Dink aan jou Skepper in jou jeug

Are you a champion of Christ on Twitter, but not in your neighborhood? —Michael Oh

 

Dink aan jou Skepper in jou jeug

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voordat die swaar dae kom (Prediker 12:1)

Die wêreld sê: die jeug vir plesier; die middeljare vir besigheid; die ouderdom vir godsdiens. Dit is so dat ons veral in ons jong dae geneig is om ons Skepper te vergeet. Jongmense moet werk daaraan om Hom te onthou – om te onthou dat Hy ons gemaak het, dat Hy vir ons voorsien, dat Hy ons versorg, dat Hy ons beskerm, dat Hy ons verlos …

 

Hoekom moet ons begin in ons jong dae?

  1. Dit is jare waar jy baie energie het

Hoekom moet ons wag tot ons afgeleef is voordat ons ons Skepper begin dien? God wat ons gemaak het, verdien ons aktiefste en gesondste jare – terwyl ons nog sterk is, ons verstand nog skerp is en ons nog baie entoesiasme het.

 

  1. Dit is die jare waar jy baie sensitief is

Hoe ouer ons word, hoe harder word ons harte. Ons gewetes is dikwels al toegeskroei en die sonde het al diep wortels in ons lewe. Ons moet ons jeugdige sensitiwiteit en ontvanklikheid gebruik om aan ons Skepper te dink.

 

  1. Dit is die jare waar jy makliker leer

Ons leer meer as ons jonk is as in enige ander tydperk van ons lewe.

 

  1. Dit is gevaarlike jare

Ons jong dae is ‘n mynveld. Oral is gevare – ook binne in ons. Daar is baie versoekings vir jongmense. In ons jong dae het ons ons Skepper nodig om ons deur hierdie mynveld te dra.

 

Ons sien daar is goeie redes om aan ons Skepper in ons jong dae te dink.