My doel in die lewe

 

For, if we have not charity, we are not Christians: charity is the great duty of Christians. George Whitefield
My doel in die lewe

Dit is belangrik om jou doel in jou lewe te vind. As jy weet ‘n sekere ondervinding het ‘n doel, kan jy die swaarkry verduur. J. D Greear sê dat ons God se doel vir ons kan ontdek en dat dit ons hele lewe sal verander. Niks sal meer dieselfde lyk nie. Almal van ons wil graag God se doel vir ons lewens ontdek, maar ons weet nie waar om daarvoor te soek nie.

 

Psalm 57 leer vir ons drie waarhede oor ons Godgegewe doel.

  • God het ‘n doel vir jou … maar dit gaan nie oor jou nie Vers 6 en 12)

Die opskrif sê dat Dawid hierdie gedig geskryf het na aanleiding daarvan dat hy vir Saul in ‘n grot gevlug het. Saul probeer alles in sy vermoë om Dawid te vang en dood te maak – Dawid is aan die vlug. Nêrens lees ons egter dat Dawid vir God versoek om sy omstandighede te verander nie. Hy sê dat God sy grootheid hoog bo die hemel en sy maag oor die aarde moet wys. Hy bid nie vir sy verlossing nie, maar bid dat God verheerlik sal word.

 

Die doel van my lewe gaan nie oor my nie. Ek bestaan om God te verheerlik. Selfs die skepping roep uit: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend (Psalm 19:2). Dit is moeilik vir ons om te aanvaar, want ons lewe is dikwels selfgesentreerd. Ons leef asof God bestaan om ons as die middelpunt van die heelal te verheerlik. As ons God se doel vir ons lewens wil ontdek moet ons besef dat die wêreld nie om my wentel nie – Jesus is die middelpunt van die heelal.

 

  • God het ‘n doel vir jou – dit gaan oor wat Hy in jou doen (vers 2)

As die lewe vir ons onregverdig lyk, moet ons by God skuiling soek en onder sy vleuels skuil tot die bedreiging verby is. Dawid se skuiling was nie die grot waarin hy weggekruip het nie – sy toevlug was God se teenwoordigheid. Dit is God se doel vir my en jou ook. Almal van ons het ‘n skuiling – ‘n plek waar ons veiligheid soek. Vir sommige is dit hulle werk; vir ander is dit hulle hankbalans; vir ander is dit dwelms; … As jou skuiling nie God is nie, sal dit misluk, want dit is nie permanent nie. God stel meer belang in jou karakter as in jou gemak.

 

  • God het ‘n doel vir jou … as jy daaraan oorgee, sal Hy dit vervul (vers 3)

God is ‘n perfeksionis as dit by sy doel kom – niks sal Hom verhoed om dit wat Hy doen te voltooi nie. Ek roep God die Allerhoogste aan, God wat dit vir my voleindig (vers 3 – OAV).

 

Die ironie is dat eers as jy sê dat jy nie die middelpunt van die heelal is nie, sal God dinge herrangskik sodat Hy sy doel vir jou kan vervul. As jy jou aan God se doel oorgegee het, kan jy rustig gaan lê en slaap en met ‘n vreugdelied in jou hart wakker word – ten spyte van swaarkry en probleme.

 

God het ‘n doel vir jou. Hy wil jou gebruik om sy Naam te verheerlik en Hy wil jou leer om Hom te vertrou. Natuurlik kan jy bid dat God jou omstandighede moet verander, maar God se doel is dat jy eerder bid: “God laat ek u Naam in my huidige omstandighede verheerlik; Help my om U beter te ken.”