Ek lees nie al die boeke van die Bybel nie

 

How far can salvation go? What are its limits and boundaries? Christ is our Saviour. How far is he able to save – ­Charles Spurgeon

 

Ek lees nie al die boeke van die Bybel nie

Ons verkies sekere boeke van die Bybel bo ander. Die Psalms is goed; Johannes laat ons harte warm klop; Esegiël en Openbaring maak ons deurmekaar. Een van daardie afgeskeepte boeke is Filemon. Meeste van ons weet net dat dit ‘n kort boekie is. Maar in Filemon kry ons ‘n prentjie van die werklike lewe – hoe die evangelie wortel skiet in die lewens van twee mense.

 

Hoe die evangelie in die lewens van Filemon en Onesimus uitgeleef word, gee aan ons ‘n visie van wat God in ons gemeenskappe wil doen.

 

 

  1. Ons wil sien dat baie “Filemons” radikaal vrygewige deelnemers aan die sending van God word.

Paulus het vir Filemon na Christus gelei tydens sy sendingreis wat Kolosse ingesluit het. Hy was ryk – hy het ‘n klomp slawe gehad. Ongelukkig het een van sy slawe – Onesimus – weggeloop. Hy het waarskynlik nog van Filemon se goed gevat. Onesimus loop hom in Rome in Paulus vas. Paulus doen wat Paulus doen en lei vir Onesimus na Christus toe. Hy vind uit dat Onesimus ‘n wegloperslaaf is en dat hulle ‘n gemeenskaplike kennis het – Filemon.

 

Die boek is eintlik die brief wat Paulus met Onesimus vir Filemon stuur. Paulus het vir Onesimus oorreed om na sy eienaar terug tegaan. Maar uit sy brief is dit duidelik dat Paulus ook ‘n verandering by Filemon verwag.

 

My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ‘n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons in Christus kan doen (vers 6). Filemon was ‘n geharde besigheidsman, maar hy is deur die evangelie in ‘n vrygewige man verander. Ons kan sê dat Paulus eintlik vra: “Watter vrygewigheid eis jou geloof van jou?” Die antwoord waarna Paulus soek, is die vrylating van sy slaaf.

 

Die sending van God sal vooruitgaan deur mense wat die implikasies van genade en vrygewigheid verstaan. Dit beteken dikwels dat wat ons gee en dien duur is. Ons kan net gee wat ons het, maar ons moet altyd onthou dat dit wat ons het God vir ons gegee het. Dieselfde genade wat Filemon verander het, is die genade wat die kerk moet verander. Ons is nie selfgemaakte mense nie. Ons is deur Jesus Christus se bloed gekoop. Dit maak van ons mense gevul deur genade.

 

  1. Ons wil sien dat die “Onesimusse”in ons gemeenskappe leiers word wat die wêreld verander.

Onesimus se slawerny is ‘n beeld van die slawerny van sonde waarvan ons almal slawe is. Ons is verslaaf aan sondige begeertes, afgodery, selfsugtigheid en baie ander dinge wat ons daarvan weerhou om leiers te word wat die wêreld kan verander. Paulus sê dat die evangelie jou vry maak om dit te wees wat God jou gemaak het om te wees – bruikbaar vir God se doel; deel van sy groter plan.

 

Baie mense is geneig om te glo dat hulle as gevolg van hulle verlede nutteloos is. Nie waar nie: God het ‘n plan vir jou. Onesimus het gedros en gesteel, maar deur die evangelie is hy verander en word die leier van een van die belangrikste gemeentes in die antieke wêreld.

 

Die evangelie kan harde besigheidsmense vrygewig maak en verslaafdes bemagtig. Dit laat ons bymekaar sit as broers en susters in God waar daar geen hiërargie is nie. Wat God met Filemon en Onesimus gedoen het, doen Hy steeds elke dag.