Die vyf vlakke van leer

You can judge the health of a church nou by its seating capacity but by its sending capacity – Rick Warren

Die vyf vlakke van leer

Rick Warren beskryf vyf vlakke van leer. Die eerste twee vlakke het te doen met weet; vlakke 3 en 4 het te doen met wees en vlak 5 met doen.

Vlak 1 = Kennis

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp. (Hosea 4:6 – OAV). As ons die woord van God nie ken nie, kan dit baie maklik verdraai word. Ons moet ook die kerkgeskiedenis en sekere teologiese woorde en begrippe ken. Baie mense ken die feite, maar nie die inhoud nie. Jesus vra vir die Sadduseërs: Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie (Markus 12:24). Hierdie is mense wat die Pentateug gememoriseer het en tog sê Jesus vir hulle dat hulle nie die Skrif ken nie.

 

Vlak 2 =  Perspektief/wysheid

Nou sien ons die lewe van God se perspektief. Kennis beteken ek weet wat God doen; perspektief beteken dat ek weet hoekom God dit doen. My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede is nie soos Myne nie, sê die Here (Jesaja 55:8); Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel (1 Korintiërs 2:14 – 15).

Vlak 3 = Oortuigings

Na die eerste twee stappe begin ons nou sekere oortuigings ontwikkel. Wat is God se perspektief op versoeking/boosheid/ sonde/die duiwel …? Sodra ons perspektief ontwikkel, ontwikkel ons oortuiging. My mening is iets waaroor ek sal argumenteer; my oortuigings is iets waarvoor ek sal sterf. Hier is ‘n paar Bybelse voorbeelde van oortuigings:

  • Niks kan my van die liefde van God skei nie (Romeine 8:39)
  • God laat alles ten goede uitwerk vir dié wat Hom liefhet (Romeine 8:28 – 29)
  • God is magtig om dit wat Hy aan my toevertrou het tot op die dag wat Hy weer kom in stand te hou (2 Timoteus 1:12)
  • Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang (Handelinge 20:35)

Vlak 4 – Karakter

Oortuigings ontwikkel in gewoontes en die somtotaal van my gewoontes is my karakter. Ek ontwikkel my karakter deur gewoontes van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22 – 23). Hierdie staan bekend as die vrug van die Gees.

Vlak 5 = Vaardigheid

 As gereelde Bybelstudie, gebed, getuig, ens gewoontes in ons lewens word, hoe beter doen ek hulle. Dan bereik ek hierdie vlak van leer – vaardigheid. As die byl stomp word en nie meer geslyp word nie, moet jy meer krag gebruik. Dit betaal om jou verstand te gebruik (Prediker 10:10). Vaardigheid kom as jy ‘n ding oor en oor doen. Ons glo net wat ons doen.