Ek cope nie meer nie: Moenie te gou dokter-dokter speel nie – Jan van der Watt

Omdat spanning en angs jou as totale mens affekteer, kan jy verwag dat daar ander siektes is wat dieselfde simptome as spanning en stres sal vertoon. Wanneer is dit nou angs en wan­neer nie? Vir die gewone man op die straat is dit onmoont­lik om hierdie onderskeid te tref. Indien jy dus van die simp­tome van spanning en angs vertoon wat hierbo genoem is en dit duur vir ’n langer tyd voort, is dit beter om ’n geneesheer te gaan besoek. Hy sal jou kan help om vas te stel wat die probleem presies is. Kom ons kyk net na ’n paar voorbeelde.

Lae bloedsuiker

Lae bloedsuiker is een van die siektes met soortgelyke simptome as stres. Indien persone met dié probleem suiker in­neem, verhoog die suikervlak in hulle bloed vinnig. Die lig­gaam reageer hierop deur oormatige insulien af te skei. Die insu­lien se werk is om die suikervlak in die bloed na normaal terug te bring. Dit lei daartoe dat die vlak binne ’n halfuur tot veertig mi­­nute nadat die suiker ingeneem is, baie vinnig en te laag daal. Die liggaam kom dan hierdie fout agter en wil ver­­goed deur te probeer om die suikervlak reg te stel. Baie adre­nalien word dan afgeskei om meer suiker te maak sodat die suiker­vlak kan styg. Die adrenalien het egter newe-effekte soos bloeddruk wat rondspring, bewerigheid, lighoofdigheid en angstigheid.

Lae bloedsuiker kom in verskillende omstandighede voor. Daar is skaars toestande waar daar ’n gewassie is in die selle in die pankreas wat insulien produseer. Ons noem hierdie gewas­sies insulinoom. Mense met die probleem kry gewoonlik lae bloedsuiker as hulle oefen of as hulle vas. Die alge­meen­ste oor­saak van lae bloedsuiker is egter reaktiewe hipo­glesemie of lae bloedsuiker. Die lae bloedsuiker ontstaan hier as ’n reaksie teenoor bloedsuiker wat aanvanklik te vinnig styg. Die pankreas skei te veel insulien af wat die bloedsuiker laag laat val. Dit word gevolg deur verhoogde adrenalienaf­skeiding om die suikervlak weer reg te stel. Hierdie gevalle van reaktiewe hipoglesemie kom gewoonlik voor ongeveer ’n half­uur tot ’n uur nadat suiker ingeneem is.

Skildklierprobleme

’n Ooraktiewe skildklier beïnvloed ons emosies en liggaam op maniere wat ons aan stres laat dink. Dit is so omdat die skild­klier se hormoon, tiroksien, die brandstof van die liggaam is: dit versnel al die liggaamsfunksies. Dit versnel die hartklop, dit verhoog die effek van adrenalien sodat die bloeddruk styg en wissel. Dit versnel die senuwee-effekte: ’n mens se konsentrasie wissel, jy raak bewerig, kan nie slaap nie, raak geïrriteerd en kort­gebonde. Dit klink baie na ’n angsaanval, maar is nie. Skild­klier­probleme kan akkuraat gediagnoseer word deur bloed­toetse en deur ’n skildklier-flikkergram.

Aritmie

Daar is ’n groep hartafwykings waar die primêre probleem ’n ab­normale elektriese beheer van die hartklop is, met die gevolg dat die persoon hartkloppings kry. Weens ’n elektriese kort­sluiting begin die hart baie vinnig klop en pomp nie so goed nie. Dit kan lei tot ’n val in die bloeddruk en simptome wat daarmee gepaardgaan, soos tamheid, duiseligheid en selfs be­noud­heid. Aritmie kan met toepaslike ondersoeke, onder an­dere ’n EKG en ’n 24-uur-Holter-EKG gediagnoseer word.

Epilepsie

Epilepsie is ’n toestand waar daar elektriese steurnisse in die brein plaasvind wat lei tot wanfunksie van die brein. ’n Tipiese grand mal epileptiese aanval is maklik om te herken. Die pa­siënt verloor sy bewussyn en kry trekkings van die spiere. Dik­wels word kontrole oor die urine en die blaas verloor en die pasiënt is geneig om sy tong te byt. Daarna is die pasiënt ge­­woon­lik baie slaperig. ’n Mens kry egter meer subtiele vorms van epilepsie waartydens ’n mens abnormale gewaarwordings ervaar soos abnormale reuk- of smaaksensasie of selfs ’n vreem­de gevoel dat jy nie heeltemal by is nie. Daar is ook die soge­naam­de temporaal-kwab-epilepsie waar daar net ’n minimale trek­king van die gesig of die oë is en waar die pasiënte byna outo­maties optree. Hierdie subtiele vorms van epilepsie kan moont­lik verwar word met simptome van spanning. Gespe­sia­liseerde toetse, onder andere ’n elektro-enkefalogram (EEG), kan help om hierdie toestand te diagnoseer.

Substansafhanklikheid

Mense wat angstig en gespanne is, is soms geneig tot sub­stansafhanklikheid. Aan die ander kant is dit ook voor die hand­ liggend dat mense wat oormatig alkohol of dwelmmiddels gebruik, toenemende angstigheid sal ervaar asook slaap­steurnis, bewerigheid en abnormale gedrag. Kafeïne, wat in koffie, tee en koladranke voorkom, is egter ook ’n groot sondaar as dit by angstigheid kom. Mense wat oormatig koffie en tee gebruik, kan angstigheidseffekte ervaar. Sou hulle om die een of ander rede nie hulle gereelde hoeveelheid koffie en tee in­kry nie, kan dit lei tot onttrekkingsimptome soos angstigheid, be­we­­righeid, hartkloppings en fluktuasie in bloeddruk.

Feochromositoom

Feochromositoom is ’n baie skaars toestand. Dit is ’n gewas in die byniere. Hierdie gewas lei tot oorproduksie van adrenalien. Oormatige adrenalien lei natuurlik tot ’n bloeddruk wat rondspring, bewerigheid, angstigheid; almal simptome wat met stres verwar kan word. ’n Spesifieke urinetoets en ander skan­dering­toetse kan vasstel of hierdie toestand moont­lik teen­woordig is.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt