Die verlamde man in Markus 2

Die verlamde man in Markus 2 – Francois Malan

Jan vra:

In Markus 2 laat die verlamde man se vriende hom met bed en al deur die dak om hom by Jesus te kry. Jesus prys hulle geloof en sê vir die man jou sondes is vergewe. Dan vra die skrifgeleerdes waar Hy die mag kry om sondes te vergewe. Hy antwoord: Wat is makliker om te sê: Die sondes is vergewe of om te sê: Staan op neem jou bed op en loop. Ek verstaan nie mooi die verband in Jesus se argument nie.

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Vir die skrifgeleerdes is die opdrag om op te staan en te loop die swaarste, want dit sou ‘n wonder wees wat deur almal gesien kan word as bewys daarvan. Om te sê ‘jou sonde is vergewe’ is die maklikste, want niemand kan sien of dit wel die geval is nie, en hulle is oortuig dat net God sonde kan vergewe, daarom meen hulle dat Jesus, wat vir hulle bloot ‘n mens is, godslasterlik praat deur die gesag van God vir hom toe te eien (Mk 2:7).

Vir Jesus is sondevergifnis die moeilikste, want daarvoor moes Hy sy goddelike heerlikheid verlaat en mens word (vgl. Seun van die mens), en moet Hy aan ‘n kruis gaan sterf en deur God verlaat word. Terwyl die genesing van ‘n verlamde vir die Seun van God die maklikste is met die volmag wat Hy het om te genees as bewys van sy volmag om sonde te vergewe (Mk 2:10).

God vergewe in Christus. Jesus se woord hang onlosmaaklik saam met sy lewe en sterwe en opstanding. Jesus kan vergewe omdat Hy as die Messias/Christus/Gesalfde ook die lydende en sterwende Kneg van die Here is. Die Seun van die mens het gekom om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie mense (Mk 10:45). Sy vergewing geskied nie sonder sy sterwe nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan