Ek is terneergedruk (6)

 

A man’s destiny on Judgment Day will depend not on whether hê has known God’s will but on whether he has done it – A. M. Hunter

 

Ek is terneergedruk (6)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike terneergedruktheid; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk 19 kyk.

 

Ons het gesien dat God vir Elia brood gegee het om te eet. Maar Hy gaan verder om sy dienaar te help.

 

  • ‘n Stem in die berge (19:9 – 13a)

Elia gaan na die berg van die Here. Wat gaan hier gebeur? Sal hy homself steeds bejammer en kla? Toe God hom vra wat hy daar maak, antwoord hy: Ek het my hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring. Elia se geheue is selektief. Hy glo halwe waarhede en bejammer homself.

 

God gaan hom nou weer aan sy mag herinner – Elia sal God se stem hoor. Elia gaan staan voor die Here. Daar was ‘n sterk wind en daarna ‘n aardbewing en ‘n vuur, maar die Here was nie daar nie.  Daarna volg daar ‘n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak. Hy gaan staan by die bek van die grot en hoor God se stem: Wat maak jy hier, Elia.

 

Hierdie gedeelte beklemtoon God se stil paaie. God verskyn dikwels, nie in die skouspelagtige nie, maar met ‘n fluistering in die stilte. God werk dikwels op sagte maniere. Soms gebruik Hy vuur, maar Hy werk ook stilweg deur sy woord en Gees in die harte van mense. Soek God in stil plekke. Wees alleen met Hom. Luister na sy woord. Dink na oor sy evangelie.

 

  • ‘n Visie vir die toekoms (19:13b – 21)

Geestelike terneergedruktheid is nie ‘n 24 uur virus nie. Om dit te oorwin, vereis meer as “neem twee Bybelversies en bel my in die oggend.” God vra weer vir Elia wat hy daar maak. Weer antwoord Elia Hom soos vantevore – dieselfde toespraak. Hy is onwillig om te verstaan en te verander – miskien wil hy nie verstaan en verander nie.

 

Te midde van sy terneergedruktheid praat hy ten minste nog met God. As jy ooit so terneergedruk is, moenie ophou om met God te praat nie. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde (Psalm 103:8). Ons sien God se genade duidelik: Hy gee aan Elia ‘n nuwe visie vir die toekoms. Dit sluit in ‘n opdrag en ‘n woord van bemoediging.

 

Sy opdrag is dat hy vir Gasel moes salf as koning van Aram en vir Jehu as koning van Israel. Daarna moes hy vir Elisa salf as profeet om hom op te volg. Die finale oorwinning oor Baäl het nie op Karmelberg plaasgevind nie. Dit sal deur ‘n stadige politieke proses wat tot na Elia se dood sou voortduur, plaasvind. Baäl sal nie deur Elia alleen oorwin word nie; dit sal ook nie in sy leeftyd gebeur nie.

 

Elia se taak was nie net om in die huidige ‘n goeie stryd te stry nie, maar om ander vir die toekoms voor te berei. God leer vir Elia, en vir ons, dat niemand onvervangbaar is nie. ‘n Nuwe opdrag lig ons dikwels op. So ‘n opdrag mag insluit om ander vir diens voor te berei. Ons moet goed veg in die huidige, maar ons moet ook ander vir die toekoms voorberei. Jesus het sy dissipels voorberei om die goeie nuus in die toekoms te versprei.

 

God gee aan Elia ‘n nuwe opdrag en ‘n nuwe vennoot. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.  Dit moes vir Elia nuwe krag gegee het. God se visie is nie net ‘n nuwe opdrag nie, maar ook ‘n versekering. Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie. God weet wie syne is. Elia was nie die enigste een oor in Israel wat God gevolg het nie. God bewaar sy mense totdat Jesus verskyn. Jesus het nou ‘n volk wat verkies is deur God se genade. Hierdie moet ons bemoedig. Ons moet weg van onsself kyk en na Jesus kyk.

Totdat ons Jesus van aangesig sien, moet ons na sy stem luister. Laat die heerlike toekoms wat op sy kinders wag ons aanspoor.

 

Wat ‘n wonderlike versekering. As ons terneergedruk is, kom God in sy genade en help ons weer op ons voete.