Die woord gesindheid

Die woord gesindheid – Francois Malan

Derick vra:

Hoeveel keer kom die woord gesindheid in die Bybel voor?

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Dit hang af watter vertaling van die Bybel gebruik word. In die 1983-vertaling in Afrikaans word die woord ‘gesindheid’ bv. gebruik as vertaling/verduideliking vir die volgende woorde in die Hebreeuse Ou Testament, die Griekse vertaling van die Ou Testament, en die Griekse Nuwe Testament, in vergelyking met die 1953-vertaling van die Afrikaanse Bybel, en die 2014-Direkte-vertaling van die NT en Psalms in Afrikaans.

Numeri 14:24: die gesindheid van Kaleb, vir die Hebreeuse ruag gees, in Grieks pneuma soos die 53-vertaling dit letterlik met ‘gees’ vertaal het – so ook in Spreuke 16:2.

1 Kronieke 29:18: hierdie gesindheid in die gemoed van die volk, vir die Hebreeuse: as die gestalte jezêr van die gedagtes van die hart van u volk, 1953: so ‘n gesindheid in die gedagtes van die hart van die volk.

Sagaria 6:14 aan die goeie gesindheid van.., vir Hebreeus gen ‘gewilligheid,’ Grieks charis ‘guns,’ 1953-vertaling ‘vriendelikheid.’

In die Nuwe Testament gebruik die 1983-vertaling gesindheid vir die volgende Griekse woorde:

Handelinge 8:21 jou gesindheid teenoor God, vir die Griekse ‘jou hart teenoor God’ wat 1953 en 2014 met ‘hart’ vertaal. Die Griekse figuurlike gebruik van ‘hart’ kardia dui die innerlike dryfveer vir jou dade aan, met klem op jou gedagtes wat in dade omgesit word, wat eintlik meer sê as net jou gesindheid wat nie noodwendig tot dade lei nie.

In Filippense 2:5 word die Griekse sinsnede ‘froneite hierdie onder julle’in 1983 vertaal met ‘dieselfde gesindheid moet in julle wees.’ So ook in 1953 en 2014. Die Griekse werkwoord beskryf deurdagte beplanning met beklemtoning van die houding of gesindheid – om op ‘n spesifieke manier te dink en op te tree met ‘n spesifieke gesindheid van waardering en eerbetoon teenoor die persoon teen wie jy optree soos in 2:4 verduidelik word.

In Filippense 2:20 word die Griekse ‘ek het niemand soos hy nie’ in 1983 vertaal met ‘ek het niemand met dieselfde gesindheid as hy nie,’ so ook in 1953 en 2014. Hier word ‘gesindheid’ ook ingevoeg vir duidelikheid vanuit die res van die sin.

 

rof Francois Malan