Egskeiding – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Volgens die Bybel pleeg ‘n vrou wat trou met ‘n geskeide man (man nie geskei a g v derde party nie), egbreuk in die oë van die Here.

1.1    Beteken dit dat elke intieme daad in so ‘n huwelik, owerspel en fornikasie is?

1.2    Al is die huweliksbelofte in die kerk afgelê, was die man volgens God se wette steeds verbind aan sy eerste vrou. Sou so ‘n huwelik in die skeihof eindig, die vrou vra en kry vergifnis en sy ontmoet ‘n man wat in die Here is; sou sy vry wees om te trou?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Volgens die Bybel pleeg ‘n vrou wat trou met ‘n geskeide man (man nie geskei a g v derde party nie), egbreuk in die oë van die Here.

1.1        Beteken dit dat elke intieme daad in so ‘n huwelik, owerspel en fornikasie is?

In die vraag hierbo word ‘n paar aannames gemaak wat met die eerste oogopslag te wetties en letterlik geïnterpreteer word vanuit die Bybelteks. Hertrou na egskeiding is ‘n ingewikkelde saak wat nie sonder meer reglynig vanuit ‘n enkele Bybelteks afgelees kan word sonder dat die bedoeling van die teks eers na behore onder die loep geneem is en die spesifieke omstandighede van die eietydse situasie in ag geneem is nie. Eers dan kan mens probeer om ‘n koers en rigting aan te dui wat kan aanspraak maak op Bybelse begronding. Wat hieronder aangebied word, kan dus niks meer wees nie as net die trek van breë riglyne oor die teks waarna verwys word.

Ek vermoed die teks wat ter sprake is in die stelling hierbo – “volgens die Bybel” – is Matt 5:31-32, waar daar staan dat as iemand sy vrou skei om enige ander rede as owerspel, hy veroorsaak dat die vrou egbreuk pleeg, en wie met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk. In Matt 19:9 word bygevoeg dat die man wat sy vrou skei, behalwe oor owerspel, sélf ook egbreuk pleeg. In Mark 10:11-12 word ook na die vróú verwys – as sy van haar man skei, bedoelende: as sy die oorsaak en inisieerder van die egskeiding is en weer trou, dan is sy ewe skuldig aan egbreuk. Man en vrou word dus hier op gelyke basis verantwoordelik gehou vir die huwelik.

Ons het hier ‘n paar beginsels omtrent die huwelik wat neergelê word deur Jesus: 1. Die huwelik is in sy wese ‘n permanente verbintenis; 2. Die man wat sonder grondige rede (owerspel) van sy vrou skei, pleeg egbreuk; 3. Die man wat só van sy vrou skei, veroorsaak dat sy vrou ook egbreuk pleeg en dat enigiemand wat weer met haar trou, ook egbreuk pleeg (omdat in die oë van God die eerste huwelik na regte nog bestaan); 4. Vir die vrou geld dieselfde as sy die inisieerder van die egskeiding is.

 

Met hierdie uitsprake wou Christus nie mense se lewens onmoontlik maak wat deur egskeiding geraak is nie, maar wou Hy orde skep in die destydse klimaat waar mans – en soms ook vroue – sommer ligtelik van hulle vrouens geskei het. Hy belig weer die oorspronklike bedoeling van die huwelik – ‘n permanente lewenseenheid wat ernstig geneem moet word – en verder neem Hy in die besonder die vrou in beskerming. Sy is dikwels in ‘n onmoontlike situasie ingedwing deurdat die man haar sonder enige geldige rede geskei het. Om te kon oorleef, moes sy weer so gou as moontlik trou. En dan, sê Jesus, word sy eintlik in ‘n staat van egbreuk ingedwing wat sy nie gewil het nie. Die onus vir ‘n gelukkige huwelik is dus net soveel die man se verantwoordelikheid as die vrou s’n.

 

Die punt van Jesus se uitsprake is dus om die heiligheid van die huwelik as Goddelike instelling te beskerm sodat daar nie op ‘n ligtelike en ligsinnige manier mee omgegaan word nie. En natuurlik om die sondige en liefdelose praktyke van mense – selfs godsdienstige mense! – aan die lig te bring. Ons leef egter in ‘n gebroke werklikheid. Waar ‘n egskeiding wel plaasgevind het – om watter rede ook al – en daar ‘n tweede huwelik tot stand kom, word egpare vanuit bg uitsprake van Jesus opgeroep om hulle lewenspad in oënskou te neem, dit te belig in God se liefdeswil, daaroor in berou belydenis te doen soos nodig, en vervolgens die nuwe huwelik te koester en tot eer van die Here daarmee om te gaan. Die egpaar hoef nie te voel dat hulle nuwe huwelik vanweë die foute van die verlede gedoem is tot mislukking of in sonde voortbestaan en dat mens glad nie God se seën op die huwelik kan vra of verwag nie. As daar opregte belydenis van skuld by ons is en die hartlike begeerte om na sy wil te lewe, dan vergewe God ons sonde en stel Hy ons vry in ‘n nuwe lewe wat ons tot eer van Hom moet lewe. Dis alleen die verharding van harte en volharding in die sonde (in hierdie konteks: onverantwoordelike skei en trou, skei en trou, skei en trou) wat veroordeel staan deur God. Maar wanneer die hartseer van egskeiding ook in die lig van God se wil en genade hanteer word, en die nuwe huwelik aanvaar word uit sy hand, kan die egpaar ook hierdie nuwe lewenspad loop met die volle vertroue dat hulle die seën van die Here kan verwag.

 

 

1.2        Al is die huweliksbelofte in die kerk afgelê, was die man volgens God se wette steeds verbind aan sy eerste vrou. Sou so ‘n huwelik in die skeihof eindig, die vrou vra en kry vergifnis en sy ontmoet ‘n man wat in die Here is; sou sy vry wees om te trou?

 

Die vraag is in beginsel reeds geantwoord by 2.1 hierbo. As die beginsels en riglyne wat hierbo gestel is, gevolg word, is daar geen rede waarom so iemand nie vry is om weer te trou nie. Maar dit gaan nie daaroor om maar net die “wetsbepalings” streng te volg en dan is alles weer reg nie. Daar moet veral aan die gees van die wet voldoen word. Die wetsbepalings is eintlik net daar vir dié wie se harte hard is (Matt 19:8).

 

As die gees van die wet rakende huwelike uitgeleef word, dan word die intieme liefdesband tussen man en vrou in die huwelik eerbiedig, en dan word die huwelik as ‘n permanente lewensverbintenis waar man en vrou mekaar in liefde ondersteun, uitgeleef. Egskeiding is dan hoogs uitsonderlik, en wanneer ernstige probleme ontstaan waar egskeiding ‘n moontlikheid is (bv weens owerspel), moet hard probeer word om eers versoening te bewerkstellig. (Let wel: owerspel verplig nie tot egskeiding nie, maar is hoogstens ‘n toegewing as dit nie anders kan nie. Vir Christene is die eerste opsie egter altyd om te kyk of versoening, restitusie en herstel nie moontlik is nie.) Verder volgens die gees van die wet: wanneer ‘n huwelik onherstelbaar verbrokkel het en daar wel egskeiding plaasvind, word nie gevra of daar formeel aan bepaalde reëls voldoen is voor ‘n tweede huwelik kan plaasvind nie, maar word ‘n tweede kans met dankbaarheid uit die hand van die Here ontvang en word daar met hernude toewyding aan die tweede huwelik gewerk. En dié pad word ook met die hulp van kundiges in huweliksberading aangepak sodat die nuwe paartjie as mense wat waarlik vrygemaak is van die verlede die tweede huwelik kan aanpak.

 

Ten slotte, indien bg vraag (vry om weer te trou?) voortspruit uit ‘n werklike situasie, stel ek voor dat die betrokkenes die hele saak van A tot Z deurpraat met ‘n kundige en vertroude huweliksberader sodat daar afsluiting van die verlede en toewyding aan die nuwe huwelik kan plaasvind.

 

 

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl