Die verskil tussen die NG Kerk en Gereformeerde kerk

Die verskil tussen die NG Kerk en Gereformeerde kerk – Kobus Kok

Christine vra:

Ek wil graag weet wat die verskil is tussen die NG kerk en die Gereformeerde kerk.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Die verskil tussen die NG Kerk en Gereformeerde kerk

Op teologiese vlak is daar eintlik baie min verskille tussen die NG Kerk en die Gereformeerde kerk. Die twee is eintlik direkte familie van mekaar. Die verskil tussen die twee het egter ʼn lang storie wat in 1652 begin. Jan Van Riebeeck, en die VOC was oor die algemeen Hollands-Gereformeerde gelowiges. Met die groei van die Kaap en die vestiging van al meer Europeërs in Afrika, het die Hollanders besluit om hulle dominees na Afrika te stuur. So kom Johan van Arckel in 1665 hier aan, maar nog sterk onder die beheer van die klassis van Amsterdam. Rondom 1688 het baie Franse Hugenote gevlug vanaf  Frankryk. Hulle was sterk gelowiges wat in die dampkring van Luther en Calvyn se Reformasie lyn gestaan het. Op daardie stadium was daar eintlik net twee groot bewegings in die Christendom – Die Rooms Katolieke en die Hervormers wat losgebreek het uit die Katolieke kerk. So kom die Franse gelowiges in Suid Afrika aan en hulle hou kerk in Frans. Met tyd is die klein groepie Franse geassimileer in die groter Hollandse gemeenskap en het die Hollandse Gereformeerde kerk en manier van doen die botoon gevoer. Die grootste en enigste kerk op daardie stadium was dus die Hollands-Gereformeerde Kerk, maar daar was ook in die Kaap ʼn Lutherse Kerkgemeenskap omdat so baie Duitsers vir die VOC gewerk het.

Aanvanklik het alles goed gegaan totdat die Britte die Kaap beset het in 1795 voordat die Franse dit kon doen. Op daardie stadium was daar geweldige konflik tussen die Britte en die Franse, en die Franse het teen daardie tyd al die Nederlande in Europa beset. Op hierdie wyse is die sterk band tussen die Kaaps-Hollandse Gereformeerde kerk en die moeder kerk in Amsterdam verbreek. Teen ongeveer 1806 het die Britte besluit om Suid Afrika langer te beset as wat aanvanklik besluit is en die spanning tussen die Boere en die Britte kon met ʼn mes gesny word. Die Britte sou Suid Afrika van toe af vir meer as ʼn eeu in haar ysterhand vashou. Met die ontdekking van goud en diamante het Brittanje nog sterker probeer om beheer oor die land en sy mense te kry. Al meer Presbiteriaanse dominees is uit Skotland ingevoer en hulle het ʼn groot rol gespeel in die kerklike lewe van die Kaaps Hollandse Gereformeerde kerk in SA. Baie van die Hollanders het nie kans gesien vir die Britte nie en het besluit om te trek. Teen 1840 het baie Hollanders die Kaap verlaat en noord getrek. Dit het bekend gestaan as die Groot Trek. Die boere trekkers het hulle al meer afgesny van die Britte en die Afrikaner Calvinisme het sterk in ʼn ander rigting ontwikkel as die van die Britse heersers. Met tyd sou die boere hulle eie onafhanklike republieke vorm (Republiek van Transvaal, ens). Die Voortrekkers het op ʼn stadium gevoel dat die Kaaps-Hollandse Gereformeerde Kerk kop in een mus is met die Kaapse regering en die Britte. Om hierdie rede het hulle nie die dominees en sendelinge van die moederkerk vertou nie. Die gevolg was dat daar meer divisies onder die boere en tussen die boere en die Britte ontstaan het.

Onder die Voortrekkers was daar diegene wat meer behoudend was en hulle het die singery van sekere liedere teengestaan. Hierdie groep sou later bekend staan as die Doppers, of die Gereformeerdes. Die hele storie rondom die gesingery het egter ook ʼn geskiedenis. In 1853 het die bekende Dirk van der Hoff na Suid Afrika gekom van Holland af en was ʼn dominee in die Nederduitsch Hervormde Kerk wat in 1856 gestig is. Teen 1860 is daar duidelik onderskei tussen die Hervormde Kerk en die Kaapse Gereformeerde Kerk. In Holland was daar ook skerp verskille oor die gesingery in die kerk. ʼn Sekere groep het weggebreek van die Nederlandse Gereformeerde Kerk en die Christelike Gereformeerde Kerk gevorm. Een van die bekende dominees van hierdie groep was Dirk Postma wat ʼn dominee in die Hervormde Kerk in Suid Afrika geword het. Hy het nie baie gehou van die gesingery van sekere van die liedere nie, en breek toe saam met die Doppers weg en vorm die Gereformeerde Kerk. Skielik was daar nie minder nie as drie Hollands-Gereformeerde susterskerke nie, naamlik die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Kaap, die Nederduitsch Hervormde Kerk as staatskerk en die Gereformeerde kerk onder leiding van Ds Postma.

Na die uitbreek van die Anglo Boereoorlog (1899-1902) was die Boere volk in skerwe gelaat. Plase is afgebrand en tienduisende vroue en kinders het in die konsentrasie kampe gesterf. Die NG Kerk sou in die tyd na die Boereoorlog ʼn leidende rol speel om ʼn gebroke volk weer op te bou en om die ver-Engelsing van die Boere teen te staan, Hierdie kerk het haar beywer vir die herbou en ontwikkeling van die Afrikaner. Baie Boere sou in hierdie tyd die NG Kerk bywoon. Prominente politiese leiers sou NG Kerk lidmate wees en uiteindelik sou die NP en die NG Kerk hand om die lyf saamloop. Die res is geskiedenis….

Statisties is die susterskerke besig om aansienlik te krimp en sommige meen dat die kerke in ʼn krisis verkeer. Dit sou wonderlik wees as ons weer kon verenig – of ten minste ons Gereformeerde eenheid sou verklaar en opnuut mekaar in eenheid vind!

Geraadpleegde werke:

Lees gerus meer by http://en.wikipedia.org/wiki/Nederduits_Gereformeerde_Kerk

Daar sal binnekort ʼn artikel verskyn waarin Dr. Johan van der Merwe, dosent in Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, verder in die verskille en ooreenkomste tussen die NG Kerk en Gereformeerde kerk sal ingaan.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok