Die wit steentjie

Die wit steentjie – Coen Slabber

Leonie vra:

 

Antwoord

Dr Coen Slabber antwoord

Wat beteken hierdie wit steentjie? In Openbaring is wit simbolies die teken van suiwerheid/reinheid. Suiwerheid hier verwys na verlossing of geloof of oorwinning. Wit verwys na die hemelse heerlikheid van almal wat oorwin. Dink aan die groot menigte wat voor die troon en voor die Lam staan: Hulle het wit klere aangehad (Openbaring 7:9).

Kom ons egter by die wit steentjie is die betekenis nie so duidelik nie. In die antieke wêreld mag die wit steentjie na verskillende dinge verwys het:

‘n Juweelsteentjie soos ons dit op die borssak van die hoëpriester gekry het. Joodse tradisie sê dat hierdie steentjies saam met die manna in die woestyn opgetel is. Die wit steentjie is dan ‘n kosbare geskenk van God.

Gekleurde stene is gebruik om berekenings mee te maak. Dit beteken dat die Christen getel is onder die aantal gelowiges.

Aan die einde van ‘n verhoor het die regter ‘n steentjie in ‘n kruik geplaas – wit beteken onskuldig en swart beteken skuldig – dit registreer die vonnis. Dit beteken dat Christene vrygespreek is voor God as gevolg van die werk van Jesus Christus.

  • Ryk mense het “kliënte” gehad – mense wat elke oggend van hulle beskermheer kos en geld vir die dag ontvang het. Hulle het ‘n tessera ontvang om hulle te identifiseer – hulle het die reg op gratis kos en geld.  Dit beteken Christene het die reg op die gratis gawes vir die lewe wat Christus gee.
  • ‘n Oorwinning by die spele was ‘n groot eer in die antieke wêreld. Uitstaande wenners het ‘n tessera ontvang. Dit het as “toegangskaartjie” gedien by toekomstige spele of by feesgeleenthede. Dit beteken die Christene is die wen atleet van Christus en deel in die heerlikheid van sy Here.
  • Die swaardvegter (gladiator) was die held wat die meeste bewonder is. Hulle moes dikwels aanhou veg totdat hulle uiteindelik doodgemaak is tydens ‘n geveg. As hy besonder goed was, is hy toegelaat om af te tree. Hulle ontvang dan ‘n tessera met die letters SP daarop. Dit is vir die Latynse spectatus – ‘n man wie se dapperheid bo alle twyfel bewys is. Dit beteken die Christen is die swaardvegter  vir Christus wat hom as dapper in die lewenstryd bewys het. Hy mag dus die rus wat Christus gee, ingaan

Die heidene het ‘n hangertjie met ‘n geheime naam daarop om die nek gedra. Hierdie hanger was soms ‘n kosbare edelsteen, maar dikwels was dit net ‘n klippie. Die naam was gewoonlik dié van een van die gode en die doel was om die draer teen boosheid te beskerm. As dit die rede vir die wit steentjie is, beteken dit dat Christene die Naam van God of Jesus Christus op die steentjie gedra het. Hulle is dus veilig in lewe en in dood, want julle ken die Naam van die ware God – hulle het niks meer nodig nie

Ingewydes in die kultus van Asklepius het ‘n steentjie met ‘n nuwe naam daarop gegraveer ontvang. Dit het beteken dat hulle hulle inisiasie suksesvol deurgegaan het.

In die antieke wêreld is ‘n besonder gelukkige dag ‘n wit dag genoem. Toe Perikles Samos beleër het, het hy besef dat dit lank sal duur voor die stad sal oorgee. Hy verdeel sy leër in agt dele en elke dag trek hulle lootjies. Een van die boontjies was wit. Die groep wat die wit boontjie getrek het, was daardie dag van diens vrygestel – ‘n gelukkige dag.

Prof Jan du Rand reken dat die waarskynlike verklaring is dat die wit steentjie dien as toegang tot die Messiaanse feesmaal. Die nuwe naam kan teruggevoer word na Jesaja 62:2: Jy sal ‘n nuwe naam kry, ‘n naam wat die Here self vir jou gekies het. Die nuwe naam is dus die naam wat die gelowiges wat oorwin het, ontvang.

Verwysings:

Barclay, William (1976): The Revelation of John, Volume 1. The Saint Andrews Press, Edinburgh.

Skrywer: Dr Coen Slabber