Ek cope nie meer nie: Ou Skeidsregter, dis ek – Jan van der Watt

’n Fout sal ek kry, dis verseker

Iemand het eenmaal gesê: “My vrou is bly ek is nie perfek nie. Sy hou daarvan om fout te vind.” Daar is oorkritiese mense wat met alles fout vind. Hulle kop werk eenvoudig so. Hulle is soos skeidsregters. Al wanneer jy gewoonlik van ’n skeids­regter hoor, is as daar iets verkeerd is en al waarna hy soek, is foute. So kry jy mense wat dink hulle taak in hierdie wêreld is om met alles fout te vind en te kritiseer. Hulle is ge­durig besig om te beoordeel en te evalueer. Op die geringste fout sak hulle toe soos ’n klomp tieners op ’n bak roomys, en hul­le kritiek hou nie op voordat elke druppel afgelek is nie. Dis die tipe mens wat met die viering van hulle vyf en twintigste huweliks-herdenking met geboë hoof vir ’n minuut stilte sal vra. Alles is altyd verkeerd, vra maar net vir hierdie persoon: hy sal vir jou iets kan wys wat verkeerd is. Gee die persoon vir jou ’n kolletjies- en ’n gestreepte das vir Kersfees en jy sit die kolletjiesdas vir die Kersdiens aan, wil die persoon dadelik weet of jy nie van die strepiesdas hou nie. Nie die positiewe nie, maar die negatiewe staan altyd voor in die ry.

’n Ander se sukses is my neerlaag

Hoewel ’n mens nie heeltemal kan veralgemeen nie, is sulke mense gewoonlik maar onseker van hulleself. As jy by hulle selfgesprek kan gaan insit, sal jy hoor dat die eerste ding wat hulle gewoonlik doen as hulle iets hoor of as iets met hulle gebeur, is om te vergelyk. Hulle is so bang iemand is dalk beter as hulle. Daarom vergelyk hulle die hele tyd, en bewaar die persoon wat beter is, want as ander beter is as hulle, gaan dit hulle slegter laat lyk.

Die lewe is vir hierdie mense net nie meer eenvoudig nie. Hulle kan die lewe nie sommer net meer geniet vir wat dit is nie. Die lewe word vir hulle een groot stryd (of wedstryd) waarin hulle die hele tyd net moet keer dat hulle nie verloor nie. Dit is of hulle ’n figuurlike liniaal in hulle kop saamdra wat so lank is soos hulle eie vermoëns. As hulle iets van iemand hoor, meet hulle dit met daardie liniaal en alles wat langer is as hulle liniaal probeer hulle met die kritiek van ’n skerp tong afsny. Om te voel dat hulleself iets is moet hulle ander mense met hulle kritiek tot niet maak. ’n Ander se prestasie is dus vir hulle ’n neerlaag. Die skeidsregter sal mooi met jou kan gesels oor alles wat skeef geloop het. Dit is waarvoor hy gekyk en gesoek het. Maar het hy werklik die genot en prag van die lewenspel raak gesien?

’n Skeidsregter blaas ook teen homself

Daar is ongelukkig nog ’n ander sy ook; die van vernietigende selfkritiek. Hierdie mense is in hulle eie selfgesprek gewoonlik hulle eie grootste vyand. Hulle voel hulle doen nie goed genoeg nie; stel ander teleur en is maar in die verloorspan. Daarom kritiseer hulle hulleself gedurig, want hulle voel hulle is mislukkings en soek dan ook die redes daarvoor. Daarom het hulle gewoonlik ’n swak selfbeeld, want hulle voel nooit dat hulle goed genoeg is nie. Hulle is die hele tyd besig om vir hulleself wys te maak dat hulle nie eintlik is wat hulle moet wees nie en hulle glo dit ook. As jy vir so iemand vra hoe gaan dit met die nuwe baba, sal hy vir jou sê: “Hy lyk na my, maar is darem gesond.” Geen wonder dat so iemand nie kan cope nie. As jy heeltyd jouself afbreek, kan daar tog niks staande bly nie.

’n Skeidsregter vergeet dikwels van die Here

As Christene is ons nogal geneig om onsself tussen twee diewe te kruisig, naamlik “skuld vir gister” en “vrees vir môre”. Om-dat ons so skeidsregter speel, is ons so deeglik bewus van al ons foute. Ons kan nou maar eenmaal nie loskom van ons skuld van gister nie. Dit pla en ry ons. Ons voel altyd skuldig en dus nie goed genoeg nie. Omdat ons so bewus is van ons eie tekortkominge is ons ook onseker en bang vir die toekoms. Ons kry die gevoel van: “Jy flop so maklik; moet niks aanpak nie, want jy gaan buitendien flop. Dan oorweldig daardie ge­voel jou dat jy nie behoorlik cope nie. In die hele proses ver­geet ons van die Here. Dikwels jaag skeidsregters die Here van die speelveld van hulle lewe af. Ons vergeet dat ons nie tus­sen die twee diewe hoef te hang nie, maar dat Hy in ons plek daar gehang het. Hy het met die skuld van gister af­gereken. Ons hoef dit nie meer te dra nie. En die vrese van môre? Daarvoor sal Hy ook sorg, want Hy sal saam met ons daar wees. Die vrees sal jou nie kan oorweldig nie. Sy vrede gee Hy vir jou (vgl. Joh. 14:27). Moet dus nie die Here      se werk probeer doen nie. Vertrou Hom, Hy kan dit beter doen as jy.

Kritiek maak seer

Die mense wat skeidsregters is, is ook baie sensitief en fyn­gevoelig as iemand hulle kritiseer. Hulle voel al klaar dat hulle nie regtig die pyp rook nie. Nou kom ander dit nog invryf ook. Daarom reageer hierdie mense baie keer aggressief op enige kritiek. As hy kritiek hoor, hoor hy eintlik dat hy sleg is, en wie gaan homself dan nie verdedig nie? Kritiek, al is dit hoe goed bedoel, maak vir Skeidsregter seer en plaas hom op die ver­­dediging.

’n Eienskap van dié verdediging is dat dit eintlik buite ver­houding is. Die persoon wat die eerste opmerking gemaak het, voel dit gewoonlik die duidelikste aan, want die ander persoon reageer heeltemal anders as wat hy dit bedoel het. Dit is soos die persoon wat in ’n restourant instap en sê: “Sjoe, ek het tien maande gelede laas iets hier gehad,” en dan kom die antwoord van die kelner: “Wees geduldig; dit is my eerste aand hier en ek werk so vinnig as wat ek kan.”

Ek weet tog beter as jy

Om hulleself so ’n bietjie te probeer beskerm en hulle eie onsekerheid weg te steek is sulke mense dikwels die groot beterweters. Hulle weet altyd wat die beste of die grootste of die sterkste is, soos die twee wat oor krieket gesels het.

“Wat is jou hoogste telling?” vra Stefanus.

“Honderd en vyftig,” antwoord Loutjie.

“O, myne is honderd en sestig,” sê Stefanus. “En wat is die meeste paaltjies wat jy in ’n boulbeurt gevat het?”

“Nee,” sê Loutjie, “dit is nou jou beurt om eerste te ant­woord.”

Agter die bravade van beterweterigheid steek mense ge­woon­lik hulle eie vrese en onsekerheid weg. Dit gee vir hulle die gevoel dat hulle darem ook iéts is, al is dit net om te wys dat hulle van iets meer weet as die ander.

Skrywer: Prof Jan van der Watt