Ek stel jou aan as dienaar en getuie

. —C.H. Spurgeon

Ek stel jou aan as dienaar en getuie

In Handelinge lees ons drie maal van Paulus se bekering. In Handelinge 26:13 – 18 lees ons van Paulus se verdediging voor koning Agrippa. Hy vertel dan ook vir die koning van sy bekering. Wat verbaas is dat die Here met Paulus in Hebreeus praat. Die Here waarsku hom: Jy maak jou net seer deur jou te verset. Die Here beveel vir Paulus om regop te staan. Hoekom? Want Hy gaan vir Paulus as dienaar en getuie aanstel. Hy beloof ook dat Hy Paulus teen Israel en die heidennasies sal beskerm. Die Here sê nie dat Hy vir Paulus van alle probleme gaan vrywaar nie – Hy gaan hom beskerm en dit is meer as genoeg vir Paulus. Alles wat hy nodig het, sal hy ontvang.

 

Jesus Christus self stel vir Paulus aan as dienaar en getuie. Waarvan moet hy getuig? Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Hierdie is sy boodskap en hy moet niks van homself byvoeg nie. Maar hoekom stuur die Here hom na al die nasies toe? Jy moet hulle oë oopmaak sodat hulle van die duisternis tot die lig en van die mag van Satan tot God kan bekeer. Die apostels word uitgestuur in ‘n wêreld wat as gevolg van die sonde blind is

Hoekom moet Paulus hulle oë oopmaak? Sodat mense hulle van Satan tot God kan bekeer. Hoekom moet hulle hulle bekeer? Sodat hulle sondes vergewe kan word en hulle deel van die volk van God kan word. Deur in My te glo, is dit alles moontlik.

Paulus is geroep as dienaar en getuie met ‘n spesifieke opdrag en spesifieke instruksies oor hoe om dit te doen. Wat is ons as gelowiges se opdrag? Wees die Here se dienaar en getuie: Jy moet hulle oë oopmaak.