DIE VLEUELS VAN GEBED (12)

DIE VLEUELS VAN GEBED (12) – Jan van der Watt

Here, ek bely!

Wat behels sondebelydenis nou presies? Dit behels die herstel van die verhouding met God. Hoe word dit gedoen?

* In die eerste plek moet jy besef DAT jy ‘n fout gemaak het, maar ook mooi weet WAT hierdie fout presies is!. Dit beteken dat jy spesifiek moet weet wat jy gedoen het om God ongelukkig te maak. Ons bluf onsself baie keer. Ons bely ons sonde so in die algemeen en dan dink ons dit is genoeg. Maar as jy nie weet wat jy verkeerd gedoen het nie, hoe kan jy sê jy is jammer oor iets? Dan leef ons mos maar verder soos voorheen. Niks het dan eintlik verander nie. Dit kan tog nie! Na sondebelydenis kan ‘n mens nooit weer dieselfde wees nie!

 

Daarom moet jy spesifiek oor jou lewe nadink. Jy moet die probleem wat tussen jou en God kom staan het, identifiseer en kan sê:

Teen U alleen het ek gesondig,

ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

U uitspraak is dus reg

en u oordeel regverdig.

(Ps. 51:6) 

* As jy dan seker is wat die probleem is, moet jy met God daaroor praat. Maar dit is nie maar genoeg om te sê dat jy ‘n fout gemaak het nie. Jy moet daardie fout voor God deurgrond. Jy moet jou oë na binne draai. Hier binne in jou hart moet jy inkyk. Terwyl jy dit doen, moet jy vir jouself afvra waarom jy hierdie fout gemaak het. Sondebelydenis vereis selfondersoek!

Byvoorbeeld, veronderstel jy het jouself liederlik vir Piet by die werk vererg en hom iets leliks toegesnou. Nou is dit al ‘n begin om vir die Here te sê jy’s jammer. Maar jy moet verder gaan. Jy moet jouself ook afvra waarom jy jou so vererg het. Nou kan jy seker die fout by Piet gaan soek (en dit kry ‘n mens gewoonlik). Maar jy moet jou oë darem na jouself ook draai. Jy is die een wat kwaad geword het! As jy hier binne in jouself kyk, sal jy miskien agterkom dat jy eintlik vir Piet kwaad geraak het omdat jy jaloers is op hom. Daar lê die werklike wortel van jou woede en frustrasie. Daaraan moet jy voor God aandag gee. Anders gaan jy maar net weer en weer vir Piet kwaad raak en sal jy elke keer maar net weer met ‘n rooi gesig na God toe moet terugkom.

As jy weet wat die probleem is sê dan vir God in alle eerlikheid jy is jammer en dat jy dit nie weer sal wil doen nie!

‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring;

‘n brandoffer wil U nie hê nie.

Die offer wat U wil hê, o God,

is verootmoediging:

U sal ‘n hart vol ootmoet en berou

nie gering ag nie, o God.

(Ps. 51:18-19)

* Sonde is meer as net iets wat jy verkeerd gedoen het. Dit het eintlik die verhouding en vertroue tussen jou en God geskud. Juis hier moet die vertroue weer herstel word. Die hoogtepunt van sondebelydenis is daarom jou toewyding aan God. Jy moet vir jou Vader sê dat Hy nie uit hierdie fout van jou moet aflei dat jy Hom nie meer wil dien nie. Jy moet vir Hom sê dat jy voortaan gewillig is om die spel van die lewe saam met Hom, maar ook soos Hy te speel; veral as Piet naby is! Kyk hoe mooi het die Psalmis dit uitgedruk:

Maar U verwag opregtheid

diep in ‘n mens se hart:

laat ek dan diep in my binneste weet

hoe U wil hê dat ek moet lewe.

(Ps. 51:9) 

Sondebelydenis doen dus iets aan jou! Dit bring jou lewenshouding en gesindheid weer in lyn met wat God wil hê. Die positiewe effekte van die sondebelydenis is dus groot! Dit gaan nie alleen om die fout wat jy gemaak het nie, maar laat jou ook weer deeglik besef wie jy is. Jy is iemand wat God met alles moet dien. Jy besef in sondebelydenis weer opnuut dat jy jou lewe nie los van God kan leef nie, maar alleen met Hom.

Dit is ook maar ‘n leerproses. Kom ons vergelyk dit met ‘n balletdanseres. Dit vat baie oefening om ‘n behoorlike danseres te word! As die danseres nou ‘n nuwe beweging leer en dit nie heeltemal regkry nie, jaag die afrigster haar nie weg nie. Sy draai nie haar rug op die danseres nie en ignoreer haar nie. ‘n Balletafrigster is mos nie ‘n mafiabaas wat iemand wat ‘n fout maak daar en dan van kant maak nie. Inteendeel, die afrigster gee aandag en doen moeite om die ballerina te help. Maar dan moet die ballerina gewillig wees om te luister en te volg. Wat die afrigster bied moet met dankbaarheid aangeneem word.

* Sondebelydenis veronderstel dan ook ‘n positiewe en dankbare aanvaarding van die vergifnis van God. Die Woord sê immers:

As ons ons sondes bely –

God is getrou en regverdig,

Hy vergewe ons ons sondes

en reinig ons van alle ongeregtigheid.

(1 Joh 1:9)

Daarom sê die Psalmis (32:1) ook dat dit goed gaan met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, maar wie se sonde vergewe word. Daaroor kan ons ons in die Here verbly en jubel (32:11). As die Here met sonde afgereken het, het Hy daarmee afgereken, uit en gedaan. Hy dink nie meer daaraan nie.

Ons moet dus nie die fout begaan om soos nete in ons gedagtes aan die sonde wat ons bely het vas te klou nie. Ons moet God se vergifnis ten volle aanvaar. Om voortdurend aan jou sonde te bly dink of ‘n skuldige gewete te hê nadat jy jou saak met die Here reggemaak het, is werklik om die Here te wantrou. So iemand moet sommer sy wantroue ook voor God gaan regmaak deur God op sy woord te neem: Hy sê mos dat as ons opreg ons sonde bely, Hy ons sal vergewe.

Laat ons in die lig van wat ons sopas gesien het, prakties ons sonde bely:

Raak ‘n paar oomblikke stil. Dink aan een ding wat jou baie pla omdat jy voel jy het verkeerd gemaak. Skryf dit neer:……………………………………………………. …………………………………………………………………………………………………………..

Vra jouself nou af waarom jy dit verkeerd doen of gedoen het. Probeer in jouself ‘inkyk’ om jou motiewe te probeer verstaan, met ander woorde, probeer die situasie vir jouself so goed as moontlik verklaar. Skryf die redes waaraan jy kan dink hier neer………………………………………………………………………………. …………………………………………………………………………………………………………… ……………………………………………………………………………………………………………

Bespreek nou die saak met die Here. Sê vir Hom wat jy verkeerd gedoen het en waarom. ‘Beplan’ saam met Hom daar op jou knieë hoe om die probleem op te los. (Bv. as jy vir Piet kwaad is en jy kom agter dit is uit jaloesie, ‘beplan’ saam met die Here hoe julle die probleem gaan oplos). Soek daar na die pad wat die Here wil hê jy moet loop. Hier is eerlikheid en opregtheid natuurlik onontbeerlik! Deurgrond nou jou probleem uit nommer 1 en 2 so saam met die Here. Vra ook veral vir die Here om jou te vergewe. Vra Hom om jou fout nie teen jou te hou nie, natuurlik omdat jy vir Jesus en sy verlossing ken. …………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………………….. ………………………………………………………………………………………………………….. …………………………………………………………………………………………………………..

Onderneem nou om dit nie weer te doen nie en aanvaar die vergifnis van die Here met dank. Trek sommer ‘n streep deur die oortreding wat jy in nommer 1 neergeskryf het, want dit is wat God nou van die oortreding dink. Dit bestaan nie meer vir Hom nie. Hy het dit vergewe. Maar ons moet darem hier eerlik genoeg wees om vir mekaar te sê dat God ook verwag om daardie oortreding nie weer in jou lewe te sien nie! Julle het mos saam oor die probleem geworstel (nommer 3) en saam ‘n plan beraam om die probleem uit te skakel. Nou moet jy dit gaan doen! Dus, aanvaar nou die vergifnis van die Here deur ‘n streep deur die probleem in nommer 1 te trek. Skryf nou ook jou onderneming hier neer om dit nie weer te doen nie………………………………………………………… ……………………………………………………………………………………………………………. ……………………………………………………………………………………………………………. …………………………………………………………………………………………………………….

Sê nou vir die Here dat jy net aan Hom wil behoort! Hy moet nie aan jou lojaliteit teenoor Hom twyfel nie. Wy jouself aan Hom toe. Sê nou in jou eie woorde dat jy aan die Here en aan Hom alleen lojaal wil wees……………………. ……………………………………………………………………………………………………………. ……………………………………………………………………………………………………………. …………………………………………………………………………………………………………….

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt