Ek stel uit.

 

The reason we come away so cold from reading the Word is because we do not warm ourselves at the fire of meditation. —Thomas Watson

 

Ek stel uit.

Ek hou daarvan om dinge tot op die laaste minuut uit te stel. Hoekom? Omdat ek dan beter onder druk sou werk!  Om uit te stel, is ‘n baie algemene probleem. Die probleem is dat dit mettertyd ‘n leefstyl word – hoe meer jy uitstel, hoe beter word jy daarmee.

 

Jakobus 4:17 sê: As iemand weet wat die regte dinge is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde. Maar as ons dan weet wat om te doen, hoekom doen ons dit nie?

  • Besluiteloosheid

So ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weê (Jakobus 1:8 – OAV). As ek besluitloos is, stel ek uit.

  • Perfeksionisme

As jy wag vir die volmaakte omstandighede gaan jy nooit iets gedoen kry nie. Jy het net nie tyd en geld vir dinge om volmaak te word nie.

  • Vrees

As ek bang is, stel ek dinge uit. Dink maar net hoe ons ‘n besoek aan die tandarts uitstel. Ek is ook bang om van my geloof by die werk te getuig.

 

Hoe kan ek ophou om uit te stel?

  • Hou op om verskonings te maak

Mense wat goed is met die maak van verskonings is selde goed met enigiets anders. Wat is die algemeenste verskoning om dinge uit te stel? Ek wag net totdat dinge rustiger is – die stof gaan lê het. Ons woon in ‘n samelewing waar die rotteresies hoogty vier. Dinge gaan nooit rustiger word nie.

  • Begin vandag

Wat jy ook al gaan doen, doen dit nou. Ons weet in ieder geval nie wat tussen nou en môre gaan gebeur nie. Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies (Spreuke 21:1). Ek sal dit een van hierdie dae doen – een van hierdie dae is nooit. Daarom doen dit nou.

  • Stel ‘n skedule op en bly daarby

If you fail to plan, you plan to fail. Skeduleer spesifieke tydsgleuwe vir spesifieke take. Die lewe is nie maklik nie. Druk deur die frustrasie en kyk wat jy wen as jy deur die pyn gegaan het. Kyk na die beloning en nie na die tydelike ongemak nie. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel (Galasiërs 6:9). Die verkeerde vraag is: “Wat wil ek graag doen?” Die regte vraag is: “Wat wil God hê, moet ek doen?”

 

Jesus het nooit gesê dat die lewe maklik sou wees nie. Die lewe gaan oor opoffering en toewyding, maar daar is ‘n groot beloning vir diegene wat deurdruk.