘n paar tekste kan naslaan en dan het jy al die antwoorde nie. Die Bybel is ‘n verhaal oor God se geskiedenis met mense wat oor baie eeue strek. In hierdie verhaal speel die verhouding met God en tussen mense die hoofrol. Uiteraard is daar baie aspekte oor hierdie verhouding wat in die bladsye van die Bybel aan die w(W)oord gestel word – waaronder die seksuele – maar hulle kom nie gesistematiseerd voor nie en boonop is hulle ingebed in ‘n milieu wat nie altyd direk spreek tot ons eie tyd nie. Dus – en dis die tweede rede vir boeke eerder as bloot die noem van tekste – die gegewens in die Bybel oor seks moet georden en geïnterpreteer word vir ons eie tyd in ‘n taal wat vir ons vandag sin maak. En dit is wat boeke wat vanuit Bybelse perspektief oor ‘n bepaalde onderwerp geskryf is, veronderstel is om te doen. Hulle moet hierdie Bybelse perspektiewe laat praat met die kennis waaroor ons vandag beskik en wat deel vorm van ons leefwêreld. Dit vra kundigheid oor destyds én vandag om hierdie horisonne te laat saamsmelt.

Met bogenoemde gesê, wil ek tog ‘n paar kerntekste noem wat die kwessie van seks in die algemeen in ‘n breë Bybelse raamwerk plaas. Uiteraard sal tienerseksualiteit ook hierbinne tereg kom. Die spesifieke aspekte rakende tienerseksualiteit is immers nie so spesiaal dat die algemene riglyne van die Bybel nie ook daarop van toepassing is nie.

Daar is genoeg tekste in die Bybel waaruit ons die algemene afleiding maak dat die uitleef van seksualiteit sy plek in die huwelik het. Die huwelik bied die veilige ruimte waarbinne seksualiteit nie net tot vervulling van die betrokke egpaar is nie, maar ook tot opbou en vorming van die samelewing. Slegs so word ‘n gesonde samelewing tot eer van God gebou en onderhou. ‘n Samelewing wat seksuele losbandigheid goedpraat en selfs aanmoedig, is nie tot eer van God nie. Dink aan ‘n teks soos Matteus 19:4-6 waar Jesus teruggryp na die skeppingsgebeure en sê dat man en vrou een vlees in die huwelik word. Hierdie teks handel weliswaar oor egskeiding, maar die veronderstelling is dat die een vlees-verhouding in die huwelik sy plek het. Juis daarom is Jesus so ernstig daaroor dat die huwelik as instelling eerbiedig en gerespekteer sal word. “Een vlees” beteken nie net seksuele eenwording nie, maar ‘n een wees oor die volle spektrum van die lewe. ‘n Egpaar deel immers nie net ‘n bed nie, maar ‘n lewe.

Met die klem op die huwelik as lewensruimte vir seks word ook by implikasie gesê dat seks voor of buite die huwelik ‘n verabsolutering van een aspek van die huwelik is. Dit trek dinge heeltemal skeef wanneer seks as iets losstaande van ander dimensies gesien word, dimensies soos liefde, trou, verantwoordelikhede deel, versorging van mekaar, en die moontlike voortbring van kinders waardeur die menslike geslag in stand gehou word. Sonder hierdie breër konteks verloor seks later sy glans en word dit ‘n destruktiewe aktiwiteit. Dink maar aan prostitusie. Daar word net gefokus op die seksuele sonder dat daar enige verdere betrokkenheid by mekaar se lewens is of verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar word. En dis nie hoe God ons bedoel het om te lewe nie. Geen wonder nie dat daar baie tekste is wat spesifiek hoerery (d w s buite- of voorhuwelikse seks ter wille van die seksdaad self) verbied en dit as teen God se wil beskou. Dink hier aan ‘n teks soos 1 Korintiërs 6:12-20. Hierdie teks is duidelik daaroor dat ‘n losbandige leefwyse nie by ‘n Christen pas nie omdat die Christen se liggaam aan God behoort, dit is God se tempel. Dit beteken dat ons nie met ons liggame kan maak wat ons wil nie, maar dit so moet oppas dat dit as wonings van God kan dien, ‘n plek waar sy Gees kan woon.

In 1 Korintiërs 7 gee Paulus ook spesifieke raad oor die huwelik wat daarop neerkom dat man en vrou aan mekaar behoort en ook in mekaar se liggaamlike behoeftes moet voorsien. Weer eens word die huwelik as ruimte vir die seksuele gesien. Al die kwessies wat hier aangeroer word – getroud wees, selibaatskap, gelowiges en ongelowiges in die huwelik, ongetroud wees, neem almal die heiligheid van die huwelik as uitgangspunt en dat dit slegs binne die huwelik is waar die seksuele uitgeleef mag word.

‘n Teks wat miskien spesifiek op tieners van toepassing is, is Hooglied 2:7 – dat die liefde nie ryp gedruk moet word nie. Daar is ‘n tyd en plek vir alles. Die plek vir die uitlewing van die seksuele is die huwelik. As mens in ‘n liefdesverhouding is wat so oorverhit raak dat alle aandag later net op die seksuele is, dan loop dit dinge vooruit. Dit maak dat die verhouding nie gesond kan ontwikkel nie. Die seksuele is as ‘t ware voortdurend “in die pad”. Die paartjie kan nie mekaar se volle menswees ontdek nie en dit kan selfs daartoe lei dat hulle oorhaastig trou en later uitvind dat hulle eintlik nie by mekaar pas nie. In die antieke het mense baie gouer getrou as vandag. Die seksuele vervulling het dus gouer plaasgevind. Vandag trou jongmense later en dit plaas druk op ‘n paartjie om voorhuwelikse seks te beoefen of saam te woon, wat vanuit Bybelse perspektief nie die wil van God is nie. Die samelewing waarin ons woon, waar vrye seks deur die media en filmindustrie (veral Hollywood) verheerlik word, plaas uiteraard verdere druk op tieners om voordat hulle gereed is, seksueel aktief te raak. Die hele filosofie is dié van onmiddellike bevrediging. As jy nie jou behoeftes dadelik bevredig nie, is dit ongesond en lei dit tot allerlei frustrasies. Dis die sekulêre evangelie van ons dag. Dit alles maak dit soveel moeiliker vir Christen-jongmense om binne die wil van God hulle seksualiteit normaal te laat ontwikkel. Nogtans, die feit dat die samelewing druk op ons toepas, verander niks aan die wil van God vir ons lewe nie. Christene moes nog altyd leer om selfdissipline toe te pas en versoekings te weerstaan. Uiteindelik is ‘n gedissiplineerde lewe die enigste wat goeie vrugte lewer. Seksuele onthouding totdat die tyd daarvoor reg is – die huwelik – lei nie tot sielkundige probleme nie, maar bou aan jou karakter as Christen. Na alles, wanneer jy die duiwel weerstaan, kom jy agter dat hy van jou af wegvlug (Jakobus 4:7). Hoe meer jy die duiwel weerstaan, hoe makliker word dit om “nee” te sê.

Bostaande is nie die volledige prentjie nie, maar is ten minste ‘n paar tekste wat algemene maar duidelike riglyne gee vir die hantering van die seksuele.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl