DIE WÊRELD SAL NOOIT WEER DIESELFDE WEES NIE – ‘n Kind, Jesus, word gebore en word groot – Jan van der Watt

Kersfees word deur Christen en nie-Christen ewe hard gevier, maar om verskillende redes. Manne met lang baarde, engeltjies, sneeu, takbokke, alles is deel daarvan. Maar wat sê die Bybel daaroor?

Deel 1 – die geboorteverhale van Jesus

 1.1) Kom ons lees die geboorteverhale…

Voor ons begin: as jy moet sê, dink jy die geboorteverhale maak ‘n groot deel van die verhaal van Jesus uit? Indien wel, waarom?; indien nie, waarom nie?

………………………………………………………………………………………………………………………

………………………………………………………………………………………………………………………

 * Kyk na die volgende. Dit is feitlik al die gegewens wat ons oor Jesus se geboorte in die Nuwe Testament het:

 

DIE VOORKOMS VAN DIE GEBOORTEVERHALE VAN JESUS IN DIE BYBEL

Matteus 1-2

Twee hoofstukke (uit 28): Na die geboorte kry ons die Herodusverhaal met die manne uit die Ooste, die kindermoord en Jesus wat moet vlug.

Lukas 1-2

Twee hoofstukke (uit 24): Die aankondiginge van die geboortes van Johannes en Jesus, asook hulle geboortes, word met lofliedere van die ouers en selfs die engele aangevul.

Johannes

Joh 1:14 – “Jesus het vlees geword en onder ons kom woon”. Joh 6:42 – “Is dit nie die seun van Josef nie”. In Joh 7:42 is daar ‘n implisiete ontkenning dat Jesus in Betlehem gebore is.

Paulus

Gal 4:4-5 – “Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe 5om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word”. Rom 1:3 – “As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore.” Rom 9:5 – “uit hulle is die Christus as mens gebore”.

Openbaring

Open 12:5 – “Sy het ’n kind in die wêreld gebring, ’n seun, bestem om al die nasies met ’n ystersepter te regeer”.

  • Wat sou jy hieruit aflei oor die belangrikheid van die geboorte van Jesus?

……………………………………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………………………………….

Afleidings wat ‘n mens wel kan maak:

  • Die geboorteverhale is relatief tot die res van die evangelie maar skraal en lyk selfs onbelangrik. In die ander boeke van die Nuwe Testament (afgesien van die evangelies) kom dit omtrent nie voor nie, behalwe vir ‘n paar sinne.
  • Opvallend: Markus, wat die eerste evangelie is wat geskryf is, het nie eers ‘n geboorteverhaal in nie. (Kyk hoe begin Markus 1). Dit beteken dat Markus gedink het dat die geboorteverhaal nie nodig is om die evangelie van Jesus Christus te vertel nie. Dit kan daarsonder!
  • Die inhoud van Matteus en Lukas se verhale verskil ook totaal. 

Ons weet ook dat die vroeë Christene nie kersfees (met ander woorde, die geboorte van Jesus) gevier het nie. Dit het eers baie later (hier in die vierde eeu) gebruik geword.

[1] As jy min tyd het, hoef jy nie die verwysings na die Bybeltekste te lees nie – lees net die teks en antwoord die paar vrae. Alles sal nog vir jou sin maak. As jy meer tyd wil spandeer, lees gerus die Bybeldele waarna verwys word. Dit sal jou kennis uitbrei.

Skrywer: Prof Jan van der Watt