Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:30-42)

 

Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:30-42) – Francois Malan

Terwyl die vrou weg was, dring die dissipels by Jesus aan om te eet van die brood wat hulle,gebring het. Maar Jesus het brood wat hulle nie van weet nie. Soos Jesus met die vrou oor water begin praat het, praat hy nou met die dissipels oor kos, waaraan Hy ‘n geestelike betekenis gee, en die mens se prioriteite regstel (vgl. Mat 6:31-33). Sy het nie verstaan wat Jesus vir haar wil gee nie, en die dissipels nie waarby Hy self lewe nie (vgl. Mat 4:1-4).

Jesus se onderrig van sy dissipels gaan voort: Julle sê dit is nog vier maande voor die oes, wat in die middel van April kom. Daarom is die besoek aan Sigar waarskynlik middel Desember. Maar Jesus wys hulle na die skare wat van Sigar af kom, die lande is ryp vir die oes. So is dit altyd oestyd vir die oes wat God besig is om voor te berei in die lewens van mense. Die oes waarvan Jesus praat is die insameling van mense vir die ewige lewe.

Om deel te hê aan die gesamentlike blydskap moet elkeen getrou bly in die arbeid wat aan hom toegesê is. Hier is nie plek vir onderlinge afguns tussen saaier en maaier nie. Arbeiders in diens van die Here verskil in aanleg en opdrag, maar werk saam vir een groot saak. Elkeen se taak is belangrik vir God se sending in die wêreld.

Ander het gearbei – dit wys waarskynlik na die Ou-Testamentiese profete, Johannes die Doper, en Jesus se werk self. Vir die Samaritane het Deuteronomium die verwagting van Taheb gewek, en die vrou by die put het die saad in die stad gesaai. Jesus stuur sy dissipels om die oes uit ander se werk in te samel.

Op haar getuienis glo die Samaritane dat Jesus ‘n profeet is, moontlik die verwagte Messias. Daarom wil die bewoners meer van Hom sien en hoor. Haar ommekeer en vrymoedigheid lei tot die geloof van die stadjie se mense.

wêreld 3:16). Die vrou se uiters onvolledige getuienis was die middel om dié mense by Jesus self uit te bring, by hulle Redder wat die Redder van die wêreld is. Die Romeine het die keiser as god aanbid met die titel: Redder van die wêreld, maar in die belydenis van die Samaritane is dit ‘n egte Messiasbelydenis.

 

Skrywer: Prof Francois Malan