DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (9)

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (9) – Jan van der Watt

Markus 10

Nuwe lewensreëls geld in die skadu van die kruis – die menslike waardesisteme word op hulle kop gedraai. Christene dink anders oor krag, status en belangrikheid. Hoe sien jy dit uit Markus 10? …

 

Kom ons kyk hoe lyk Markus 10:

  • Neem as voorbeeld egbreuk en skei – in God se koninkryk lyk dit anders (10:1-12)
  • Jy moet soos ‘n kind word (wat die ryk jongman nie wou doen nie – 10:13-31)
    • Jesus se kruis wys Hy is gehoorsaam (10:32-34)
    • Die belangrikste posisies geld nie (10:35-45)
    • Dis bedelaars by wie Jesus stop en hulle oë gaan oop (10:46-52) 

 

As daar staan dat ons soos ‘n kind moet word, beteken dit nie dat ons soos babatjies in die kot moet gaan lê nie. Kinders is destyds op ‘n spesiale manier gesien. Hulle is as wordende persoonlikhede gesien. ‘n Mens kan dit vergelyk met ‘n glas. As die kind gebore word, is sy basiese karaktertrekke daar, soos die glas. Soos die kind grootword, moet hy/sy water in die glas kry – dit is die onderrig, lewenslesse ens. wat die kind van sy ouers en die gemeenskap kry. Soos die onderrig (die ‘water”) die glas voller maak, groei die persoonlikheid en word dit al meer volwasse. So “word” die kind wat hy moet wees. In die proses moet die kind dus soos die glas “oop” en ontvanklik wees. Hy moet gehoorsaam luister (die water toelaat om die glas vol te maak). Hy moenie self die glas probeer volmaak of dink hy het nie die water nodig nie – hy moet in afhanklikheid en gehoorsaamheid die onderrig en leiding ontvang. As Jesus hier sê dat ons soos kinders moet word bedoel Hy juis dit: ons moet in gehoorsame afhanklikheid voor die Here staan en ons deur sy voorbeeld en onderrig laat “volmaak”. Ons moenie teëpraat of dink ons weet self nie. Gehoorsame ontvanklikheid en navolging is die sleutelwoorde. Juis daarvoor het die ryk jongman nie kans gesien nie!

Markus 10:45 is die samevatting van alles: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense”. So moet sy dissipels en volgelinge ook hulle lewens inrig. Christenskap is dienslewering in gehoorsaamheid aan Jesus.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt