DIE VLEUELS VAN GEBED (1)

DIE VLEUELS VAN GEBED (1) – Jan van der Watt

Inleiding.

Manie die Marsman kom kuier.

Kom ons begin met ‘n verhaaltjie. Veronderstel Manie die Marsman kom land met sy vlieënde piering iewers hier naby ons. Die eerste persoon wat hy raakloop is sowaar ‘n dominee!

So in die gesels vertel die dominee hom wat hy doen. Hy vertel vir Manie die Marsman dat ons hier op aarde die groot Skepper, die God van die heelal ken! Hy het ons lief. Deur sy Seun, Jesus, het Hy ons kom besoek. Meer nog, Hy bly elke dag naby ons en gee ook aan ons sy krag. Manie is verstom! Wat ‘n wonderlike voorreg. Op Mars ken hulle so iets nie. Dit moet seker wondere in mense se lewens werk. Manie wil dadelik meer weet.

 Ja, sê die dominee, God is so naby ons dat ons met Hom kan praat en alles van Hom kan vra… soos ‘n kind na sy pa kan gaan, so kan ons na God gaan!

 Hy is nou juis oppad na so ‘n gesprek, vertel die dominee. Dit word ‘n biduur genoem. Die hele gemeente het een maal per week kans om saam te kom en net met God te praat, vir Hom alles te vertel en vir Hom hulp en leiding te vra! WONDERLIK, sê Manie. Mense moet seker nie kan wag om daar te kom nie.

 Manie was verstom! Van die duisend mense in die gemeente sit daar ‘n skrale twaalf… gereed vir die groot gesprek! Manie begin vrae vra… dink die mense nie die gesprek met God is belangrik genoeg nie? Glo hulle nie God wil met hulle praat nie, of nog erger, wil hulle nie eers tyd maak om met God te praat nie!? Miskien dink hulle in hulle harte dat gebed regtig nie meer werk nie.

 Daardie aand gaan loer Manie by ‘n paar huise ook in. Die dominee het aan hom vertel dat mense voor hulle gaan slaap ook eers met hulle God praat. Dan bespreek hulle alles van die dag en vra hulp en raad. Dat die grote God Homself so beskikbaar stel vir persoonlike gesprekke was vir Manie byna ongelooflik. By die eerste huis kry Manie egter sy eerste verrassing. Die persoon was skaars op sy knieë en toe is hy alweer klaar. Het hy dan niks om vir God te sê of te vra nie, het Manie gewonder. In die tweede geval het die gebed heeeeelwat langer geduur. Maar toe Manie mooi luister en die snorkgeluidjies hoor, besef hy die persoon is nie besig met ‘n gesprek nie.

 Nou het Manie begin wonder oor hierdie ding wat GEBED genoem word. As dit regtig waar is dat gebed die krag van die gelowige se geestelike lewe is, waarom neem die mense dit skynbaar nie so ernstig nie? Waarom bid mense nie meer en langer nie, het hy gewonder.

As gebed die sluise van God se krag vir die gelowige is…

Dit is presies die vraag wat Andrew Murray per geleentheid aan ‘n saal vol predikante gevra het. Hy het verduidelik dat gebed ‘n belangrike manier is waarop God sy krag oor die bidder uitstort. Dit is waar die gelowige hom of haarself weer in die teenwoordigheid van die lewende God versterk. Natuurlik sal al wat gelowige is dit beaam. Hy vra toe hoeveel van die predikante spandeer ‘n uur in gebed per dag. As gevolg van die swye het hy dit verlaag na ‘n halfuur toe en so het hy die tyd al hoe minder gemaak.

 Dit is eintlik ‘n vraag wat ons elkeen aan onsself moet vra. Hoeveel tyd spandeer jy in gebed per dag. As jy die antwoord gegee het, wat sê dit vir jou van jou houding teenoor gebed? Wat sê dit vir jou van wat jy nog van gebed verwag?

 As jy saamstem dat gebed die sluise van God se krag vir die gelowige is… wat doen dit aan jou gebedslewe?

 

Ons  geestelike barometer.

Gebed kan eintlik as die barometer vir jou geestelike lewe dien. As dit nie so goed gaan met jou geestelike lewe nie is gebed byna die eerste plek waar jy dit kan begin sien.

Jy bid nie meer so graag nie. Eintlik luister jy ook nie meer as daar in die kerk gebid word nie. Jou eie gebede word ook net ‘n klompie los sinne of ‘n klomp reëls wat jy soos ‘n resitasie elke keer opsê. Daar is nie meer ‘lewe’ in jou gebede nie. Daarom verwag jy ook nie veel van wat jy bid nie.

Dit is nie sulke goeie tekens vir ‘n mens se geestelike lewe nie. Dit is byna soos om ‘n mens te sien versmoor omdat hy nie wil asem haal nie. Daardie bietjie vars lug, daardie asem, kan al die verskil maak. Gebed is vir die gelowige daardie asem wat al die verskil kan maak. Dit kan weer lewe in ‘n dor geestelike liggaam bring.

Daarom is dit nie verbasend dat iemand soos Luther gesê het dat hoe besiger hy is hoe meer tyd staan hy aan gebed per dag af nie. Dit is immers waar hy God ontmoet en sy krag vandaan kry.

‘n Mens kan inderdaad deur die hele geskiedenis stap. Al die ‘groot bidders’ in die geskiedenis van die kerk was gedissiplineerde bidders. Hulle het gereeld en ernstig die genadetroon van God gaan opsoek! Hulle het ten minste geweet waar hulle krag vandaan kom.

 

Ons verkeerde verwagtings ‘n lekker wapen vir die duiwel.

Daar is krag in die gelowige se gebed! Dit sê die Bybel vir ons. Omdat dit so is, skep dit dikwels allerhande verkeerde verwagtings by die gelowige! Hy of sy begin dink dat gebed die kraan is waarmee hulle maar soos hulle wil God se krag kan tap. As hulle die kraan draai, moet God spring! As God nie spring nie, of die kraan nie wil loop soos hulle wil hê dat dit moet loop nie, dan sê hulle sommer gou ‘gebed werk nie’.

Vir hulle is daar ‘n verrassing: Gebed werk nie so nie!

God sal sekerlik nie ‘n klomp kinders in ‘n wapenfabriek met allerhande bomme, gewere en kanonne loslaat en sê hulle kan maar aangaan soos hulle wil nie. Die krag van God is ontelbaar maal sterker as dit wat mense in ‘n wapenfabriek kan opsluit. Daarom moet die bidder goed verstaan wat presies met gebed bedoel word. Gebed is nie die plek waar die bidder God ‘laat spring’ nie. Tog bly dit die plek waar die volheid van God se genade en krag ervaar kan word. Soos F. Huegel gesê het: ‘Dit is wanneer mense op hulle knieë gaan en God aanroep dat hulle in ‘n sekere sin net so ‘magtig’ word as die almagtige God’. Dit gesê, moet ons egter weet wat om te verwag. Gebed maak ons nie die ‘almagtige God’ self nie. Ons word nie die voorskrywers nie. Nee, gebed maak ons mense wat alleen maar op ons knieë voor die almagtige God kan staan en uit sy genadige hand kan ontvang wat Hy wil gee!

Verkeerde verwagtinge het al te veel gelowiges baie seer gemaak. Omdat hulle dink hulle is kinders in ‘n wapenfabriek of dat hulle maar net die kraan kan draai en God moet spring, is hulle al dikwels teleurgestel. Gebed bied dikwels nie so ‘n kitsoplossing as wat hulle gedink het nie. Dikwels besluit God om sy kinders op ‘n ander manier te help as wat hulle in gebed voorskryf. Omdat dinge dan nie so uitwerk soos hulle dit wil hê nie, verloor hulle vertroue in gebed. Hulle bid al hoe minder en later glad nie meer nie! So sny hulle hulle eie geestelike suurstof af. Dit is nie die suurstof wat klaar geraak het nie, maar hulle wat nie die suurstof op die regte manier wil inasem nie!

Dit gebeur ook dat gelowiges kan dink dat sal gebeur wat moet gebeur, bid of te nie! Uiteindelik maak dit nie vir hulle meer saak of hulle bid of nie. Hulle dink in alle geval dit sal nie soveel verskil maak nie. Die ernstige suurstoftekort in hulle geestelike lewe kan nie lank weggesteek word nie!

 

Jesus gee aan ons die voorbeeld.

Natuurlik het die Here Jesus self aan ons die voorbeeld gegee om te bid (Mat 14:23; Mk. 1:35). Hy het nie alleen aan ons die ‘Ons Vader’ gegee nie, maar het self op belangrike tye in sy lewe gebid (Luk. 3:21-22, 6:12; 22:39-46). By geleentheid het Hy sommer die hele nag deur gebid (Luk. 6:12). Hy het nie net vir Homself gebid nie (Joh. 12:27), maar ook vir ander, vir sy dissipels (Joh. 11:41; 17:1vv) en per geleentheid selfs vir sy vyande (Luk. 23:34). By ander geleenthede het Hy met enkele sinne die Vader vir kos gedank (Joh. 6:11).

Jesus het ook belangrike kritiek op die gebede van ander gehad. Hy het die Fariseer wat so vol van homself was, se gebed gekritiseer (Luk. 18:9-14). Ook die mense wat op die hoeke van die strate gestaan en gebid het, het onder die tong van Jesus deurgeloop (Mat. 6:5-8).

As ‘n mens so na die lewe en voorbeeld van Jesus kyk, blyk dit dat gebed baie belangrik is. Tog kan ‘n mens die pad ook byster raak met gebed. Jy kan ernstige foute begaan!

Laat ons dan nou eers gaan kyk na wat die hart van gebed is en dan na gebed self. Aan die einde sal die foute wat met gebed gemaak word, bespreek word.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt