Dit kon ek gewees het

. —R.C. Sproul

Dit kon ek gewees het

Adolf Eichmann was een van die argitekte  van die Joodse volksmoord. Na die Tweede Wêreldoorlog ontsnap hy na Suid-Amerika. Hy word in 1960 gevang en na Israel geneem. Daar word hy verhoor, skuldig bevind en tereggestel.

Maar tydens sy verhoor gebeur ‘n interessante insident. Die aanklaer moes mense kry wat kon getuig dat hulle gesien het dat hy die gruweldade gedoen het – ooggetuies. Een van hierdie getuies was Yehiel De-Nur. Toe hy moes getuig en Eichmann in die glaskas sien sit, val hy op die grond neer en begin bitterlik huil. Pandemonium in die hofsaal. Die regter doen sy uiterste om weer orde te herstel.

 

Later het hy ‘n onderhoud met Mike Wallace van 60 Minutes. Wallace wys vir hom die band van die insident en vra hom wat gebeur het. Is Hy deur die pynlike herinneringe oorweldig? Was dit haat? Sy antwoord kom as ‘n skok vir meeste mense: hy is oorweldig deur die besef dat Eichmann nie ‘n demoon was nie, maar ‘n gewone mens. “I was afraid about myself … I saw that I was capable to do this … exactly like he.”

En ek? Jesus is in Jerusalem vir die paasfees. Baie mense kom tot geloof toe hulle sy wondertekens sien. Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is (Johannes 2:23 – 25). Die bose skuil in die harte van gewone mense. Ons doen nou die dinge wat Eichmann gedoen het nie, tog maak ons dikwels die mense om ons hartseer. Dit verhoed dat ons God- die Een wat ons gemaak het en aan wie ons alles verskuldig is – opreg kan dien.