Ek cope nie meer nie: Is dit ek of is dit die Here of dalk albei? – Jan van der Watt

Tot dusver is baie klem gelê op die feit dat ’n mens eintlik die skep­per van jou eie lewe en die waarmaker van jou eie drome is. Maar waar is die plek van God in jou lewe? Die Russe het ’n baie ou spreuk: “Hoop op God, maar probeer jou bes.” In Spreuke 21:31 (p. 1099) staan: “Ons kan hard werk en elke dag goed beplan, maar sonder die Here is alles tevergeefs.” God leef nie ons lewe namens ons nie, maar ons kan nie ons lewe suksesvol leef sonder Hom nie. God gee vir ons die vry­heid om ons lewe te leef en keuses te maak soos ons wil. Die rede is eenvoudig. Daar is eintlik nie baie sin in liefde wat nie die vryheid van keuse ken nie. God dwing ons nie, maar lei en vergesel ons. Hoewel ek deur my keuses my lewe vorm, wil God graag deel van daardie keuse wees. Hy wil graag in­spraak hê en raad gee in my selfgesprek. So help Hy om my lewe te vorm. ’n Mens kan jou dit so voorstel:

’n Man bly alleen in ’n woonstel. Hy skop maar elke aand sy skoene in die sitkamer uit en los sy baadjie op die bank. So leef hy slordig, maar rustig in sy woonstel. Dan trou hy. Na die witte­brood trek sy vrou in en wat hoor hy toe sy baadjie op die bank en die skoene in die sitkamer bly lê?

“Ou man, ’n baadjie en skoene hoort in die kas. Wil jy dit nie asseblief bêre nie?”

Die man moet nou besluit of hy na sy vrou wil luister of nie. Let mooi op: dit is sy keuse; sy vrou pluk nie die koekroller uit en wiks hom tot in die kas nie. Net so gee God raad en lei ons. Hy weet die beste en dit is goeie raad, maar ons volg dit dikwels nie. Tog forseer Hy ons ook nie. Ons moet kies.

Deur die keuses wat ons maak, sluit ons God dikwels uit ons lewe uit. As dinge dan skeef loop, is ons vinnig om God in te roep om te kom sorg dat dinge weer reggemaak word. Wat ons nie besef nie, is dat God nie werk soos ’n fee of towe­naar nie. Hy sal waarskynlik van jou verwag om self die gemors reg te maak, maar hierdie keer onder sy leiding en met gehoor­same en oop ore. Dit is wat bedoel word as gesê word dat God nie ons lewe vir ons leef nie. Ons is nie marionette nie. Ons is mense. Daarom behandel God ons nie soos marionette nie, maar soos mense.

Die voorreg om mens te wees veronder­stel verantwoor­delikhede; elke situasie stel jou voor ’n keuse, elke keuse voor die vraag na wat jy gaan kies; elke keuse voor die vraag na wie jy gaan luister.

Om dus te sê dat jy die skepper van jou lewensituasie is be­­teken nie om God uit te sluit nie, maar vir die Christen be­­teken dit juis om God in te sluit. Hy word die begeleier en ge­spreks­genoot in jou selfgesprek. Daar waar jy vir jouself vertel hoe die lewe is en wat jy moet doen, moet God by wees en sy opinie moet tel. Maar dit beteken ook dat jy nie die ver­ant­woor­de­likheid om jou lewe te leef op God sal afskuif nie. Jy moet nie in die versoeking val om God te blameer vir die vuil rin­ge op jou kraag as jy nie jou nek gewas het nie.

Die voorreg wat Christene dus het, is om saam met Jesus te kan droom, maar nie net te kan droom nie, maar ook te kan lééf. Luister net wat sê Paulus in Kolossense 3:1-2 en 16 (p. 656, 657, 659):

… (T)oe julle Christene geword het, het julle saam met Christus ’n nuwe lewe gekry. Tree asseblief nou op soos mense wat saam en vir die Here leef. Julle moet al meer so leef dat Jesus daarmee tevrede sal wees. … Spandeer liewer al julle tyd aan dinge wat vir Jesus belangrik is. Dink daaroor na, praat daaroor en doen dit! Onthou, julle waardes het verander toe julle Christene geword het …  Julle het ’n nuwe lewe gekry … Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word … En dit kan alleen so wees as julle alles doen asof Jesus elke tree saam met julle gee.

’n Christen se lewe hoef nooit sonder drome te wees nie, want jy kan saam met Jesus droom. Hy gee vir ons die kans om nuut te begin. Hy gee ook vir ons ’n doel in die lewe, naam­lik om ’n verskil in die wêreld te maak soos Hy dit gedoen het. ’n Mens maak nie net ’n verskil as jy iemand belangrik ge­word het of as jy soveel sukses be­haal het dat jy nie al jou geld kan tel nie. Nee, jy maak ’n groot verskil as jy vir iemand anders dié Jesus wys saam met wie jy jou lewe leef. Dit doen jy deur jou glimlag, jou mooi woor­de, jou skoon gedagtes.

Daarom moet ons miskien weer ’n keer na ons drome kyk. Wie wil ons in ons drome groot maak? Myself of die Here? Die Bybel sê dat ons die Here op sy gelukkigste maak as ons droom daar­van om in die manier waarop ons teenoor ander op­tree ’n verskil te maak; ja, so ’n verskil te maak dat hulle  Jesus in jou raak sien en beter leer ken.

Wat is die mooiste droom wat ons kan droom?

Sou dit nie miskien ’n goeie idee wees nie om te begin droom van Jesus wat na jou kyk met ’n mooi glimlag,’n glimlag wat vertel van die mooi wyse waarop jy vir Hom leef. ’n Glimlag omdat daar in jou lewe liefde in plaas van haat is; ’n glimlag in plaas van ’n frons; mooi woorde in plaas van vernietigende kritiek; vergifnis in plaas van wrok; hulp in plaas van vernie­tiging; deursettingsvermoë in plaas van tou opgooi.

Het jy al ooit gedroom dat jy so wil wees? Droom dit en wees dit, want dit is ’n droom wat nie alleen jou lewe van ’n dor woestyn in ’n feëtuin sal verander nie, maar ook ander se lewe sal verfraai. Die droom, sê die Bybel, lê nie buite ons be­reik nie; tog is dit die mooiste droom wat jy kan najaag. Onthou, die beste manier om daglig te spaar is om dit te gebruik, ver­al om jou drome te verwesenlik.

As Christene het ons natuurlik ’n verdere voorsprong. As ons regtig voel ons het misluk en dat ons nie verder kan nie, is Jesus se helpende hand altyd daar. Hoor wat sê Jesus:

“Voel julle moeg vir hierdie lewe?

“Knak julle knieë onder al die probleme en verant­woorde­likhede wat julle moet dra?

“Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie?

“Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe.

“By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek …

“Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef. Dit is nie moeilik om so te leef nie; om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy agterkom hoe lek­ker die lewe regtig kan wees” (dele uit Matt. 11:28-30, p. 51-52).

Iemand wat by die fontein van lewende water drink, sal nie dors word nie. Iemand wat struikel, sal nie val nie; nie as die Here naby is nie.

Bly positief, selfs te midde van dit wat vir jou na mislukking lyk. Iemand wat positief ingestel is, sal altyd die beste van ’n saak probeer maak, selfs al tref die slegste hom. Die optimis bly altyd ’n liggie sien waar daar miskien nie eers meer ’n kers is nie. Waarom moet die pessimis egter altyd hardloop om dit dood te blaas?