Die verskil tussen die Christelike en ander godsdienste

 

Don’t ever take a fence down until you know the reason it was put up – G.K.Chesterton

 

Die verskil tussen die Christelike en ander godsdienste

As daar een ding is wat ons uit die geskiedenis leer, is dit dat die mens godsdienstig is – hy jaag geestelike dinge na. Ons kan ‘n ellelange lys van figure wat die mense aanbid het, opstel. Vandag hoor ons dikwels die volgende stelling: Die verskillende wêreldgodsdienste verskil nie werklik van mekaar nie: daar is probleme in die wêreld; daar is ‘n oplossing; daar is ‘n god wat aanbid word.

 

Natuurlik is daar ooreenkomste tussen die verskillende godsdienste, maar die Christelike godsdiens verskil van hulle almal. Daar is veral drie belangrike verskille wat van belang is,

 

  1. Die Skeppergod is die stigter van die Bybelse godsdiens

Die Skeppergod het sy plan om ‘n weg vir die gevalle mensdom te voorsien om in die regte verhouding met Hom versoen te word, voortgesit vanaf die skepping. Die Christelike geloof is die progressiewe uitwerking van God se genadige verlossingsplan, Toe Jesus Christus 2000 jaar gelede op die toneel verskyn het, was dit nie die begin van ‘n nuwe godsdiens nie – dit was die vervulling van God se verlossingsplan. Jesus Christus sit net die verlossingsplan voort. Hierdie plan is begin lank voor die bestaan van die mens. Wat die Christelike geloof van ander gelowe onderskei, is dat geen mens dit ontdek en ontwikkel het nie – God is die stigter en onderhouer.

 

  1. Die Skeppergod doen die verlossingswerk in die Christelike geloof

Normaalweg beskryf verlossing die manier waarop die mens verlossing van wat verkeerd is, ondervind. Ander godsdienste beskryf ‘n groot verskeidenheid van verlossingspaaie. Jy moet probeer om ‘n goeie mens te wees … en jy definieer wat goed is. Die besonderhede mag verskil, maar verloosing is gewoonlik die gevolg van die mens se inspanning. In die Christelike geloof is dit God wat die verlossing bewerk. Hy is die argitek van en die instaatsteller van die mens se verlossing. Die mens is die ontvanger van God se verlossingswerk. Die mens het nie die vermoë om homself te verlos nie – hy is onwillig om dit te doen. Verlossing vereis iets buite die mens se natuur. Daarom moet God optree – en Hy het. Jesus Christus wat mens geword het doen die sentrale werk in God se verlossingsplan. Hy is in staat en gewillig om dit te doen. Hy alleen is gekwalifiseerd om dit te doen.

 

Teologies kan ons sê dat die Christelike geloof die godsdiens van “soewereine genade” is. Soewerein verwys na God se heerskappy. Genade verwys na ‘n voordeel wat gegee word al is dit onverdiend. Dit beskryf wat God vir die mens bereik het. Verlossing is God se werk. Dit is ‘n belangrike verskil tussen die Christelike godsdiens en ander godsdienste.

 

  1. Die Skeppergod doen die werk van bekering in die Christelike geloof

Geen mens in die geskiedenis is nog ooit deur die werk van ‘n mens bekeer nie. Soomige mag sê dat bekering in die geskiedenis met geweld versprei is – die Kruisvaarders. Ander mag sê dat bekering die gevolg van kulturele en sosiale druk was. Opregte bekeerlinge kan nie vervaardig word nie. Bekering kan net deur die mag van God geskied. Natuurlik is mense instrumente wat deur God gebruik word in bekering, maar hulle is net dit – instrumente in God se hand. Die Christelike godsdienis is nie een van uitwendige verbetering nie, maar van ‘n inwendige hergeboorte. Die toestand van die mens vereis meer as net verbetering – dit vereis ‘n nuwe lewe/skepping. Die mens kan homself nie herskep nie. Dit kan net God in sy soewereine genade doen.

 

Die groot verskil tussen die Christelike en ander gelowe is die werk van die Skeppergod – sy verlossingswerk en sy bekeringswerk.