Ek is ten gunste van haat!

 

“Jesus first, others next, and yourself last spells J-O-Y.” ~ Linda Byler

 

Ek is ten gunste van haat!

Vandag kan ons feitlik enigiets doen mits ons net nie haat nie. Nou sê die psalmis vir ons: Julle het die Here lief, haat dan wat sleg is (Psalm 97:10). Die psalmis verwys hier na ‘n heilige haat. Dit is ‘n haat wat alles wat God se eer aantas, verag. Maar Jesus Christus het tog alle mense lief. Korrek, maar Hy het beslis die sonde gehaat. U het die reg lief en haat die onreg (Hebreërs 1:9)

 

God het ‘n heilige haat vir dubbele standaarde. Daarom het sy Seun ‘n sweep geneem en die handelaars uit die tempel verjaag. Dit was ‘n haat vir slawerny wat Wilberforce gemobiliseer het. Dit is haat vir  alkoholisme, dwelmverslawing, handel in kinders, ens wat ons moet motiveer.

 

Haat het ‘n morele doel. Daarsonder is dit nie heilige haat nie. Moraliteit vereis liefde vir wat reg is en haat dit wat verkeerd is.

 

Die vraag is nie of morele haat reg is of nie. Die vraag is: Wat is moreel? Hoe moet ons besluit wat verkeerd is. Die alternatiewe is duidelik: dit is die waardes van Jesus Christus teenoor die waardes van die wêreld.