Ek cope nie meer nie: Ek dink ek maak dit nie, maar hoe weet ek regtig? – Jan van der Watt

“Ek cope nie,” is sommer’n hele mond vol

Wanneer jy sê dat jy nie cope nie, kan jy van ’n hele klomp din­ge tegelyk praat. Om nie te cope nie beteken jy voel dat jy nie meer beheer oor jou lewe het nie. Dinge glip uit jou hand uit en dit begin jou bangmaak. Dit voel of ’n donker hand jou begin vasdruk. Jy probeer, maar dit is of dinge nie wil beter gaan nie. Daar is ’n ongemaklike gevoel wat jou nie wil los nie en jy begin stres. Jy raak al meer gespanne en voel ook depressief. Later begin jou bors toetrek, jy kry hartkloppings en slaan in koue  sweet uit. Jy begin ’n angsaanval kry wat jou nog meer laat voel asof jy beheer verloor.

Voor ek verder gaan, moet hier net ’n belangrike onderskeid gemaak word. Daar is ’n verskil tussen die vrees, stres of angs dat jy nie meer so goed cope nie en ’n angsversteuring. Met angsversteuring word verwys na ’n siektetoestand. In angsversteurings is die angs en vrees buite beheer, baie intens en duur vir lang tydperke. Angsversteurings beïnvloed die betrokke persone se lewe baie nadelig. Daar is verskillende vorms van angsversteurings wat in hoofstuk 6 bespreek word. Dit sluit toestande in soos paniekversteurings, algemene angs­versteurings, sosiale fobie, gewone fobie, obsessief-kom­pul­sie­we versteurings en post-traumaties stres-versteurings.  Hier­die verskillende toestande het almal spesiale eienskappe en moet deur ’n geneesheer hanteer word. Gelukkig is daar goeie behandeling vir hierdie toestande en is die geneesheer in staat om hierdie mense effektief te help.

Om te sê jy cope nie, beteken dus om van ’n klomp dinge te praat wat oorvleuel, soos stres en angs, depressie en ver­slawing en so aan. Dit beïnvloed jou in jou totaliteit.

Depressie

Kom ons kyk na depressie. Seker 50% mense wat voel dat hulle dit nie maak nie en dus nie cope nie, ontwikkel  (reak­tiewe) depressie. Dit mag selfs wees dat die depressie maak dat hulle nie cope nie. Dié bose spiraal kan ’n mens insluk. Mense met depressie voel leeg en sonder hoop. Hulle is neer­slagtig en niks is meer regtig vir hulle lekker nie. Die lewe is sonder plesier. Hulle voel hulle is ’n mislukking en hulle dink selfs aan selfmoord.

Veral godsdiens maak dit dikwels vir hierdie mense swaar. Hulle besef hulle het ’n probleem. Hulle voel neerslagtig en tree ook so op. Hulle is kortaf en nors omdat hulle nie goed voel nie. Boonop voel hulle die Here is nie daarmee tevrede nie. Hulle maak beloftes aan Hom om beter te probeer leef, maar die depressie wil net nie weggaan nie. Môre moet hulle maar weer op hulle knieë gaan, want daar is net te veel dinge waaroor hulle voel hulle God om genade moet smeek. So bou allerhande skuldgevoelens op. Om alles te kroon begin hulle fisiek ook probleme optel. Hulle slaap nie meer so lekker nie. As hulle wakker is, lê hulle en rondrol met ’n neerdrukkende gevoel en baie negatiewe gedagtes en hulle kan dan nie weer aan die slaap raak nie. Net voor opstaantyd raak hulle tog aan die slaap, en is dan doodmoeg as hulle moet opstaan. Met ’n groot gesukkel kom hulle dan orent, maar het geen energie oor nie. By die ontbyttafel is hulle nie honger nie, want dikwels verdwyn hulle eetlus. Omdat hulle moeg is en nie so lekker voel nie, konsentreer hulle ook nie so goed nie. Daarom sukkel hulle om te onthou en besluite te neem. Dikwels is dit vir hulle nog moeiliker om die besluite uit te voer. Hulle kan heeldag besig bly, maar aan die einde van die dag voel of hulle net mooi niks gedoen het nie.

Die verband tussen depressie en die gevoel dat die lewe vir jou te veel raak en jy nie meer cope nie, is meer as duidelik. Dit is soos karperde. Geen wonder dat sulke persone mis­moedig en bang raak vir die lewe nie.

Gelukkig is daar vandag medikasie wat help vir de­­pressie en die vrees dat jy nie cope nie (oftewel angs), sodat beide toestande deur een soort medikasie behandel kan word. Die trisikliese anti­­­depressante soos amitriptileen (Tryptanol) kal­meer die ge­moed, terwyl dit ook die depressie verlig. Net so help sekere van die selektiewe serotonien-heropname-inhi­bit­ore soos paro­xetine (Aropax) beide vir angstigheid en depressie.

Stres

Stres is nie noodwendig altyd sleg vir ons nie. Stres is die aktivering van ons primitiewe veg- of vlugreaksie. In primitiewe diere speel hierdie reaksie ’n baie belangrike rol, want die reaksie help die diere om te oorleef. Sou gevaar dreig, word hier­die reaksie geaktiveer en adrenalien vrygestel. Dit sorg dat hulle vinniger kan reageer: hulle oë is skerper, reaksies sker­­per en spiere soos vere. Hulle kan dus vinniger beweeg, vinniger reageer en hulleself beter verdedig of vinniger vlug. Die­selfde geld die mens. Daardie hol kol op die maag voor­dat ons rugby speel of eksamen skryf, help ons om beter te pres­teer. Dit hou ons op ons tone en help ons om ons doel te be­­reik. In hierdie gevalle is stres dus tot ons voordeel.

Maar as die situasie van veg of vlug te lank aanhou, ontwikkel jy probleme en jou liggaam en gees word negatief aangetas. Dit gebeur veral as dinge nie loop soos jy wou hê dit moet nie. Jy voldoen nie aan jou eie eise en reëls nie en dit maak jou gespanne. Jy begin tam voel, jou spiere begin pyn en jou kop word seer. Jy begin humeurig word en jou konsentrasie gaan agteruit. Jy begin voel jy verloor beheer en cope nie meer nie. Jou gedrag ly ook daaronder, want jy raak kortaf, vergeet dinge, en kry nie gedoen wat jy moet nie. Jy raak bang en onseker. Jy weet jy moet cope, maar jy kry dit nie so goed reg nie. As die stres buite beheer raak of onrealisties lank duur, kan jy van angs (vrees) praat. Jy voel magteloos en maar net ’n toeskouer van jou lot. Juis dit laat jou nog meer bang en on­­seker voel.

Alkohol en dwelms

Mense wat voel hulle verloor beheer oor die lewe neig nogal daarna om geluk in die bottel te gaan soek. Die alkohol mag aanvanklik help om hulle ’n bietjie te kalmeer en beter te laat voel, maar dit het op die lang termyn net katastrofiese gevolge. Dit hoef ons nie hier te bespreek nie. Dit is genoeg om te sê dat ’n oormaat alkohol ’n mens se lewe vernietig en jou verslae en alleen laat, om nie eers te praat van cope nie. Dit raak feitlik onmoontlik.

Soms vlug jongmense tussen twaalf en sewentien ook na dwelm­middels om hulle te help om te cope, veral as hulle dinge soos aanvaarding en liefde by die skool of huis mis. Eers moet dit hulle net help om die dag deur te sien, maar later raak hulle afhanklik daarvan. Dit vererger en kompliseer natuurlik alles. Daar is sekere veranderinge in kinders se gedrag wat as verklikkers kan dien dat hulle moontlik betrokke is by dwelmmisbruik, byvoorbeeld skielike slordigheid, of gebrek aan belangstelling in dinge wat hy vroeër lief voor was. Hierdie kinders kan ook neig om hulle te onttrek aan gesins­aktiwiteite. Hulle wissel vinnig van vriende en raak alleen­lopers. Hulle skoolprestasie wissel en soms is daar sterk wis­seling in hulle gemoedstoestand. Dit maak dit natuurlik nog moei­liker vir hulle om te cope. Boonop plaas dit ook dikwels buiten­gewone druk op die gesin.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt