Die verskillende hemele – Francois Malan

Anna vra:
Verduidelik aan my die verskillende hemele, asb. Baie dankie.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
In die Ou Testament is sprake van 3 hemele:

Die Israeliete se wêreldbeeld was van ’n reeks koepels oor die aarde, koepels wat op fondamente rus (2 Samuel 22:8); Job 26:11 praat van die pilare waarop die hemel gebou is – as simbool van vastigheid.

(Hulle wêreldbeeld verskil heeltemal van die wêreldbeeld van planete wat in bane om die son wentel, ’n maan wat om die aarde wentel, sterre wat elkeen ’n eie sonnestelsel met planete is, en ’n onmeetlike heelal met ’n menigte melkweë elk met duisende sterre).

Die eerste hemel verwys meestal na die lugruim waar die voëls rondvlieg, vgl. Gen 1:26 se voëls in die lug – letterlik: voëls in die hemel.

Die tweede hemel verwys dikwels na die uitspansel of sterrehemel, waar die sterre sou sit, vgl. Gen 15:5: ‘Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan;’ en Genesis 22:17 se ‘sterre aan die hemel. vgl. Deutr 4:19 se hemelruim met die son en die maan en die sterre.
Die antieke tyd het die tweede hemel ook gesien as die wolkehemel vanwaar die reën kom, soos in Ps 147:8: ‘Hy oordek die hemel met wolke. Hy voorsien reën vir die aarde.’
Matteus 24:29: ‘die son sal verduister word, die maan sal nie skyn nie, die sterre sal uit die ruimte (letterlik: uit die hemel) val, en die kragte van die hemelruim (letterlik: hemele) sal ontwrig word…’ Vgl. Genesis 1:17: ‘God het die twee groot ligte in die hemelgewelf geplaas.’
Handelinge 1:10: ‘Terwyl Hy weggaan en hulle stip na die hemel kyk…’

In baie tekste word egter met die hemel verwys na die plek waar God sou woon, en wat dan as die derde hemel beskryf word, waarvan Paulus in 2 Korintiërs 12:2-4 praat, en dit die paradys noem.

Vgl. 1 Konings 8:30,49 U hemelse woonplek, Ps 33:13-14; Matteus 5:16 julle Vader wat in die hemel is; Mat 6:9 Ons Vader wat in die hemel is; Ps 11:4 Die Here is op sy troon in die hemel; Jesaja 66:1 Die Here sê: Die hemel is my troon; Openbaring 4:2 ‘Ek het gesien daar staan ’n troon in die hemel…’ Dit is alles beelde wat verwys na God se alomteenwoordigheid. Die naam Here (Jahweh in Hebreeus) beteken ‘die Ek is’ persoonlik aktief teenwoordig.

Maar 1 Koning 8:27 sê: die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie…’

Openbaring 21 en 22 verwag dat die hemel en die aarde sal verbygaan en ons verwag ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde (Jes 65:17 die Here gaan ’n nuwe hemel en aarde skep sodat ons aan dié wat daar nou is nie meer sal dink nie; Jesaja 66:22 die nuwe hemel en die nuwe aarde wat die Here sal maak sal in sy diens staan; 2 Petrus 3:13 sê daar sal God se wil heers; Openbaring 21:1 die eerste hemel en aarde het verdwyn. Openbaring 21 gebruik beelde om oor die nuwe hemel te praat, waar daar nie meer ’n tempel is nie, want die Here God, die Almagtige en die Lam is die tempel van die nuwe Jerusalem, wat nie meer son en maan nodig het nie want die Here verlig alles.

Eintlik moet ons sê: waar God is, is die hemel, en Jesus het gesê: As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon (Johannes 14:23); dit doen Hy deurdat Hy die Heilige Gees stuur om by ons te bly en in ons te wees (Joh 14:17 Romeine 8:9). Daarom kan Joh 3:36 sê: Wie in Jesus glo het reeds die ewige lewe. Jesus het vir ons gebid: En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur U gestuur is (Joh 17:3). Nou leef ons in die geloof, maar eendag sal ons vir altyd by Hom wees en sy heerlikheid sien (Joh 17:24).

Skrywer:  Prof Francois Malan