Doop in twee verskillende kerke – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek is ‘n NG Kerk lidmaat wat in die buiteland woon vir die afgelope 10 jaar. Ek het my vrou in die buiteland ontmoet en sy is van die Russies-Ortodokse Kerk. Ons het ‘n baba wat ‘n jaar en ‘n half oud is. Waar ons tans woon, is daar nie ‘n NG Kerk of ‘n Russies-Ortodokse Kerk nie. Ons oorweeg dit om haar in een of albei kerke te laat doop. Om haar in beide kerke te laat doop is uiteraard ‘n moeilike vraag: Is dit gewens om ‘n kind in twee uiteenlopende Christelike Kerke te laat doop? In my “oop” gemoed is dit dieselfde God, maar ek verstaan ook dat beide kerke baie verskillende sienings aangaande godsdiens het en dus kan dit uiteraard miskien nie versoenbaar wees nie.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die doop is die een sakrament wat kerke saambind, ongeag leer-, tradisie- en liturgiese verskille. Dit is soos Efesiërs 4:4-6 sê: “Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.” Daarom erken die NG Kerk (en so ook die meeste hoofstroomkerke) die doop van alle ander Christelike kerke. Die NG Kerk doop dus niemand oor net omdat die persoon aanvanklik gedoop is in ‘n ander kerk as die NG Kerk nie. Die enigste voorwaardes vir die erkenning van die doop is dat dit bedien moes gewees het (a) in die Naam van die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees; (b) met water; en (c) deur ‘n persoon met bevoegdheid in die betrokke kerkverband.

Die wese van die doop is dat dit ‘n eenmalige handeling is en nie nodig is om herhaal te word nie. Die doop staan vir die eenmalige opname van die kind in die ryk van God, selfs al verstaan die kind nog niks daarvan nie. Die doop illustreer juis die vooruitlopende genade van God; dit verkondig en verseël aan ons die genade van God selfs nog voordat ons daarom vra. Dít is wat tipies gebeur het toe God met Abraham ‘n verbond aangegaan het, en wat voortgesit word in die Nuwe Testament toe God hierdie verbond bekragtig en nuut gemaak het in Jesus Christus. Natuurlik moet dit die kind van gelowige ouers wees, want die verbond het twee kante: God wat sy genade aan ons verseël in die doop, maar die kind wat in hierdie genade moet grootword, daarvan vertel moet word, dit voor- en uitgeleef moet sien in sy/haar ouers se lewe, en dit self, soos sy opgroei, persoonlik moet toeëien.

Hierdie eenmalige karakter van die doop maak dat dit nie net onnodig is om die kindjie in twee verskillende kerke te laat doop nie, maar dat dit ook onwenslik en selfs onreëlmatig is. Want dit sou neerkom op ‘n herdoop, wat teen die karakter van die doop as ‘n eenmalige handeling ingaan. Ek sou dus aanbeveel dat die ouers moet ooreenkom in watter kerk die kindjie gedoop moet word. Uiteraard beteken dit ook dat hulle lidmate van daardie kerk moet wees, of – volgens die gebruik in die NG Kerk – toestemming verleen word deur hulle tuisgemeentes om hulle kind in ‘n ander gemeente te laat doop. Gegewe hulle situasie in die buiteland, kan dit selfs inhou dat hulle die doop in ‘n kerk anders as die NG Kerk of Russies-Ortodokse Kerk laat bedien. Dit gebeur immers dikwels dat ouerpare by ander kerke inskakel, as dié waarin hulle grootgeword het nie beskikbaar is in hulle omgewing nie. So ‘n inskakeling is ook te verkies, want dan wys die ouers dat hulle ‘n lewende verhouding met God in Christus het en dat hulle die doop vir die regte (gelowige) redes en nie uit gewoonte of bygelowigheid wil laat bedien nie. Want einde ten laaste gaan dit daaroor dat die kind nie net gedoop word nie, maar dat die ouers daardeur te kenne wil gee dat hulle hul kind in die boesem van die Christelike gemeente wil grootmaak.

Wanneer die ouers dan later moontlik sou inskakel by een van die kerke waarin hulle grootgeword het, dan kan hulle aansoek doen dat hulle kind se doop erken word in daardie gemeente. Hulle sou dan slegs die kind se doopsertifikaat, uitgereik deur die kerk waar die kind oorspronklik gedoop is, as bewys van haar doop kon indien. In die NG Kerk sou so-iets byvoorbeeld belangrik wees wanneer die kind belydenis van geloof wil aflê. Maar ander kerke, soos die Russies-Ortodokse Kerk, mag miskien ander gebruike hieroor hê.

Ter opsomming: Wat vasstaan, is dat die kind nie nou in twee verskillende kerke gedoop moet word nie, want dit sou neerkom op oordoop, wat teen die karakter van die doop as eenmalige heilshandeling ingaan. Maak net seker dat die vereistes vir erkenning van die doop, soos aan die begin genoem, nagekom word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl