Ek cope nie meer nie: Doemprofeet, dis my naam – Jan van der Watt

image_pdfimage_print

“Sien julle, ek het julle gesê!”

Op die graf van Doemprofeet gaan eendag staan: “Sien julle, ek het julle mos gesê!” Ons almal ken mense wat altyd die bob­bejaan agter die bult gaan haal en altyd net die slegste ver­wag. As ons so ’n bietjie in hulle kop kan inklim en luister na hul­­le selfgesprek sal ons byna in elke sin hoor: “Sê nou net dit of dat … ” of “Wat as dit of dat … ” Die “dit of dat” is dan gewoonlik altyd die slegste of ergste wat kan gebeur. Hulle wil nie op vakansie gaan nie, want wat as diewe by die huis gaan inbreek? Hulle wil nie by mense gaan kuier nie, want wat as die kar breek of die verkeer druk is? Hulle kinders mag nie by ander kinders gaan speel of oorslaap nie, want “Sê nou net … ”

’n Mens hoef nie ’n spesialis te wees nie om agter te kom dat hierdie mense se lewe deur hulle negatiewe houding en vre­se toe­­ge­spin word. Hulle word hulle eie gevangenes, toe­gesluit agter die tralies van vrees en oorweldig deur die gevoel dat hulle nie in die lewe cope nie, tensy hulle weghardloop vir al die gevare in die lewe.

Daar is die verhaal van ’n reisiger wat iewers in die Ooste op ’n hofsaak afgekom het. Die koning het die beskuldigde skuldig bevind en ter dood veroordeel. Maar toe sê hy aan die beskuldigde: “Ek gee jou ’n keuse. Wil jy onthoof word hier voor almal, of kies jy om deur my donker, swart deur te gaan?” Die beskuldigde kies toe om voor almal onthoof te word. Net voor die reisiger ’n paar dae later weer vertrek, vra hy vir die koning hoeveel mense al gekies het om deur die donker swart deur te stap.

“Nie een nie,” sê die koning.

“Maar wat lê agter daardie deur?” wou die reisiger nuuskierig weet.

“Vryheid,” antwoord die koning.

Hoe belangrik is die les van hierdie verhaal nie. Die onbe­kende maak ons bang; so bang dat ons dikwels die “dood” in plaas van “vryheid” kies. Op hierdie vrees teer Doemprofeet. Doemprofeet sal vir almal die verskriklikste dinge vertel wat agter die donker swart deur lê en dit ook nog glo. Maar dikwels lê daar iets beters agter die deur.

Jy kan van kleins af leer om negatief te wees

Mense met hierdie soort selfgesprek word gewoond om altyd die heel slegste moontlikhede uit te grawe. Dit lê in die manier waarop hulle gewoond geraak het om met hulleself te gesels. Daar is baie redes waarom sulke mense so negatief is en hulle oor alles bekommer. Ons kan ter illustrasie net na een so ’n rede kyk.

Dikwels gaan dit terug na hulle kinderdae. So ’n per­soon kon in ’n huis grootgeword het waar die ma die arme kind altyd teen alles gewaarsku het (die oorbeskermende ma van vroeër). Hy moes net keer of die wêreld met al die gevare en goggas sou hom insluk. Toe die kind vir homself begin dink het, kon hy nie anders nie as om ook maar bang te wees vir al die gevare en goggas waarvan sy ma altyd gepraat het. Hy is dus gekondisioneer om altyd die slegste of die lelikste of die ne­ga­tief­ste raak te sien en hom daaroor te bekommer. Deur die oë van daardie persoon is die wêreld nie ’n vriendelike plek waar jy jou lewe kan geniet nie, maar ’n gevaarlike plek wat jou bang, of ten minste onrustig, maak. Die lewe sal dan nie regtig meer vir jou lekker wees nie, want dit sal vir jou die groot, donker bedreiging word wat jou die hele tyd van jou vreug­de en plesier wil beroof.

Doemprofete soek net fout

Die slegste van alles is die houding van Doemprofete: hulle is soekers na die dinge wat hulle voorspel het verkeerd sal gaan. Hulle soek gedurig na bewyse dat wat hulle gesê het verkeerd sal gaan, regtig gaan gebeur. Voor die vakansie sal hulle vir jou breed­voerig inlig oor alles wat verkeerd kan loop. Sodra die vakan­sie begin, begin die soektog. Daar word haarfyn gekyk of daar nie iets verkeerd loop nie. En laat iets net verkeerd loop,  is die res – wat miskien meer positief oor die vakansie was – almal in die moeilikheid. Dan hoor almal: “Sien julle, ek het mos gesê.”

Ons almal weet Doemprofeet sal wel een of ander tyd iets kry waarna hy gesoek het, want dit kan nie net altyd goed gaan nie. Dan is dit “Profeet op sy beste”. Betwyfel dan net weer sy negatiewe denke en jy sal helder en duidelik herinner word: “Onthou jy nog daardie keer … ek het mos gesê.”

So ontstaan ’n bose spiraal van selfgesprek by Doemprofeet. Die ding wat nou uiteindelik verkeerd geloop het, bevestig Doemprofeet se vrese. Dit laat hom glo sy negatiewe ver­wag­tings is reg; hy het mos nou ’n bewys gekry. Hy verloor gelei-delik sy vermoë om raak te sien dat die meeste van sy profesieë nie waar geword het nie. Die dinge wat reg loop, word stilletjies verswyg, maar die enkele ding wat verkeerd loop, word in hoofletters onder elkeen se neus gevryf.

Doemprofete betaal vooruit vir hulle vrese

Sulke mense betaal dus die heeltyd vooruit vir hulle vrese. Hulle is sommer al depressief voordat iets nog gebeur het, of vies voordat die ander persoon nog eers weet waarom. ’n Groot deel van hulle emosionele lewe word beheer deur hierdie spo­ke wat voor hulle opdoem van wat moontlik verkeerd kan loop. Teen daardie vrese en angs waarvan hulle hulself in hulle self­­gesprek oortuig, veg en stry hulle.

In hulle selfgesprek word hulle soos die seuntjie wat bang is vir spoke. Voor hy gaan slaap, vertel sy ma vir hom dat die spoke maar net in sy kop is. Hulle is nie regtig nie. Sy sit die lig af en voor sy nog in die sit­kamer terug is, kom die gil: “Ma, help! Die verduiwelse spoke het nou al weer almal uit­geklim en loop in my kamer rond.”

Negatiewe selfgesprek doen dit aan ’n mens. Dit laat spoke wat nie regtig daar is nie, oral om jou rondloop. Teen hierdie spoke veg jy dan. Dink net hoeveel energie, lewensgenot en ple­sier gaan in die geveg verlore. Die slegste is, dit is jóú lewens­geluk en energie. Natuurlik kom hulle in die meeste gevalle te laat agter dat hulle verniet depressief of vies was … maar dan is die prys klaar betaal.

Doemprofete maak dit swaar vir hulle gesin

Dit is natuurlik alles behalwe aangenaam om saam met so ’n persoon in een huis te woon. Met elke voorstel wat jy maak of ding wat jy wil doen, moet jy luister na ’n lys dinge wat ver-keerd kan loop. As jy ’n positiewe opmerking maak, word jy met tien negatiewes bestook. As jy sê: “Ek sal vanaand vroeg by die huis wees sodat ons lekker kan kuier,” dan hoor jy hoe jy in die verkeer gaan vassit, of by die werk weer iets anders gaan kry om te doen net as jy wil loop, of wat ook al. Teen Doemprofeet kan jy net nooit wen nie. Om dit so te stel, jy word deur die negatiewe denke van Doemprofeet die hele tyd onder druk geplaas en selfs so ’n bietjie van ’n leuenaar gemaak: “Jy sê nou so, maar ek weet … ” (net die slegste gaan gebeur en jy gaan nie doen wat jy sê nie).

Die positiewe wat jy beplan of verwag, gaan nie gebeur nie. Jy is nie die profeet nie, maar Doemprofeet is en daarom moet jy sommer by voorbaat weet jy is verkeerd. Dit laat baie van die pret en avontuur uit die ou lewe verdwyn.

Hierdie houding van Doemprofeet werk so negatief op an­der in dat ’n mens dit regtig nie kan bekostig om so iemand in die modder van sy of haar negatiewe denke te laat bly lê nie. Dit is ook nie nodig nie. Dit kan verander, en die verandering is nie so moeilik nie. Dit is ’n kwessie van fokus. Twee persone kan by ’n tronkvenster uitstaar. Die een kan die sterre sien, die ander een die dik doringdraad. As jy op die regte manier begin kyk, sal jy byvoorbeeld besef dat daar nie werklik pro­bleme is nie, maar net oplossings, behalwe as jy natuurlik wil bly glo aan die probleme en niks daaraan wil doen nie. Die probleem sal net ’n probleem bly as jy nie na ’n oplossing wil gaan soek nie. Laasgenoemde is Doemprofeet se pad en as jy dié pad loop, gaan jy saam met jou probleem agter die  doring­draad van mismoedigheid beland. Maar as jy positief begin dink en verder kyk, sal jy die oplossing tussen die sterre vind.

Die Bybel het ’n positiewe boodskap

Die Bybel het ook ’n positiewe boodskap hieroor. As vrees klop en geloof maak oop, is daar niemand nie, want geloof verdryf vrees. Hoop sien sonskyn waar vrees skadu of storm sien; hoop streef na sukses waar vrees mislukking voorspel; hoop vertrou waar vrees wantrou. Daarom, waar daar hoop, vertroue en doelgerigtheid is, is daar nie vrees of die gevoel dat ’n mens nie cope nie.

Paulus skryf in die brief aan die Filippense dat hy in die tronk is en nie heeltemal seker is of hy lewendig uit daardie tronk gaan stap nie. Dinge het maar vir hom skeef geloop. Daar in die donker sel het hy alle rede gehad om baie negatief oor die situasie te voel. Maar wat skryf hy in so ’n situasie? Wees altyd bly in die Here, ek herhaal, wees bly (vgl. Fil 4:4, NAV). Hy sit nie op ’n knop en bekommer hom dood oor alles wat met hom gebeur het of kan gebeur nie; inteendeel, hy ervaar die vreug­de van die Here se nabyheid. Selfs in die tronk is die lewe vir hom lekker. En waarom? Omdat hy geleer het dat dit ’n mens nêrens bring om Doemprofeet te wees nie. ’n Mens moet jouself positief instel en positief dink. Jy moet weet waar jou krag lê. En doodgewoon die wete dat die Here naby hom is, stel hom in staat om vir alles kans te sien en alles te kan hanteer (vgl. Fil. 4:13). Luister wat sê hy oor selfgesprek in Filippense 4:8 (p. 646): Weet julle waaraan julle moet dink in plaas daarvan om julle te sit en bekommer? Dink aan dit wat vir God saakmaak … dinge wat God sal sê goed is.

As jy positief dink, sal daar nie plek vir die negatiewe gedagtes wees nie. En ons het mos vroeër gesien dat jy eintlik is wat jy dink. As jy positief wil wees, dink positief. Op dié manier sal jy die negatiewe denkpatrone breek.

Dit is egter makliker gesê as gedaan, omdat dit ’n le­wenspa-troon word om negatief te dink. Dit is soos spiraal:

Jy begin negatief dink …

Dan soek jy bewyse dat daar wel dinge verkeerd loop  wat jy natuurlik altyd sal kry en dit bevestig jou vrese.

Dan sê jy “Sien julle, ek het mos gesê,” en jy be-gin jouself glo dat dinge net verkeerd loop en

Jy begin optree soos iemand vir wie daar net ’n negatiewe sy in die lewe is.

Hoe meer jy so leef, hoe meer voel jy jy cope nie en hoe banger word jy vir alles wat verkeerd kan gaan.

 Hoe meer jy so bang begin raak, hoe meer begin  jy negatief dink.

image_pdfimage_print