Die Wyse Manne

DIE WYSE MANNE

Die beskrywing van die Wyse Manne vind ons net in die Matteus-evangelie. Ons weet nie veel van hulle nie, behalwe dat hulle waarskynlik uit Persië gekom het. Hulle was die destydse sterrekundiges, maar het ook die toekoms probeer voorspel aan die hand van die sterre. Hulle het baie invloed gehad in die koninklike hof in Persië. Matteus teken hulle in ‘n positiewe lig en gebruik hulle om Jesus se koningskap te belig. 

Van hierdie misterieuse figure lees ons net in die Matteus-evangelie. Matteus 2 sê hulle het die pasgebore koning van die Jode se ster in die ooste gesien, toe die tog na Judea aangepak om aan hom hulde te bring, uiteindelik ‘n oudiënsie met die uiters ontstelde koning van die Jode, Herodes die Grote, in Jerusalem gehad, die baba Jesus in Betlehem vereer met hulle geskenke, en toe, na ‘n goddelike waarskuwing, nie aan Herodes gerapporteer nie, maar teruggekeer na hulle land van herkoms.

Wie was hierdie figure? Die kerklike tradisie het gou allerlei stertjies aangelas, soos dat daar drie was, met die name Kasper, Melgior en Baltsasar. Maar die getal drie is waarskynlik afgelei van die vermelding van die drie geskenke – goud, wierook en mirre. En die name is blote spekulasie.

Ons het egter meer sekerheid oor die beroep van die wyse manne, waar hulle vandaan gekom het, en veral, watter betekenis die Matteus-evangelie aan hulle heg.

Eerstens, hulle beroep en land van herkoms. Die 1933/53 Afrikaanse vertaling noem hulle “wyse manne”, in navolging van die ouer Engelse vertalings, wise men. Die 1983-vertaling noem hulle egter “sterrekykers”. Die meer tegnies korrekte benaming is “magiërs”, na luid van die oorspronklike Grieks, magoi. So verwys sommige Engelse vertalings na hulle as magi.

Die magoi was waarskynlik van Persiese herkoms. Daarom praat Matteus tereg van die magoi as komende “van die ooste”. Hulle was geleerdes uit die priesterkaste van Persië, en het baie invloed in die Persiese koninklike hof gehad, omdat hulle kenners was van die stand en beweging van die hemelliggame. Hulle het egter ook wyer as net in Persië voorgekom. Mens sou dus kon sê dat hulle die destydse sterrekundiges was.

Maar daar is ‘n belangrike bykomende element: Hulle was nie net sterrekundiges in die suiwer wetenskaplike sin van die woord nie, maar het ook probeer om belangrike tekens en kennis uit die stand en verskyning van die sterre af te lei omtrent toekomstige aardse gebeure. Daarom dat hulle soveel invloed gehad het aan die koninklike hof. Hulle is byvoorbeeld geraadpleeg oor die moontlike verloop van staatkundige gebeure en die uitkoms van oorloë. Baie waarde is aan hulle opinie geheg. In vandag se terme sou hulle dus ook as astroloë of sterrewiggelaars bekend kon staan, wat natuurlik by ons (tereg) ‘n negatiewe betekenis het. Maar in die antieke tyd is daar nie so ‘n skerp onderskeid getref tussen sogenaamde suiwer wetenskaplike kennis en die manipulasie daarvan nie. Dit is as een en dieselfde ding gesien. Nou kan mens ook verstaan waarom Herodes so ontsteld was oor die koms van die magoi, veral toe hy hoor dat hulle navraag doen oor die geboorte van die koning van die Jode nadat hulle sy ster sien opkom het.

Hoe dit gekom het dat die magoi in die verskyning van ‘n besondere ster iets van die geboorte van die Jode se koning kon aflei, is nie duidelik nie. Maar dit klop met wat die magoi gedoen het, naamlik om die omringende nasies se lotgevalle te bestudeer aan die hand van die stand en verskyning van nuwe sterre. Moontlik was hulle bekend met die Joodse messiaanse verwagtinge, want ons weet dat die Jode sterk verteenwoordig was in Babilonië na die Joodse ballingskap.

En dit bring ons by Matteus se interpretasie van die magoi. Matteus sien hulle in ‘n positiewe lig. Hieruit moet mens nie iets aflei oor ‘n positiewe waardering vir iets soos astrologie nie. Ons moet onthou dat die magoi die internasionale intelligentsia van daardie tyd verteenwoordig. En dis juis hierdie geleerdes wat die baba Jesus vereer. Daarmee word Jesus ook as toekomstige wyse man gekenmerk – een groep wyses wat ‘n ander Wyse vereer.

Verder lê daar ook ‘n geweldige ironie opgesluit – dat die Joodse skrifgeleerdes wat moes geweet het van die geboorte van die messias, dit gemis het. Dit kos heidense geleerdes om hulle oë daarvoor oop te maak en te laat skarrel na die Skrifte se profesieë hieroor.

‘n Verdere ironie is die skrille kontras tussen Herodes se vals hulde en die egte hulde van die magoi (die magoi het gekniel = verering en aanbidding). Ook die geskenke spreek van koninklike verering: goud, wierook en mirre was destyds bekend as koninklike geskenke. Verder, dat die magoi heidene is, pas in by die boodskap van die Matteus-evangelie. In Matteus 28:19-20 sê Jesus die dissipels moet die evangelie aan die nasies verkondig en hulle sy dissipels maak. Die magoi se verering en aanbidding is dus ‘n voorteken van die hele wêreld wat tot aanbidding van Jesus sal kom.

 

Skrywer: Prof Hermie C van Zyl