Diens van Barmhartigheid

 

Faith is to believe what we do not see; and the reward of this faith is to see what we believe – Augustinus

 

Diens van Barmhartigheid

Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word (Matteus 5:7).

Wat is barmhartigheid? Gewoonlik dink ons aan twee dinge: om mense wat dit nie verdien nie te vergewe of om mense te help wat hulleself nie kan help nie. Maar barmhartigheid is veel meer. Daar is ten minste sewe fasette van barmhartigheid. Hierdie is ook sewe maniere om ons verhoudings te verander en om ‘n barmhartigheidsbediening te ontwikkel.

 

  1. Wees geduldig met mense se giere

Mense is soms eienaardig; hulle het allerhande maniertjies. Soms het hulle irriterende gewoontes. Jy bewys barmhartigheid as jy nie geïrriteerd of kwaad word nie. Almal van ons het maar ons giere. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde (Efesiërs 4:2). Begin deur barmhartigheid by die huis te bewys, want julle sien mekaar se foute meer as wat enigiemand anders dit sien en jy moet die res van jou lewe met hulle saamleef.

 

  1. Help enigeen wat seer kry

Daar is mense wat seer kry om ons, maar ons is gewoonlik te besig om dit raak te sien. Dink maar weer aan Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Twee mense loop by die beseerde man langs die pad verby. Dit is die Samaritaan wat hom help. Jesus sê dat ons naaste die persoon is wat seer het, maak nie saak hoeveel hy van ons verskil nie.

 

  1. Gee mekaar ‘n tweede kans

 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het (Efesiërs 4:32). In vers 31 noem Paulus enkele negatiewe reaksies: Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Die wêreld se reaksie word dikwels deur bitterheid en harde woorde gekenmerk – kyk net op Facebook.

 

  1. Doen goed aan diegene wat jou seer maak

Barmhartigheid beteken dat ons aan mense gee wat hulle nodig het en nie wat hulle verdien nie. Die mense vir wie jy nie wil liefhê nie, verdien dit die meeste. Mense wat ander seer maak, het baie liefde en barmhartigheid nodig.

 

  1. Wees vriendelik teenoor dié wat jou beledig

Verbale aanvalle op die kerk is besig om toe te neem. Een van die groot probleme van kerkleiers vandag is die sogenaamde kultuuroorlog. Oorloë kom altyd teen ‘n duur prys. Ons moet besluit: wil ons die argument wen of wil ons mense vir God wen.

 

  1. Bou brûe van liefde na die ongewildes

Daar is mense in jou straat of met wie jy werk met wie niemand vriende wil maak nie. Almal vertel grappe agter hulle rug. Hulle mag ‘n ander lewenstyl of geloof hê; hulle mag as gevolg van hulle kultuur anders aantrek. Hulle is nie deel van die groep nie; hulle is nie gewild nie. Hoekom sou God wou hê dat ons brûe na hulle moet bou? Want jy kan nie jou teenstanders vir God wen nie. As jy ‘n lewe van barmhartigheid leef, sal jy gekritiseer word. Jesus was nie bang om met sulke mense geassosieer te word nie. Hoekom nie? Hy het presies geweet wie Hy is en Hy het geweet wat sy roeping was: om diegene wat verlore was te soek en te vind.

 

  1. Heg meer waarde aan verhoudings as aan reëls

Watter ongelowige kan jy uitnooi vir ete? Toe Jesus vir Levi/Matteus geroep het om sy dissipel te wees, het hy ‘n groot feesmaal gehou waar ‘n groot aantal tollenaars en ander mense saam met hulle aangesit het. Nooi ongelowiges uit vir ‘n ete by jou en daarna nooi jy hulle om ‘n erediens saam met jou by te woon. Dit is jou bediening van barmhartigheid.

 

Het ek en jy in ons lewens ‘n bediening van barmhartigheid?