Die Here wag op geregtigheid (59:1-15) – Francois Malan

Die lang gedig, wat nie altyd duidelik is nie, weerspieël die konflik in die vroeë Jodendom, en ondersteun hoofstuk 56 se aksent op ‘n oop inklusiewe gemeenskap en hoofstuk 58 se eis van ekonomiese regverdigheid in die samelewing. Die situasie het vererger en die onderlinge gemeenskap is  verskeur. ‘n Regsorde wat persoonlike vryheid waarborg bestaan nie, en mense blameer God.

59:1 Daar is iets radikaal verkeerd in die samelewing. Die verbondsooreenkoms  tussen die Here en die gemeenskap werk nie, en sommige verwyt die Here vir die chaotiese toestand waarin die land verkeer (soos in 40:27), maar die beskuldiging word kortaf verwerp met een vers: ‘Kyk! die hand van die Here is nie te kort om te help/red nie, en sy oor nie  te  swaar (doof) om te hoor nie! (vgl. 50:2). Sy krag is nie verswak of ingekort nie. Sy hand, dit is sy krag om te red/help en in te gryp word nie verminder nie. En hulle oneffektiewe godsdiens kan nie God beskuldig dat Hy nie hoor nie (vgl. Jak 4:3).

59:2 Verse 2-8 beskuldig Israel dat húlle nie die verbondsooreenkoms nakom nie, en dit is nie die Here wat in gebreke gebly het nie! Vers 2 stel hulle tekortkominge in algemene terme. Dit gaan oor hulle oortredings en sondes. In die volgende verse word dit duidelik uitgespel. Hulle oortredings het’n  skeiding gebring tussen hulle en hulle God en hulle sondes het gelei tot ‘n onwilligheid by God om hulle gebede te verhoor. ‘Julle God…’ beklemtoon die verbondsverhouding, en maak die oortreding daarvan so ernstig.

59:3 Julle hande is bevlek met bloed – skuldig aan  misdadige geweldshandelinge teenoor medemense (vgl. 1:15)

julle vingers met onreg – onbillike behandeling, teistering van swakkeres

julle lippe praat valsheid/leuens – om mense te mislei en te beswadder

julle tong uiter/mompel verkeerdheid/slegtheid – wat net verhoudings vertroebel.

Al hulle optredes (hande en vingers) en woorde (lippe en tong) is ‘n skending van die beeld van hulle God, die Here (Die Ek is die Teenwoordige), en maak mense (sy skepsels) seer. Dit getuig van die innerlike onvrede van mense wat net vir hulleself lewe.

59:4-6 Die vers kyk na die regspleging as die plek waar verontregtes veronderstel is om  reg, geregtigheid en billikheid te verkry, waarvan openbare verhoudings afhang. Maar dit geskied nie in howe waar leuens die waarheid verdring nie (Eks 20:16). As die hofprosedures verdraai word deur leuens en valse voorstellings, is niemand veilig nie. Dit is die soort onreg wat skeiding bring tussen die Here en sy volk (v2). Goeie menslike verhoudings en ‘n gesonde samelewing is verbind aan toegang tot die Here.

Israel se verdraaide samelewing word beskryf met twee metafore: slangeiers wat uitbroei en spinnerakke wat geweef word. Die slangeiers wat uitbroei bring net meer gif in die gemeenskap, meer onreg en geweld. Skynbaar beskeie verdraaiings van die reg (‘’n skuldige los lieg in die hof’) het geweldige en langdurige gevolge in die lewens van mense. Met ‘n web van woorde (o.a. met valse getuienis) word die slagoffers vasgespin en uitgesuig, en die mense wat die woorde gespin het, kan nie daarmee ‘n kleed van geregtigheid vir hulle weef nie, dit is ‘n web van  oortredings/boosheid en geweld.

59:7 Hulle voete hardloop na die kwaad en hulle haas hulle om onskuldige bloed te vergiet

Hulle gedagtes is gedagtes van boosheid/oortreding, geweld/vernietiging in hulle hoofstrate/hoofweë.

Nêrens is dit nog veilig in die samelewing wat in anargie verval het nie. Hulle het ‘n opstandige gemeenskap sonder hoop geword wat hulleself vernietig.

59:8 Die pad van vrede, sjalom,  ken hulle nie

In hulle (diep) spore (van die waens wat die oes wegry; as beeld van hulle lewenswyse) is daar geen reg nie

Hulle paaie (lewenswyses) wat hulle vir hulleself gemaak het,  is krom (oneerlik) – hulle gekose manier van  lewe is nie reguit, met reg en geregtigheid, nie.

Elkeen wat daarop loop (so lewe) ken nie sjalom nie.

Die slotsom van die gedeelte is: geen sjalom – geen reg – geen sjalom. Die rede daarvoor is dat die basiese vereistes vir ‘n  menslike samelewing makeer. Die vasgelegde praktyk van onregverdige uitbuiting is wyd verspreid – en dit vloei voort uit die regbank (regstelsel en praktyk). Israel is inderdaad vergiftig.

59:9  Die klagstaat van verse 2-8 lok ‘n beswaargebed uit, wat enersyds Israel se erkenning/belydenis is en andersyds die aanklagte van die Here bevestig. Reg en geregtigheid (vriendelikheid) word deurgaans van Israel verwag, bv. in 56:1. Maar hier verwys dit skynbaar nie na Israel se verpligting as die Here se volk nie, maar wat hulle van die Here verwag, maar nie van Hom kry nie. ‘Daarom bly die reg (in hofuitpsrake) ver van ons af, en die goeie (tsedakah kindness)  haal ons nie in nie; ons wag op lig – op ‘n duidelike verduideliking deur die Here, maar kyk! duisternis!, maar  ons wandel (lewe) in die duisternis’. Om op die lig te wag sonder om iets aan die geweld te doen, is hopeloos.

59:10 Hulle hoop op ‘n ordelike en voorpoedige samelewing, maar hulle ondervind slegs duisternis asof hulle soos blindes teen ‘n muur aanskuifel, en hulle struikel asof hulle besig is om dood te gaan. So erken hulle hulle toestand en die hopeloosheid daarvan.

59:11 Ses terme som op wat Israel van die Here verwag: reg en geregtigheid/vriendelikheid (v9a); lig en verduideliking (9b), reg en hulp/redding (v11). Met beelde wat die geluide van eensame diere en voëls maak, op soek na ‘n maat, word die hele volk (‘ons almal’)  se treurige toestand beskryf: die lae gegrom van ‘n beer, en ‘n duif se aanhoudende gekla:

‘ons verwag reg, maar daar is geen (reg nie), op redding, maar dit is ver van ons af’. Die gemeenskap kort alles wat hulle van God nodig het om ‘n leefbare en vreugdevolle lewe te leef (58:14). Maar hulle is in so ‘n ellendige toestand dat hulle niks van die Here vra nie. Hulle bekla slegs hulle behoefte.

59:12-13 Die aanklag was dat Israel nie die Here gehoorsaam het nie. Hier erken Israel die inhoud van die aanklag. Die fout lê nie by die Here nie (59:1 word bevestig), maar by Israel se verset teen die Here en dit maak dat die gemeenskapslewe totaal bederf het. Hulle erken hulle menigvuldige rebellies (teen die Here), hulle sondes (teen die Here en hulle medemense), hulle oortredings (van die Here se wet) en onregverdigheid/boosheid. Opstande in die naam van maatskaplike geregtigheid lei  nie baie keer na reg in die samelewing nie, veral nie as dit deurspek word met leuens nie.

59:14-15a Die gedeelte vanaf vers 9 word afgesluit met ‘n opsomming van die belangrikste en ooglopende dinge wat kortkom in die gemeenskap van Israel wat teruggekom het uit die ballingskap. Dit word saamgevat met vyf sinonieme terme vir die handelinge wat ‘n gemeenskap lewensvatbaar maak: die reg (misjpat) en geregtigheid (tsedakah) soos in vers 9; waarheid (‘emet) wat volgens verse 4 en 13 in die howe makeer;  opregtheid/wat nie verdraaid is nie (nekogah) en waarheid  (‘emet) herhaal die vorige twee om dit te beklemtoon. Die vyf wys duidelik dat die lewe van ‘n gemeenskap afhang van sy etiese verantwoordelikheid. Maar dit makeer alles in Israel se samelewing. Vers 13 se wegdraai van die Here af en vers 9 se reg wat ver van hulle verwyder is, onderstreep hoe jammerlik die gemeenskap ontaard het. Die ononderhandelbare vereistes van reg en geregtigheid is die voorwaarde vir ‘n nuwe gemeenskap van verlossing en vreugde  wat die Here vir die teruggekeerdes aangedui het in 56:1-2. Dit het verdwyn. Nou is dit duidelik: as daar geen reg en geregtigheid is nie – is daar geen lewensvatbare samelewing nie!