Dissipelskap: Dra mekaar se laste

All of us are born for a reason, but all of us don’t discover why. Success in life has nothing to do with what you gain in life or accomplish for yourself. It’s what you do for others.” ~ Danny Thomas

 Dissipelskap: Dra mekaar se laste

Daar word baie geskryf oor dissipelskap. So byvoorbeeld het twee boeke onlangs verskyn: Follow Me van David Platt en Multiply van Francis Chan. Ook op heelwat blogs word daar geskryf oor hierdie onderwerp. Ek het besluit om ‘n reeks oor dissipelskap te skryf waarin ek gebruik maak van hierdie boeke en verskeie blogs. Die sentrale tema van al hierdie geskryf, is dat ons dissipels is en dat ons dissipels moet maak.

Leraars rus lidmate toe. Hulle doen nie al die werk in die gemeente nie. Maar as ons ander moet dien, vra ons dadelik: Wie? En Hoe?

Bediening klink intimiderend. Ken jy mense wat ‘n stryd met sonde het of wat swaar laste dra? Help hulle. Ons hou nie daarvan om by ander mense se probleme betrokke te raak nie. Maar God roep ons om ander te bemoedig, te help, uit te daag. Jy kan nie wag totdat jy eers al jou eie probleme opgelos het voor jy ander help nie.

In die moderne wêreld soek ons vinnige en maklike antwoorde vir probleme. Ons gaan selde na die hart van ‘n probleem. Is ons bereid om in ander mense se laste te belê? So dikwels sê ons net vinnig: “Ek dink aan jou. Ek bid vir jou.” Dit help hulle nie in die moeilike tyd wat vir hulle voorlê nie. Ons sien dikwels nie die werklike probleem raak nie. Die probleem lê in die hart van die persoon.

Hoe verander ons ‘n persoon se hart? Dit is onmoontlik. Net God kan dit as deel van sy verlossingsplan doen. Die evangelie gaan nie net oor hoe om gered te word nie. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en vir julle ‘n hart van vlees gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom (Esegiël 36:26 – 27).

Dit is die Gees wat iemand lewend maak, die mens self kan dit nie doen nie (Johannes 6:63). Hoe doen God dit? Deur sy woord: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (1 Timoteus 3:16 – 17). Hy doen dit ook deur gebed. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking (Jakobus 5:16 – 17). Ons kan dit so opsom: As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe (Romeine 8:13).

Om mekaar se laste te dra is moeilik, maar dit is nie opsioneel nie. Daarvoor is die kerk daar. God se bedoeling is egter dat die kerk een liggaam moet wees en nie ‘n klomp individue nie. Hy bemagtig ons om die waarheid en transformasie in mense se lewens te bring – nie deur vir hulle traktaatjies te gee en goeie wense toe te wens nie. As ons God se roeping in kerk wil uitleef, moet ons ons verantwoordelikheid vir mekaar baie ernstig opneem. Volgende keer gaan ons na die rol van die plaaslike gemeente kyk.