DIE VLEUELS VAN GEBED (16)

DIE VLEUELS VAN GEBED (16) – Jan van der Watt

Ek en ‘n lekkergoedmasjien?

Een ding is dus seker: gebed is nie soos ‘n lekkergoedmasjien nie. Ek kies nie maar net wat ek wil hê, gooi my geld in, vat die lekkergoed en loop nie. In gebed praat ons nie met ‘n masjien wat maar net op ons versoeke reageer nie. Ons praat met die lewende God. Dit verander dus die manier waarop ons vra.

Beywer julle allereers vir die koninkryk van God

en vir die wil van God,

dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

(Mat 6:33)

Veronderstel jy het ‘n probleem waaroor jy voel jy wil bid. As jy dan voor God gaan staan, is daar eintlik drie belangrike ‘pole’ wat ‘n rol speel. Dit is natuurlik God, jy en die saak waaroor jy wil praat.

Al drie hierdie ‘pole’ het ‘n invloed. Natuurlik moet jy die saak voor God stel, MAAR nie asof jy Hom net ‘inlig’ nie. Onthou, in gebed erken jy dat God ook by hierdie saak betrokke is. Sy belange moet ook in hierdie saak gedien word. Om die waarheid te sê, dit is belangriker dat Hy tevrede is met die uitkoms van die saak as wat jy is. Om dus iets in gebed na God toe te neem beteken om God se betrokkenheid en belange onlosmaaklik daarmee te vervleg. En nou kom jou siening ook nog by. God wil hê dat jy aan Hom vertel hoe jy oor die saak voel.

So is gebed: God, jy en jou saak. En wat jy probeer kry, is nie lekkergoed uit ‘n masjien nie, maar ‘n soeke na wat vir die koninkryk die belangrikste is. God het jou deel van sy koninkryk, sy familie, gemaak. Daarom is elke saak van jou God se saak. Hy is daarby betrokke. Nou moet jy só leef en só bid… ook in die oplossing van jou probleme. Nooit kan ‘n saak van jou meer ‘net ‘n saak’ bly nie!

‘n Nuusberig van God: ‘ Kom gesels, jy is welkom!’

God wil en is betrokke by sy kinders se sake. Daarom kan ons ook alles met vrymoedigheid met Hom bespreek. In die Bybelse tyd was die mense natuurlik geweldig bewus van God se heiligheid. Net spesiale priesters kon dit naby God se heiligdom waag. Maar Jesus het dit kom verander. Hy het die troonsaal van die hemel se deure vir ons oopgestoot en ons ingenooi. Nou kan ons sonder huiwering vrymoedig met God gaan praat.

En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan,

omdat Hy ons gebede verhoor

as ons enigiets volgens sy wil vra.

(1 Joh 5:14)

Jy kom staan immers openlik met al jou sake en jou leefwêreld voor God. Dit is mos sy sake ook, want jy is sy kind. Daarom moet jy nie huiwerig wees nie (Ef 3:12; Heb 4:16).

Maar ‘vrymoedigheid’ beteken ook tegelyk dat jy eerlik moet wees. Jy kan nie met ‘n ‘show’ voor God staan nie. Daar hoef jy nie ‘voor te gee’ om iets of iemand te wees wat jy nie is nie. Jy kan maar net jouself wees. Jy kan met jou swakhede, foute, probleme en behoeftes vrymoedig voor God gaan staan. Jy kan soos die soldaat voor ‘n groot geveg sê: ‘Here, as ek miskien deur die loop van die dag vergeet om aan U te dink, dink asseblief aan my!’

Kom sonder ‘n afspraak.. kom sommer altyd!

In 1 Tes 5:17 staan daar die kort vers: ‘Bid gedurig’.

Wat beteken dit om altyddeur of gedurig te bid? Dit beteken om nooit jou kontak met die beheerkamer te breek nie. As soldate op een of ander sending uit is, is radioverbinding met die beheerkamer feitlik net so belangrik as wapens.

* Hulle het die versekering dat hulle nie alleen is nie. Die mense wat hulle kan help is ‘n oproep ver. En die ‘kanaal’ van die radio is net vir hulle bespreek. Hulle kan sommer te eniger tyd oor enigiets praat.

Net so is God se ‘kanaal’ vir ons ‘gedurigdeur’ oop! Hy is ‘n woord uit die hart, ‘n stille fluistering of ‘n kreet om hulp ver. God nooi ons uit om so met Hom te praat… enige plek, enige tyd. As jy in die kar sit en met God praat, of voor die stoof of in die eksamenlokaal… is God daar! Bid gedurig!

* Maar die soldate doen nou ook nie wat hulle wil nie. Hulle doen wat aan hulle opgedra is. As hulle enige verandering aan hulle planne maak, bevestig en bespreek hulle dit eers met die beheerkamer. Eintlik kan ‘n mens sê dat hulle hele optrede en houding eintlik ‘n gehoorsame reaksie op die opdrag van die beheerkamer is. Eintlik bly die ‘woorde van die beheerkamer’ gedurig by hulle en reageer hulle so.

Ons lewens as gelowiges moet ook so in volledige afhanklikheid en erkenning van God se teenwoordigheid geleef word. Dit moet ‘n lewenstyl wees! Gebed beteken in die sin nie noodwendig dat ek die hele tyd met toe oë iewers staan nie. Nee, dit beteken om met oop oë in die bewustheid van God se teenwoordigheid alles te doen. Dit is asof jy saam met iemand rondstap. Jy hoef nie heeltyd te babbel nie. selfs die oomblikke wat jy niks sê nie, is jy bewus van daardie persoon se teenwoordigheid. Die manier waarop jy optree ‘praat’ dan ook met daardie persoon. So is dit met God ook. Ons hoef nie gedurig te babbel in gebed sodat dit gebed kan wees nie. Nee, die stil oomblikke waarin ons bewus van God se teenwoordigheid leef, is ook ‘gebed’. En God wil hê ons moet altyd so leef!

‘n Godsafhanklike lewenstyl is ‘n biddende lewenstyl! En as jy so in gebed lewe, lewe gebed ook vir jou!

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt