Ek gee my liefdegawes

There are far, far better things ahead than any we leave behind – C. S. Lewis

 Ek gee my liefdegawes

In Matteus 6:2 – 4 leer Jesus die mense hoe hulle hulle liefdegawes moet gee. Om armes te help, is ‘n konkrete vorm van geregtigheid. Ons  kry dit dwarsdeur die Ou Testament. Julle het die wingerde gestroop; wat van die hulpeloses geroof is, lê in julle huise. Wat besiel julle dat julle my volk vertrap en die hulpeloses verdruk? (Jesaja 3:14 – 15); Luister hierna, julle wat die armes vertrap, julle wat die mense in nood in die land wil uitroei … Julle verkoop arm mense vir geld, , behoeftiges oor ‘n paar sandale, julle verkoop selfs die koringkaf (Amos 8:4 – 6). Na die vernietiging van die tempel het die gee van liefdegawes die bring van offers vervang. Die gee van liefdegawes is gesien as ‘n teken van vroomheid.

 

Jesus kom nou en sê hoe ons ons liefdegawes moet gee:

  • Voorskrif: As jy byvoorbeeld armes help … Dit is iets wat ons moet doen.
  • Verbod: Moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat. Die sinagoges en straat is natuurlik plekke waar ek maklik raakgesien kan word. Hier val die fokus op die gewer en Jesus sê dat dit skynheilig is. Doen ek dit mislei ek myself en ander.
  • Bedoeling: Sodat mense met lof van julle kan praat. Om liefdegawes te gee is reg; om dit in die openbaar te gee, is ook soms geregverdig. Die vraag is: Hoekom gee jy? Is dit om die armes te help of om die aandag op jouself te vestig?
  • Beloning: Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg – reeds hier op aarde.
  • Alternatiewe voorskrif: Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly.  Maat hoe gee ek in die geheim. Jesus maak dit baie duidelik in Matteus 25:31 – 46 – as ek vir die armes gee, gee ek eintlik dit aan die Vader.
  • Jou Vader se beloning: Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Ons hoef nie iets te doen sodat almal dit kan raaksien nie, want God sien dit wat verborge is.

 

Dit is duidelik dat Jesus se belangstelling in die motivering is: Hoekom gee ek? Die kern van hierdie beginsel is: Voor wie staan ek wanneer ek gee – voor God of voor mense?