Ek cope nie meer nie: Verwesenlik jou drome omdat jy wil? – Jan van der Watt

Daar is twee of drie dinge wat ’n mens egter moet onthou as jy jou drome wil verwesenlik.

  • Geen mens is altyd net suksesvol nie. In die eerste plek moet ’n mens onthou dat geen mens net altyd suksesvol is en nooit ook met die mislukkings in die lewe te doen kry nie. Ons loop maar almal die pad van val en opstaan, selfs die grootstes onder ons. Dit moet jou nie moedeloos maak nie.

Beethoven het doof geword maar het ten spyte daarvan een van die wêreld se grootste komponiste geword. Walt Disney het verskeie kere bankrot gespeel voordat hy sukses behaal en sy droom verwesenlik het. Niemand wou Van Gogh se skilderye koop nie, en baie van hulle is in die asblik gegooi. Vandag betaal mense tot R500 miljoen vir sy skilderye. John Creasey het 743 notas gehad van uitgewers wat nie sy boeke wou uitgee nie en tog het hy die outeur van 564 boeke geword waarvan baie blitsverkopers was. Die spreekwoord bly waar: “Aanhouer wen” en “Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.” Dit kan van elkeen van ons waar word, mits ons nie te gou opgee nie. Teenspoed moet ons nie te gou ontmoedig nie.

Om die waarheid te sê, teenspoed moet jou sterker maak. Daar is eintlik nie teenslae nie; teenslae gee jou net nóg ’n geleentheid om te probeer om dinge reg te doen. Teenspoed kan van ons beter en sterker mense maak, omdat dit vir ons wys waar ons verkeerd gegaan het. Nou lê die lewe voor om daardie fout reg te maak en so groei ’n mens; as jy maar net wil. Ongelukkig lê daar te veel mense langs die pad van die lewe wat een stamp gekry het en dan maar opgegee het. Teenspoed kan so al jou drome en motivering uit jou uitstamp, maar alleen as jy dit toelaat.

Vir ’n Christen is dit eintlik nog makliker, want ’n Christen het ’n Here waarop hy kan steun. Dit beteken nie dat die Here net altyd sal sorg dat dit goed gaan nie. Hy gaan nie net heeltyd die klippe op ons pad wegrol nie. Nee, die Here verander nie heeltyd net ons situasie sodat ons nooit teenspoed of probleme kry nie. Hy verander ons om in die situasie daardie teenspoed en probleme te kan hanteer. Hy maak ons oë oop en ons gemoed skoon om al die wonderlike redes te sien waarom ons wíl; ja waarom ons wil lewe en iets van onsself wil maak. Die manier waarop Hy ons dus verander, is om vir ons hoop en drome te gee. Hy wil ons oë helder maak om die wonder van die lewe te kan sien. Hy wil hê dat ons weer ’n keer mooi na onsself kyk en sien wie ons is en dat Hy nie mislukkings maak nie; ook nie van jou nie (Hy het jou mos ook gemaak, nie waar nie). Daarom kan jy nooit ’n mislukking wees nie, tensy jy dit graag wil wees. Die Here maak ons soos ’n bergklimmer wat weet hy gaan gly of baie moeg word; maar hy weet ook dat hy die toppunt gaan bereik solank hy net sy oog op die toppunt van die berg hou en gemotiveerd volhard. Die Here gaan beslis nie jou lewe vir jou leef nie, maar Hy gaan jou help om dit te wil doen en dit dan te doen.

Lees net weer wat in Jakobus 1:3-4 (p. 750) staan:

 … (W)ees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid getoets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur hierdie dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil.

Teenspoed maak jou sterker en laat jou jouself, die Here en die lewe helderder sien. Maar dit kan ook die teenoor­gestelde uitwerking hê: dit kan jou in die modder van die lewe laat vasval sodat jy nie ’n tree verder kan kom nie. Maar dit gebeur as jy soos ’n baba net wil sit waar jy (in die modder­poel) sit en nie wil opstaan en uitstap nie, terugkyk en sê: “Nou weet ek waar’s jy, vieslike modderpoel! Nooit weer val ek in jou nie.”

  • Gaan ’n ooreenkoms met jouself aan oor jou ideale. Die twee­de belangrike ding as dit by motivering kom, is om met jouself ’n ooreenkoms te maak oor wat jy presies wil bereik. Stel vir jouself ’n doel. Jy moet met jouself afspreek wat jy wil doen of bereik. Jy kan selfs vir ander daarvan vertel; dit sal so ’n bietjie ek­stra druk op jou sit. Gee jouself genoeg kans om jou doel te bereik. Moenie te gou opgee nie, veral as dinge begin skeef loop. Hou by jou ooreenkoms met jouself.

Neem nou maar vir Koos. Hy was eens op ’n tyd ’n mooi afgeronde atleet; nou is hy nog net rond. Hy maak met homself ’n ooreenkoms: “Ek gaan gewig verloor” en hy begin oefen. Dit is nie so maklik nie, want na elke oefening voel hy of hy die energie het van ’n man twee maal sy ouderdom, maar hy gee nie op nie. Hy onthou al beroep waar ’n mens bo begin, is ’n grafgrawer. Die pad na sukses klim jy soos ’n leer, van onder af, trappie vir trappie. Hy hou by sy ooreenkoms met homself en byt vas tot die skaal op ’n mooi afgeronde getal staan; daar waar Koos dit graag wil sien. Koos het sy doel bereik, want hy het met hom­self ’n ooreenkoms gemaak; hy het ’n doel gehad om na te streef.

Maar daar was ook ’n ander pad wat Koos kon loop. As Koos die gevoel gekry het dat hy moet oefen, kon hy op die bed gaan lê het tot die gevoel weggaan. Maar so sou hy nooit sy doel bereik het nie. Motivering beteken juis om jou ooreenkoms met jouself na te kom, nie op die bed op die naat van jou rug nie, maar in die gimnasium. Moenie toelaat dat goedkoop tweedehandse “aandagaftrekkers” jou die pad laat byster raak nie. Koos moes gedurig veg teen die volgende: “Nee, dis nou ’n bietjie laat om te gaan oefen”, “Ek sal môre weer gaan”, “Dit was darem ’n harde dag”, en so aan. Dit maak die pad wat motivering moet loop moeilik en laat ons dikwels langs die pad na ons doel tot stilstand kom. Dink maar aan ’n atletiekwedloop: ’n atleet wat val of stop, wen nie som­mer die resies nie. As jy begin om te “stop” gaan dit vir jou al hoe moeiliker wees om weer te begin en aan te hou. Jou oor­eenkoms moet vir jou so sterk en belangrik wees dat niks in die pad daarvan gaan kom nie. Daarom is praktiese, simboliese dinge belangrik om jou op die pad te help. Ons maak te min gebruik van sigbare dinge om ons te help. As jy besluit om jou gewigs­probleem op te los en jy kom met jouself ooreen om dit te doen, maak dan iets simbolies daarvan, byvoorbeeld:

Sit vir jou langs die spieël ’n kleurvolle plakkaat waar jy elke oggend jou moeë, aan-die-slaap-gesig aan die gang pro­beer kry. Op die plakkaat kan jy byvoorbeeld skryf: “Goeiemôre, mooi, amper-maer Marie. Vandag is die dag waarop ons die vetjies gaan wys.” Onder dié woorde sit jy jou papiertjie waarop jy elke dag jou gewig neerskryf. As jy gewig opgetel het, dink jy terug aan die vorige twee dae se “sondes” en skryf dit neer. Dis jou vyande op pad na jou doel toe.

’n Ander moontlikheid is byvoorbeeld om vir jou ’n mooi (selfs duur) uitrusting vir die gimnasium te gaan koop. Dit is jou simbool van hoe ernstig jy oor die saak is. Jy moet amper voel dat die uitrusting só mooi en duur is dat jy nie kan bekostig om nie te oefen nie. Of jy kan ’n plantjie koop wat lief is vir water. Elke keer as jy van die gimnasium af kom, gooi jy dit nat, maar net dán. As die arme plantjie begin swaar kry van die dors, moet jy weet jou liggaam voel net so lus vir oefening.

Met sulke simboliese aksies, waarvan die voorbeelde hierbo net enkeles is, kan ’n mens jouself goed op die pad na suk­­ses help. Sulke dinge is jou bondgenote op die pad. Maar hierdie bondgenote is natuurlik net iets werd as jy jou aan hulle steur. Jou ooreenkoms met jouself moet dus wees om hierdie bond­genote van jou nie teleur te stel nie en nog minder jouself in die steek te laat. ’n Vaste afspraak met jouself is die wolk wat die sukses gaan laat reën. Die lewe het geleer dat daar een ding slegter is as iemand wat tou opgooi en dit is iemand wat nooit begin het nie.

  • Kry die regte adres. Derdens: ek het nog nooit van iemand gehoor wat by die regte adres uigekom het as hy nie ’n adres gehad het nie. Immers, jy moet weet wat jy wil hê om dit te kan kry. Daarom moet jy vir jouself duidelike doelwitte stel. Dit moet van so ’n aard wees dat jy dit duidelik kan meet, an­ders sal jy mos nie mooi weet hoe jy vorder nie. Dit moet am­per soos trappies in ’n gebou wees. Jy kan nie ’n verdieping van ’n gebou met een tree opklim nie. Maar as daar twintig trap­pies is, kan jy, en dan is dit nie eers moeilik nie. Mense gebruik gewoonlik die voorbeeld van ’n olifant om dit te illu­streer.

Jy kan mos nie ’n olifant met een hap opeet nie, maar as jy stukkie vir stukkie eet, sal jy uiteindelik die hele olifant op­ge­eet kry. Jy moet maar net aanhou en jou doel voor oë hou. Dit is egter belangrik om op die regte plek te begin, anders vorder jy dalk heeltemal te stadig of verloor jy dalk smaak vir die hele affêre. Begin reg, dink groot, maar gee klein, geduldige treetjies op pad na jou groot doel toe.

Neem byvoorbeeld die man wat ’n geselsie aanknoop met ’n boer wat op sy stoel sit:

“Hoe lyk dit dan met Oom se mielies?” vra die man.

“Nee, ou neef, ek het nie mielies ingesit nie, want jy weet mos die goggas vreet dit so vreeslik.”

“Wat van die skape?”

“Nee,” kom die antwoord weer, “ek het hulle al lankal weggemaak, want jy weet hulle kry mos afskuwelike wurms.”

“En die beeste?” probeer die man weer.

“Ag nee, ek probeer nie eers nie, want as dit nie reën nie, moet ’n mens so baie voer, en voer is duur.”

“Nou maar waarmee boer Oom dan?” vra die man.

“Met niks nie,” sê die oom. “Ek speel dit veilig.”

Ek wonder waar die oom na ’n jaar of twee gaan sit? Beslis nie op die stoep van ’n plaashuis nie, want sonder mielies of beeste of skape kan jy seker nie wins maak nie. So is dit in die lewe ook. Sonder ’n doelgerigte en beplande lewe sak jy stadig in die dryfsand van sinloosheid weg, al dink jy dalk jy “speel dit veilig”. Onthou, iemand wat die heeltyd maar op twee gedagtes sit en hink en pink kom dubbel so vinnig nêrens.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt