Die Here verlos Israel deur sy dienaar Kores (44:24-28) – Francois Malan

Die volgende hoofstukke skilder die Here se werk in die politiek van Kores, sy oproep tot Israel en deur sy nuwe skepping word woestyne vrugbare grond. Israel word bevry deur die Here se welwillende dienaar Kores (44:24-45:13)

Die vorige gedeeltes (hoofstukke 40-44:23) se fokus was op die Here se mag, getrouheid en onvergelykbaarheid, sodat die ballinge hulle God kon sien (40:9 Kyk! julle God!). Hy was deur die Babiloniese ideologie uitgeskakel as ‘n faktor in die wêreld. Daarom was die fokus op die werklikheid en lewende teenwoordigheid van die Here in die verlossing van Israel en die omverwerping van Babel.

Hier kom nou ‘n nuwe fokus in die ballingskap-poësie, nl. op die menslike agent van die Here, die oorwinnaar wat die Here uit die Ooste laat opstaan het (41:2), die man uit die noorde wat die regeerders soos klei trap (41:25), wie se naam nog nie genoem is nie. Kores word vir die eerste maal by die naam genoem in 44:28. Israel se teenstand teen hierdie heiden wat die Here as sy dienaar aanstel, word in 45:9-11 deur die Here streng veroordeel. Die heerskappy van die Here word hier ten nouste met die verloop van die geskiedenis van die nasies verbind.

44:24-28 Die grootheid en sekerheid van die Here as Israel se Losser, wat vir Kores aanstel

44:24  Die profeet haal die Here aan as Israel se Losser (41:14), wat besig is om aan Israel te vorm van die moederskoot af – sedert die ontstaan van hulle as sy volk (44:2) ook met die jarelange ballingskap vorm Hy aan  hulle om sy beeld te vertoon (Gen 1:27), soos Jesus, die beeld van God is (2 Kor 4:4; Kol 1:15; Joh 14:9), deur waarlik dienskneg te wees (Mark 10:45; 8:34).

Die Here stel Homself voor as ‘Ek is die Here (Jahweh, die persoonlike aktief teenwoordige, die Ek is, van Gen 3:14) die Maker van  alles: wat alleen die hemele oopgespan het, wat die aarde uit my eie en op my eie uitgeprei het  (42:5 as Skepper).

Israel het nie verwag die Here gaan hulle verlos deur die leërs van die Perse wat Babel ingeneem het nie, maar het gehoop die Here sal uit hulle die nuwe heersers van ‘n koninkryk maak. Die Here verlos hulle egter op sy eie wyse, juis om van hulle sy dienaars te maak. Hy heers oor die ganse skepping, en kan gebruik wie Hy wil om sy wil uit te voer.

44:25 Die Babiloniërs het ‘n ryke verskeidenheid van waarsê-kunste gehad (vgl. 47:9-10; 12-13) soos om te kyk na die toestand van die offerskaap se lewer (hepatikon), die vlug van voëls, ens. (Die Here) wat toekomsvoorspellers aan die kaak stel (letterlik: wat die tekens van die leuenaars/liggaamsdele tot niet maak) – die voorspellers word uitgewys as leuenversinners.

En die waarsêers maak Hy belaglik/bewys Hy as dwaas – die teendeel van wat hulle voorspel, gebeur.

Die wyses laat Hy agtertoe omdraai /weerlê – want Hy lei die geskiedenis soos Hy wil en nie volgens hulle voorspellings, wat nie uitkom soos hulle dit uitgestippel het nie.

En hulle kennis maak Hy tot dwaasheid  (sakal; vgl. 1 Kor 1:25) – Die Babiloniërs het baie studie en arbeid gewy aan toekomsvoorspelling, met uitgebreide tabelle en handboeke waarin alle denkbare verskynsels opgeteken is met hulle betekenis vir die toekoms (vgl. Dan 1:20; 2:2; 5:7). Die Here maak dit alles tot dwaasheid (vgl. Manasse se afgodediens in 2 Kon 21:1-6 waaraan die Here hulle oorgee om daarmee in Babel voort te gaan).

44:26 Daarenteen vervul die Here die woord van sy dienaar en voer die raadgewing van sy boodskappers uit, die goeie tyding wat sy profete in 40:1-9 uitgeroep het, want dit kom van Hom af.  Hy het gesê Jerusalem sal weer bewoon word, die stede van Juda weer opgebou word, want Hy gaan self hulle bouvalle weer opbou.

44:27 Soos die Here sy volk op droë grond deur die Rietsee en die Jordaan gelei het, so sal Hy hulle o.a. deur die groot waters van die Eufraatrivier  en sy kanale veilig terug lei na die land wat Hy beloof het aan Abraham, Isak en Jakob. Geen ander leër kon die kanaal water om die stad Babel drooglê nie, maar Kores het dit gedoen en in die nag van 11 Oktober 539 v.C. die stad Babel ingeneem (Dan 5:30).

44:28 Dit alles gaan die Here deur sy dienaar Kores doen, die dienaar van die Here wat die Here se wil gaan uitvoer (42:1-4), die oorwinnaar wat Hy uit die ooste laat opstaan het (41:2), die man uit die noorde wat regeerders soos klei gaan trap (41:25), wat die Here om Israel se ontwil teen Babel gestuur het (43:14). Hier hoor ons vir die eerste keer Kores se naam (in Persies Koeroesj; in Latyn Cyrus, in Grieks Kuros; in Hebreeus Koresj). Die Here wat Homself in 44:24 bekendgestel het, en al die dinge gaan doen wat in 44:25-27 gesê is. het Kores as Heerser oor die volke aangestel (45:1) om sy wil uit te voer (letterlik: al my vreugde te vervul – aan hom dra die Here dit op om Jerusalem en die tempel weer op te bou (vgl. vir die uitvoering daarvan in Esra 1:1-11). Die onderwerping van Babel en die hele uitgestrekte ryk van Babel tot in Egipte is die losprys wat die Here betaal vir sy dienaar Israel se terugkeer en herstel. Dit behels egter ‘n hele herrangskikking van die hele bekende wêreld ter wille van Israel se terugkeer.

Skrywer:  Prof Francois Malan