Die Verbondsboek

Die Verbondsboek – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons na die boek van die lewe gekyk. In hierdie artikel kyk ons na die verbondsboek. Ons lees van die verbondsboek in twee kontekste:

  1. Hy (Moses) het die verbondsboek geneem en dit vir die volk voorgelees (Eksodus 24:7). Wat presies die inhoud van hierdie boek was, is onseker. Dit mag net die tien gebooie gewees het of dit mag Eksodus 20 – 23 (sonder die verhalende gedeeltes) gewees het. Dat hierdie boek wetsvoorskrifte bevat het, sien ons uit die reaksie van die volk: Ons sal alles doen wat die Here beveel het en daaraan gehoorsaam wees. Veel nader kan ons nie kom nie.
  2. Daar het hy aan hulle alles voorgelees wat in die boek van die verbond gestaan het (2 Konings 23:2). Tydens die bewind van Josia word die huis van die Here herstel. Die hoëpriester, Gilkija, ontdek die wetboek van die Here tydens die herstelwerk. Dit is nou uit hierdie boek wat hy voorlees. Verbondswette verwys gewoonlik na wette wat God met Israel gemaak het tydens Moses se leeftyd. Wat die inhoud van hierdie boek is, is ook onseker. Navorsers het na Hiskia se godsdienshervormings gekyk en daaruit probeer aflei wat die inhoud van die boek is. Party navorsers voel dat dit baie met die voorskrifte in Deuteronomium ooreenstem, terwyl ander dit betwyfel. Wat ons wel weet, is dat sekere hervormings die gevolg was van die ontdekking van hierdie boek: Daarna het die koning die volk beveel: “Vier die Paasfees tot eer van die Here julle God soos dit voorgeskryf is in hierdie boek van die verbond (2 Konings 23:21). Weereens is ons nie presies seker oor die inhoud van hierdie boek nie, maar dit was waarskynlik meer as net Eksodus 20 – 23. 

In 2 Konings 22:8 word daar na die wetboek verwys. Dit is dieselfde as die verbondsboek. Na die dood van Moses sê die Here vir Josua: Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie (Josua 1:8). In sy afskeidsboodskap aan die volk, sê Josua: Maar julle moet sterk staan in die uitvoering van alles wat geskrywe staan in die wetboek van Moses (Josua 23:6). Die profete verwys dan ook voortdurend na hierdie wetboek. Selfs Jesus verwys na hierdie wetboek. Toe die Sadduseërs Hom konfronteer met ’n vraag oor die opstanding antwoord Hy hulle: En dat die dooies opgewek word, het julle dan nie in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos gelees hoe God vir hom gesê het … (Markus 12:26).

Die verbondsboek/wetboek se inhoud is onseker. Ons weet dat dit die voorskrifte wat God aan Moses gegee het, insluit, maar presies watter voorskrifte weet ons nie. Ons kan aanvaar dat dit die tien gebooie ingesluit het plus ander gedeeltes waaroor ons nie heeltemal seker is nie.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber